Speelgoedhondjie help visueel gestremde kinders met angs

lisa-visagie-deur-stefan-els

Dr. Lisa Visagie saam met haar gidshond. Een van haar vorige gidshonde, Pam, was die inspirasie vir haar navorsing wat kinders met visuele gestremdhede help om hulle angs aan te spreek. Foto : Stefan Els.

Angs is die algemeenste sielkundige probleem onder jong mense wêreldwyd, met gemiddeld 12% van skoolgaande kinders wat na berig word beduidende simptome van angs ondervind.

Hierdie statistiek is veral belangrik in terme van kinders met visuele gestremdhede omdat hulle na wat berig word meer as hul siende eweknieë geneig is om sielkundige probleme, insluitend angs, te ontwikkel.

“Om hierdie rede is dit belangrik om dié kinders met die nodige vaardighede en strategieë toe te rus ten einde gevoelens van angs te hanteer wanneer dit ontstaan; en só die begin van volslae angsversteurings te verhoed,” sê dr. Lisa Visagie wat onlangs haar doktorsgraad in sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf het.

Haar studieleiers was proff. Helene Loxton en Leslie Swartz van die US se Departement Sielkunde. Visagie beplan om na-doktorale navorsing aan die US te doen.

Visagie het ʼn spesifieke angs-intervensieprogram vir Suid-Afrikaanse kinders met visuele gestremdhede ontwikkel, geïmplementeer en geëvalueer.

Altesaam 52 kinders tussen die ouderdomme van nege en 13 jaar met wisselende grade van visuele gestremdheid by twee spesiale skole in die Wes-Kaap het aan die angs-intervensieprogram deelgeneem wat spesifiek op hul behoeftes gefokus het. Hulle is oor ʼn tydperk van tien maande gemoniteer waartydens hul angssimptome by verskeie intervalle geëvalueer is.

Visagie sê elke kind het ʼn sagte speelgoedhondjie ontvang wat haar eerste gidshond, PAM, verteenwoordig het. PAM staan vir ‘Positief en Motiverend’ en is ook die naam van die intervensieprogram. “My gidshond Pam het my lewe van 2002 tot 2015 op so baie positiewe wyses verander en ek hoop dat haar nalatenskap deur middel van die PAM-program en -metafoor voortgesit kan word,” het Visagie gesê.

Sy noem dat die speelgoedhondjie vir die duur van die program ʼn halsband met agt gelukbringertjies om sy nek gehad het om kinders te herinner aan die beduidende stappe en vaardighede wat hulle gedurende die program se tien sessies geleer het.

“In plaas daarvan om ʼn werkboek en geskrewe aktiwiteite aan te wend om kinders kognitiewe gedragsterapie (KGT)-vaardighede te leer, het die program ʼn tasbare sagte speelgoed-‘gidshond’ gebruik wat kinders kon vashou en voel. Ek het die metafoor van ʼn gidshond gekies omdat ek gedink het dit ʼn bekende simbool sou wees vir kinders met visuele gestremdhede.”

“Kinders is praktiese vaardighede geleer om hulle te help om hul gevoelens te identifiseer; om te leer ontspan; om nuttelose gedagtes te identifiseer en dit met meer nuttige gedagtes te vervang; en hoe om daaglikse probleme en uitdagings in die gesig te staar en te oorkom. Hierdie verskeidenheid vaardighede om angs te hanteer het kinders van ʼn emosionele gereedskapskissie voorsien wat hulle in hul alledaagse lewens kan gebruik.”

lisa-visagie-se-pam-hondjie

Die speelgoedhondjie met gelukbringertjies wat deel is van Visagie se PAM-program vir kinders met visuele gestremdhede. Foto: Verskaf.

Visagie sê die resultate toon dat die PAM-program belofte inhou vir die voorkoming van die ontwikkeling van angssimptome by kinders met visuele gestremdhede.

“Geen kinders wat sub-kliniese simptome van angs voor die begin van die PAM- program getoon het, het ná die program na die kliniese reeks (kinders wat met angsversteuring gediagnoseer word) geskuif nie. Ek glo dus dat met die nodige organisatoriese ondersteuning en kontekssensitiwiteit die PAM-program realisties gebruik kan word om veerkragtigheid te verhoog en bewustheid rakende angs as ʼn belangrike geestesgesondheidskwessie in kinders met visuele gestremdhede te bevorder.”

“Die opwindende aspek is dat die PAM-program ook byvoorbeeld nuttig kan wees vir kinders wat ongeletterd is of diegene met leerprobleme aangesien daar nie van kinders verwag word om enige materiaal te lees ten einde by die program se inhoud te baat nie.”

Visagie sê haar program probeer verbeter op bestaande KGT-intervensies wat ten spyte van sukses in die behandeling van kinders met angs ongelukkig nie geskik is vir kinders met visuele gestremdhede nie omdat die inhoud daarvan (strokiesprente, inkleurprente, ʼn werkboek en visuele-gebaseerde aktiwiteite) en wyse van aanbieding nie juis toeganklik is vir kinders met visuele gestremdhede nie.

“Ek hoop dat die PAM-program in die toekoms uitgebrei kan word om meer kinders wat dit nodig het te bereik en te help,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.