Spesiale radiostasie vir kinders deur kinders

Foto: Pixabay

Die Rooikruis-kinderhospitaal in die Wes-Kaap se radiostasie vir kinders wat deur kinders aangebied word, die eerste van sy soort, tref binnekort die klankgolwe.

RX Radio, ʼn inisiatief van die hospitaal en die Suid-Afrikaanse lugredery Kulula, beoog om die eerste radiostasie wêreldwyd te wees wat deur kinders vervaardig en aangebied word.

Volgens ʼn verklaring van Kulula beoog RX Radio om kinders van die Rooikruis-hospitaal onder meer as aanbieders en vervaardigers op te lei om sodoende siek kinders in die hospitaal met behulp van dié stasie by te staan tydens hul tyd van hospitalisering.

Luane Lavery, ʼn woordvoerder van die lugredery, sê die maatskappy hoop dié radiostasie kan jong kinders se aandag van ʼn lang en moeilike siektestryd aftrek en hulle probeer bystaan deur pret te hê.

“Kulula is verheug om dié baanbrekersprojek te ondersteun as deel van ons korporatiewe maatskaplike beleggingsinisiatiewe. Dit is nooit maklik om in die hospitaal te wees nie en ons hoop dat dié radiostasie iets beteken vir pasiënte, ouers, gesondheidswerkers en ander kinders,” sê sy.

RX Radio gaan kinders die geleentheid bied om hul ervarings, bekommernisse en vrae met ouers, gesondheidswerkers en ander kinders te deel.

“Navorsing het bewys dat kinders hul siekte die stryd beter aansê wanneer hierdie soort gesprekke oor siekte gereeld plaasvind. Dit verbeter ook die algehele gesondheid van die kinders en bied toegang tot ontspannings- en leeraktiwiteite. Die gesprekke wat plaasvind leer verder ook ouers en gesondheidswerkers hoe om beter met kinders wat siek is om te gaan.”

kulula beplan ook om die uitbereiding van die hospitaal se bestaande onkologie-afdeling in die nabye toekoms te ondersteun.

Meer inligting oor RX Radio sal weldra bekend gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.