Speurders van die verlede

(Foto verskaf)

In die hart van Pretoria se middestad klop twee vroueharte sterk vir erfenisnavorsing en -bewaring. Hierdie harte behoort aan Freda Green en Liezel Smit, wat vir jare lank al vir die stadsraad van Tshwane se erfenisnavorsingsentrum, die Tshwane Heritage-navorsingsentrum, werk.

Hulle is meer as amptenare. Hulle is speurders wat die geskiedenis van die hoofstad opsoek, bewaar, lewendig hou, en vir die gemeenskap ontsluit.

Ek gaan besoek die sentrum op die vooraand van Internasionale Museumdag, wat op 18 Mei gevier word. Die sentrum vorm deel van die munisipale afdeling Kuns en Kultuur en beplan selfs ʼn foto-uitstalling van ou Pretoria vir die maand. Maar selfs op enige ander dag is hul hoek in die Es’kia Mphahlele-biblioteek ʼn besoek werd.

ʼn Vertrek vol wondere

Vandat ek my voet by die deur in sit, is ek omring deur erfenis. Ek bewonder Pretoria se oudste kaart, wat uit 1859 dateer en uitgestal word. Ook ʼn regte egte mylpaal van ouds, wat die afstand na Pretoria aangedui het. Daar is kaste en kaste vol koerantknipsels oor alles wat met Pretoria te doen het – van parke en natuurreservate tot woongebiede en restaurante.

Ek bekyk ook die notules van stadsraadsvergaderings, uitstallings oor interessante dinge soos die seremoniële sleutel van die eerste stadsaal en troffels om die bou van nuwe geboue te gedenk. Daar is uitstallings oor die kerkplein van ouds en van nou, asook meer moderne uitstallings wat maandeliks of elke paar maande vervang word.

Die Alexandra-gebou in 1913, wat vandag nie meer staan nie. (Foto verskaf)

Teen die mure pryk foto’s wat nog van glasnegatiewe af ontwikkel is en nou ook gedigitaliseer is, met beskrywings daaroor in ʼn bundel wat vir besoekers toeganklik is.

Ons gaan sit by ʼn tafel met koffie en koekies, omring deur bundels uit die verlede, kaarte, skilderye en telefoonboeke.

Telefoonboeke? Freda vertel entoesiasties hoe waardevol ʼn ou telefoonboek vir navorsing kan wees. “Ons oudste een dateer uit 1899. Mense wat navorsing doen oor ʼn ou huis, of watter gebou êrens gestaan het voor die gebou wat nou daar staan, vind die inligting in telefoonboeke, omdat adresse en die eienaars van daardie adresse so noukeurig daarin opgeteken is.”

Hartsaak word ʼn dagtaak

Die Tshwane-erfenisnavorsingsentrum se binneruim. (Foto verskaf)

Dié formidabele span het in 1997 reeds met digitalisering van inligting begin, maar nog tot 2010 die fisiese knipsels ook bewaar. Vandag hou hulle hul inligting elektronies by.

Liezel lees daagliks die koerante vir brokkies inligting oor die stad, versamel dit en bêre dit op hul elektroniese stelsel. Sy en Freda lees e-posse vir navrae, werk daaraan, skryf artikels vir ʼn kwartaallikse aanlyn tydskrif, besoek plekke en gaan neem relevante, meer onlangse foto’s.

Freda fokus veral op mirko-ontsluiting. Sy verduidelik dat sy al hul bronne stelselmatig deurwerk en in detail opteken wat in daardie boek of dokument verskyn. “Baie boeke se naam is bloot Pretoria. Ek gaan fynkam die boek en teken elke persoon, plek en gebeurtenis wat daarin voorkom op. As iemand dan inligting oor iets spesifiek soek, kan ons dit op die stelsel kry omdat dit so gekatalogiseer is.”

Sy indekseer ook die duisende foto’s om navorsing makliker te maak: Op daardie foto van kerkplein is die paleis van justisie, op daardie foto is die ou raadsaal. Op daardie een is daar ʼn ossewa en op daardie een weer ʼn kar. So beskryf sy elke element van ʼn foto en probeer om datums by al die foto’s te sit.

Hulle ontvang ook navrae uit die buiteland. Onlangs het ʼn student van Slowakye navorsing oor die verkeersuitleg van Pretoria in die 1960’s gedoen waarmee hulle kon help. ʼn Skotse man het weer navorsing oor ʼn Skotse argitek gedoen, wat die Law Chambers en die Alexandra-gebou op kerkplein ontwerp het.

“Hy het oral gesoek vir inligting oor die argitek en die Alexandra-gebou wat nie meer daar is nie – van universiteitsbiblioteke tot privaat instansies. Niemand anders kon hom help nie. Moedeloos stap hy toe op ʼn dag hier by ons in. Hy kon dit skaars glo toe Freda bevestig dat ons heelwat inligting oor die gebou het, en boonop foto’s ook. Dit het nuwe deure vir hom oopgemaak,” vertel Liezel.

Staaltjies span die kroon

Die lekkerste deel van hul werk is om interessante feite en stories oor mense raak te loop. Soos oor Loftus Versveld, die mens. “Die jong mense veral weet nie dat die rugbystadion na iemand vernoem is, of wie hy was nie,” verduidelik Liezel. “Hy word as die vader van rugby in Pretoria beskou. Op 26-jarige ouderdom het hierdie Kaapse prokureur by die Goede Hoop-span in Pretoria aangesluit. Saam met nog twee Kaapse spelers wat noord getrek het, het hy die verskeie rugbyklubs saamgesnoer om die Pretoria-klub te vorm. In 1908 is ʼn sportveld vir die klub aan Versveld toegesê. Toe hy in Mei 1932 dood is, is die gronde na hom vernoem.”

Liezel het ook onlangs navorsing oor die Hamman na wie Hammanskraal vernoem is gedoen, en het interessante inligting oor Myrtle Atteridge van Atteridgeville-faam.

Sy en Freda ontvang navrae oor plekname, geboue, en oor bome wat bewaar behoort te word. “Net nou die dag wou ʼn ontwikkelaar weet of hy die dennebome oorkant die hospitaal mag afkap. Nes geboue mag ou bome nie sommer voor die voet vernietig word nie. Toe moes ek begin soek. Op ou foto’s van die hospitaal kon ek nie goeie bewyse van die bome se bestaan kry nie en gaan kyk toe na foto’s wat van Meintjieskop af geneem is en daar sien ek die klein boompies sowaar. Die foto is in 1937 geneem, so die bome het beslis bewaringspotensiaal.”

Die bevrediging van bewaring vir die toekoms

Een van Pretoria se regte ou mylpale. (Foto verskaf)

Nie Freda of Liezel het gedink dat hulle op die ou end navorsers sou wees nie, maar hulle geniet dit regtig. Jare se ervaring gee vir hulle die kennis oor hoe en waar om te soek, want ʼn mens kry nie noodwendig wat jy soek op ʼn rekenaar nie.

Vir Liezel is die geskiedenis werklik lewendig. “Mense wat nie veel weet van geskiedenis en erfenis nie kan dink dit is vervelige feite, maar dis allesbehalwe. Ons doen nie erfenisbewaring net om sekere dinge te behou nie, maar gebruik daardie inligting ook vir die toekoms. Ek het byvoorbeeld onlangs ʼn versoek van die stadsraad af gekry vir inligting oor kragstasies. In ʼn 1963-brosjure van die Rooiwal-kragstasie kry ek toe baie waardevolle inligting, wat hulle nou in hul beplanning kan gebruik.”

Vir dié twee staatmakers is hul werk baie bevredigend. Die beste deel daarvan is om te sien hoe die geskiedenis iemand anders se belangstelling ook prikkel, veral jongmense. “Hier vind nuuskieriges altyd iets wat hulle prikkel, iets wat deel van hul verwysingsraamwerk vorm, soos met Loftus Versveld se storie,” voeg Liezel by.

Freda voel dat bewaring baie belangrik is, want as jy iets nie tóé bewaar het nie, het jy dit nie nou gehad nie. “Oor 20 jaar wil iemand iets weet wat jy nou bewaar het, soos watter departement in watter gebou ingetrek het, of waarvoor ʼn gebou gebruik is, of wat ʼn persoon se rol in die stad se ontwikkeling was.”

Haar werk kweek ook by Liezel ʼn bewondering vir die harde werk waarvoor mense in die verlede nie teruggedeins het nie, en die feit dat hul nalatenskap vandag nog staan – of dit nou ʼn gebou of ʼn stelsel of ʼn plan wat werk is.

Sy is dankbaar om deel van die stadsraad se erfenisspan te wees, want hier word nog moeite gedoen om erfenis te bewaar en te behou, al is die kapasiteit en fondse daarvoor soms min. Aan passie en wilskrag is daar nie ʼn tekort nie!

Vier saam Museumdag 2024

Vanjaar se Museumdag-tema is ‘museums vir opvoeding en navorsing’. Op Vrydag 17 Mei bied die Tshwane-erfenisnavorsingsentrum ʼn uitstalling saam met van die verskillende museums aan, in die Es’kia Mphahlele-biblioteek wat in die Sammy Marks-gebou gesetel is. Die uitstalling vind tussen 10:00 en 15:00 vir die publiek plaas. Daar vind ook op 18 Mei vieringe op kerkplein plaas, met ʼn toer van die plein, die Paleis van Justisie, die Polisiemuseum en die Poskantoormuseum.

Om Museumweek te vier, bied 25 museums in en om Pretoria spesiale programme aan en party van hulle bied gratis- of afslag-toegang tussen 18 en 25 Mei. Kontak die museum wat jy wil besoek om meer uit te vind.

Vir verdere inligting oor die geskiedenis en erfenis van ons stad, kontak Freda Green [email protected] of Liezel Smit [email protected]. Volg ook die Facebook-blad waar interessante inligting, verkry uit die navorsingsentrum, gedeel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.