Speletjies is tops vir skoolgereedheid

skoolkinders.jpg

Foto: Argief.

ʼn Seminaar oor skoolgereedheid deur die VVOS is die afgelope naweek deur ongeveer 900 kleurterskoolonderwysers by Unisa in Groenkloof in Johannesburg bygewoon.

Die Vereniging vir Voorskoolse Opvoeding en Sorg (VVOS) is ʼn kleuterskoolvereniging wat poog om ʼn verskil te maak in die opvoeding van kleuters deur die bevordering van toepaslike praktyk gedurende die kleuterjare.

Die personeel by die seminaar kom hoofsaaklik van Centurion, Pretoria en die Rand, maar onderwysers van tot Senekal en Polokwane het dié geleentheid bygewoon.

Dr. Melodie de Jager, stigter van die ontwikkelingsprogram BabyGym, se bespreking oor skoolgereedheid het onderwysers weer laat besef waar die wortels van vroeë kinderopvoeding lê. “Daar is nie spesiale werkskaarte en oefeninge nodig om vaardighede by kinders te ontwikkel nie. Onderwysers kan kinders met outydse speletjies soos blokke bou, boomklim of fantasiespel die geleentheid bied om hul potensiaal te ontwikkel,” het De Jager gesê.

Die gehoor is ook uitgedaag om hul selfone weg te bêre vir sewe dae om bewusmaking van veiliger bestuursgewoontes aan te moedig. Daar is ook gepraat oor die insluiting van kinders met gestremdhede wat ʼn sterk moontlikheid is by hoofstroomkleuterskole met die hulp van nie-regeringsinstansies soos Diketo Inclusion.

Die Suid-Afrikaanse beleid wat vroeë kinderopvoeding betref, word einde Maart van krag. Dit beoog ʼn toekoms waarin kinders met ontwikkelingsagterstande en gestremdhede oor geleenthede beskik om deel te neem aan inklusiewe vroeë kinderopvoedingsdienste van voldoende gehalte, toepaslik ontwerp om die regte ondersteuning te verleen en sodoende te verseker dat hulle hul volle potensiaal bereik.

Die seminaar was ook ʼn geleentheid vir onderwysers om opvoedkundige materiaal vir hul klaskamers aan te koop, praktiese werksessies by te woon oor die uitleg van ʼn babaklas, die 101 aktiwiteite te leer ken wat met net ses boublokkies gedoen kan word, en in die selfgerigte dissipline van die kleuterjuffrou geskool te word.

Die volgende VVOS-seminaar word beplan vir 30 Julie. Rig navrae aan [email protected].

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.