Spesialisdienste by Helpende Hand se eerste gemeenskapsentrum

Helpende Hand se maatskaplike werkers. Van regs: Liza-Marie Buys, Danielle van Rooyen, Michelle van Biljon, dr. Louise Aucamp, Christia Potgieter, Marina van der Merwe, Antoinette Deysel en Driana Zandberg.

Helpende Hand se maatskaplike werkers. Van regs: Liza-Marie Buys, Danielle van Rooyen, Michelle van Biljon, dr. Louise Aucamp, Christia Potgieter, Marina van der Merwe, Antoinette Deysel en Driana Zandberg.

Solidariteit Helpende Hand het vandeesweek geskiedenis gemaak met die opening van sy eerste Ons Sentrum-gemeenskapsentrum, wat met ʼn netwerk van maatskaplike werkers en kundiges se hulp gaan help om Afrikaner-armoede te verlig.

Dié sentrum wat geleë is in die sportsaal van die NG Kerk Onderstepoort in Pretoria-Noord, is die eerste van sy soort om verskeie maatskaplike dienste te lewer aan onder meer kinders wie se ouers of voogde nie finansieel daartoe in staat is om vir hierdie soort dienste te betaal nie.

Antoinette Deysel, hoof van Helpende Hand se maatskaplike dienste, verduidelik die doel van Ons Sentrum is om materiële, geestelike en kulturele armoede te verlig.

“Dié sentrum is vir ons ʼn voertuig om maatskaplike dienste te verskaf. Dit is die gemeenskap se sentrum en die krag van die gemeenskap is die brandstof wat dié voertuig gaan dryf,” het Deysel tydens die opening aan verskeie betrokkenes gesê.

“Nie net gaan die gemeenskap in die geheel hierby baat vind nie, maar ook individuele lede met veral die fokus op kinders. Op gemeenskapsvlak beplan ons om huwelikseminare en verskeie ondersteuningsgroepe daar aan te bied,” sê sy.

Volgens Deysel vat Helpende Hand hande met onder andere dr. Louise Aucamp van Forensic Assesment Consultation Training (FACT), Karyna le Roux, ʼn biokinetikus wat kinderkinetika aanbied, en ander kundiges om noodsaaklike dienste beskikbaar te stel.

Hannes Noëth, Helpende Hand se uitvoerende direkteur, spreek gaste toe tydens die opening van Ons Sentrum.

Hannes Noëth, Helpende Hand se uitvoerende direkteur, spreek gaste toe tydens die opening van Ons Sentrum.

“Hoofsaaklik gaan arbeids- en spraakterapie asook maatskaplike terapeutiese dienste, in samewerking met FACT, aan kinders gebied word. Dié dienste behels sosiaal-emosionele assesserings, spelterapie, bindingsterapie, ouerleiding aan ouers, asook interaksionele analise en terapeutiese dienste aan tieners. Die spelterapie behels egskeidingsberaad, rou- en smartberaad en traumaterapie, emosionele en kognitiewe regulering en hulp met sosiale vaardighede,” voeg Deysel by.

Deysel benadruk dat Helpende Hand se maatskaplike werkers nie statutêre magte het nie en dus nie forensiese assesserings gaan doen of kinderhofsake kan doen nie. Die maatskaplike werkers sal wel gevalle soos mishandeling en verkragting na die betrokke kinderbeskermingsorganisasies verwys vir verdere ondersoek.

“Die bestaande sportsaal sal steeds benut word en Karyna sal daar kinderkinetika aanbied om onder meer kinders se motoriese vaardighede te ontwikkel. Dit is egter nie net behoeftige kinders wat by al dié dienste baat kan vind nie,” sê sy.

Deysel verduidelik kinders en hul ouers sal deur ʼn verwysingsproses deur enige Helpende Hand tak kan aansoek doen om by die sentrum geholpe te raak, waarna ʼn assessering gedoen sal word om vas te stel of die kinders kosteloos gehelp kan word of verwys moet word.

“Vir volwassenes is daar drie predikante beskikbaar om te help met geestelike leiding, ondersteuning en pastorale berading,” sluit sy af.

Hannes Noëth, Helpende Hand se uitvoerende direkteur, het tydens die opening gesê die gemeenskapsaal en klomp kantore staan tans leeg, maar ’n mens moet dit sien as die begin van hoop, krag, geloofsvertroue en gemeenskapsontwikkeling.

Ernst Vorster, adjunkbestuurshoof van Solidariteit Helpende Hand, by die opening van Ons Sentrum.

Ernst Vorster, adjunkbestuurshoof van Solidariteit Helpende Hand, by die opening van Ons Sentrum.

“Ons is tans hier by die opening van niks en tog is dit die opening van iets geweldigs. Dit is ʼn reusetree vorentoe. Dit is die opening van ’n idee, van ʼn droom, van ’n begeerte en ʼn behoefte wat ons het en bowenal is dit die opening van iets wat ons glo in die geloof hoop sal bring vir ons mense. Dit is die droom van ’n gemeenskap wat glo in gemeenskapskrag om seker te maak dat almal vorentoe gaan en nie net diegene vir wie dit maklik is nie. Dit is die opening van toekomshoop,” het Noëth gesê.

Ernst Vorster, adjunkbestuurshoof van Solidariteit Helpende Hand, het op sy beurt gesê baie bevoegde en bekwame mense gaan die sentrum bedryf.

“Dit is vir Helpende Hand ʼn groot voorreg om ’n verskil te maak in die gemeenskap. Ons mense raak al hoe meer afhanklik en moreel agter want die staat verskaf nie meer die nodige dienste soos vroeër nie. Dit is daarom belangrik vir gemeenskappe om hulself te begin help,” het Vorster gesê.

Helpende Hand het tans agt maatskaplike werkers, waarvan vier by Ons Sentrum betrokke is. Noëth het egter gesê die plan is om in elke streek ’n maatskaplike werker aan te stel om aandag te gee aan die tekort aan dié noodsaaklike dienste en so te poog om mense te help om produktiewe lede van die samelewing te word.

Vir meer inligting skakel Helpende Hand se kantoor by 012 644 4390 tydens kantoorure of stuur ’n e-pos na [email protected] of besoek www.helpendehand.co.za/kontak-ons/ en vul die aansoek om hulp in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.