Spesiale vertoning vir demensielyer ná fliekgangers kla

Rhiannon Lewis (middel) en haar ma, Shirley (regs). Foto: Facebook

’n Spesiale vertoning van die rolprent Mamma Mia! Here We Go Again is Sondag in Newport vir ’n demensielyer van Wallis gereël om haar gunsteling-fliek in vrede te geniet ná klagtes van fliekgangers toe sy in dié musiekspel begin saamsing het.

Volgens Rhiannon Lewis van Cwmbran, Wallis, moes sy en haar ma, Shirley, noodgedwonge ’n fliekteater op haar ma se verjaardag in Julie verlaat toe fliekgangers van agter in die fliekteater kommentaar gelewer het tydens die vertoning.

Shirley ly aan vroeë stadium demensie.

’n Fliekbestuurder by die Cineworld-fliekteater in Newport, Wallis, het gevolglik vir die 68-jarige Shirley ’n private vertoning van haar gunsteling-fliek aangebied nadat Lewis hul nare ervaring by die Vue-fliekteater in hul tuisdorp in ʼn inskrywing op Facebook gedeel het.

Shirley is toegelaat om meer as 100 vriende asook ander demensielyers te nooi om saam met haar na hartelus ABBA-treffers in dié fliek saam te sing.

Mamma Mia! Here we go again

Lewis vertel dat die musiek van die rolprent haar ma, wat op 57-jarige ouderdom met demensie gediagnoseer is, kalmeer. Sy vertel dat Shirley se stres tydens die private vertoning “weggesmelt” het.

“Mense was vry om rond te beweeg. Daar was ʼn hele plaaslike tehuis wat saam kom fliek het. Hulle kon staan ​​en praat en kinders kon dans in die gangetjies. Vir daardie paar ure was sy nie verward nie. Sy kon net in die oomblik wees en vergeet van hierdie stryd waardeur sy daagliks moet gaan,” het Lewis bygevoeg.

Sy vertel dat fliekgangers geluide tydens die vorige vertoning gemaak het om Shirley te maan om stil te bly. “My ma was regtig hartseer. Sy wou nie die fliekteater verlaat nie en het net ‘nee’ geskree toe ons haar uit haar sitplek probeer kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nettie ·

Mense kan so ongevoelig wees oor toestande wat hulle nie verstaan nie.

Dementia, insluitende Alzheimer’s, is ‘n siektetoestand wat ek niemand toewens nie. Dit is ‘n algemene voorkoms in ons familie: my ma se oudste suster het dit en my ma begin ook reeds tekens daarvan toon.

Al hoe meer jonger mense word deesdae met die een of ander vorm van dementia gediagnoseer: iemand na aan my in die familie is net 52 en sy het reeds middelmatige ouderdoms-verwante dementia.

Vir die tannie was haar ervaring in die fliek seker 1 uit 100 en toe moet ander “normale” mense dit vir haar gaan staan en bederf. Maar miskien moes die gesin ook voorsiening kon maak dat sy ander mense kon verontrief …….. Ek is net bly dat die rolprent-teatermense hul weg oopgesien het om op dié manier vir die tannie ‘n …… ONvergeetlike ervaring te skep.

Blommie ·

Nettie dink nie mense doen dit altyd net om ongevoeloos te wees nie.
Dis tog nie dat die Tannie toe sy instap haar diagnose met mense gedeel het nie.
Mense praat meeste van die tyd uit onkunde uit en lewer kommentaar uit onkunde.
Dink beslis nie die mense het die Tannie probeer boelie nie.
Netsoveel reg as wat die Tannie het om te gaan kyk het die res van die mense ook reg daartoe, wat betaal het daarvoor. Maar dankbaar dis toe op n mooi manier uitgesorteer… Partykeer moet mense aan almal betrokke dink en nie net dadelik se die mense was onredelik nie. Dis soos n ouderdom beperking, ek kan nie my 6 jarige in n vliek vat wat se 16 en verwag almal moet stilbl terwyl ek vra om daai gedeelte te skip nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.