‘Speelgoedbiblioteek’ bring vreugde vir arm kleuters

Lizel Smith, bestuurder van die ‘Ons Winkel’ in Centurion, by van die klere wat geskenk is. Foto: Verskaf

Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkel in Centurion het ’n besige maand agter die rug nadat ’n berig oor dié winkel se liefdadigheidsbedrywighede in Desember op Maroela Media gepubliseer is.

Lizel Smith, bestuurder van Ons Winkel in Centurion sê die terugvoer ná die berig was oorweldigend. “Ons moes maar bontstaan om vir die skenkings plek te maak en uit te sorteer. Waar ons gewoonlik gemiddeld vyf tot ses keer per dag ’n skenking ontvang, het daar vir ’n paar dae lank sowat tien skenkings per uur ingekom. Selfs trourokke is geskenk,” sê Smith.

Smith sê die winkel het so baie klere ontvang dat hulle 700 sakke klere aan behoeftiges so ver as Brits en Alberton en ’n plaaslike weeshuis kon skenk aangesien daar nie plek daarvoor in die winkel was nie.

“Ons het ook baie breekware ontvang en ’n mens kan sien die manne het ʼn bietjie hul motorhuise opgeruim, want ons het baie gereedskap en hardeware ontvang. Ons het ook baie linne en gordyne van goeie gehalte ontvang. Van die kosbaarste items wat ons gekry het, is Delft-beeldjies en kristalbakke. Altesaam ses fietse is ook ontvang. Twee van dié fietse was splinternuut en is aan hulpbehoewende kinders geskenk.”

Smith sê daar is egter steeds ʼn groot behoefte aan speelgoed.

2) Rolspelers tydens Vrydag se uitdeeldag van speelgoed. Voor is Madelyn Swanepoel. Agter van links is Michelle Swanepoel, Forika Meissenheimer, Elsa Meyer, Anri Potgieter, Rina Potgieter, Annette Cunniff, Yolande Nel en Marlene Diedericks. Foto: Verskaf

“Ons Winkel in samewerking met Helpende Hand se Centurion-tak het in Februarie met ’n speelgoedbiblioteek begin om behoeftige kinders se lewens te verryk en hulle verantwoordelikheid te leer,” verduidelik sy.

Enige bruikbare en werkende speelgoed – van heel karretjies, skopfietse, balle en volledige legkaarte vir kinders van alle ouderdomme – word benodig.

Forika Meissenheimer, ondervoorsitter van Helpende Hand se Centurion-tak en koördineerder van die speelgoedbiblioteek, sê Helpende Hand se speelgoedbiblioteek het ten doel om speelgoed te verskaf aan minderbevoorregte kleuters in arm gebiede wie se ouers nie opvoedkundige speelgoed kan bekostig nie.

“Ons het verlede jaar ’n ruim skenking van ondersteuners in Nieu-Seeland ontvang en R10 000 daarvan aangewend om speelgoed vir dié inisiatief aan te koop. Ons het Vrydag die eerste klomp speelgoed by agt kleuterskole in die Danville-omgewing gaan uitdeel. Die poppe en karretjies gaan by dié spesifieke kleuterskool bly waar dit oorhandig is en tussen die maatjies geruil word om mee te speel. Maar die opvoedkundige speelgoed soos legkaarte, geheue-speletjies en kunsstelletjies gaan tussen die kleuterskole geruil word,” sê Meissenheimer.

3) Anri en Neels Potgieter van Tuindwergies Kleuterskool ontvang Vrydag van die speelgoed. Foto: Verskaf

En was die kleuters nie behoorlik opgewonde om dié speelgoed te ontvang nie! “Die ouers en kleuterskole kry finansieel baie swaar en elke item wat hulle ontvang kan ’n verskil in hul lewens maak,” sê Meissenheimer.

Mense wat die speelgoedbiblioteek wil ondersteun, kan Meissenheimer by 082 698 0032 bel. Speelgoed en ander skenkings kan ook by enige van die ses Ons Winkels in Pretoria – in Centurion, Moot-Oos, Pretoria-Wes, Pretoria-Noord, Sinoville en Silverton – afgelaai word.

Helpende Hand het tans altesaam 37 skenkingswinkels landwyd wat onder die vaandel van Ons Winkel handel dryf en werkgeleenthede skep. Ons Winkels maak dit vir die publiek maklik om alles wat tuis of in die kantoor oorbodig is uit die pad te kry.

Enigiets kan by dié winkels afgegee word – van CD’s, DVD’s, speletjies en ʼn stukkende grassnyer tot klere wat nie meer pas nie. Die ware word herverkoop en die winste word in die gemeenskap teruggeploeg om armoede te verlig.

Die winkels se adresse is:

  • Centurion: Bothalaan 86, Lyttelton Manor
  • Moot-Oos: Ben Swartstraat 961, Villieria
  • Pretoria-Wes: Van Der Hoffweg 272, Winkel 5
  • Pretoria-Noord: h/v Ben Viljoen- en Gerrit Maritzstraat
  • Sinoville: Zambesi-sentrum, Winkel 2
  • Silverton: Plantationstraat 289

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rikku ·

Onthou asseblief ook van die 600,000 mense in die huidige minder bevooregte plakkerskampe .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.