‘Spitsvondige’ ouma vier 108ste verjaardag

Ouma Elizabeth Moodie van Kranshoek net buite Plettenbergbaai Maandag tydens haar verjaarsdagvieringe. Sy is 108 jaar oud. Foto: Leigh Dunn

Sy is 108 jaar oud en met haar verstand skort daar niks nie.

Ouma Elizabeth Moodie van Kranshoek net buite Plettenbergbaai in die Wes-Kaap het 11 kinders, 47 kleinkinders, 94 agterkleinkinders en 28 agter-agterkleinkinders en sy ken elkeen se naam.

Dié merkwaardige vrou het Maandag 108 jaar oud geword omring deur familie en vriende. Die feesviering het reeds Sondag begin. Leigh Dunn, ʼn familievriend van die Moodies, sê ouma Elizabeth het Sondag middagete saam met haar jongste dogter, Linda Patterson, en skoonseun, Ben Patterson, gehad.

Sy eet nog goed en het behoorlik gesmul aan die gebraaide vis en aartappelskyfies op haar bord. Ouma Elizabeth hou nog haar eie eetgerei vas en dit is nie nodig dat iemand haar voer nie.

Dit is ʼn lang pad wat sy geloop tot in Kranshoek. Sy is op 10 September 1910 in Botswana gebore en het later onder meer op Olifantshoek en Upington in die Noord-Kaap gewoon.

Op 18-jarige ouderdom is sy met haar man, Henry, wat toe 26 jaar oud was, getroud. Die egpaar en hul kinders het in 1940 na Kranshoek verhuis. In 1996 is haar man in die ouderdom van 91 jaar oorlede.

Van die eerste mense wat haar Maandag gelukgewens het, was haar jarelange vriende, Sylvia en Adolf Christian van die liefdadigheidsorganisasie, St. Vincent de Paul. Volgens Sylvia ken sy vir ouma Elizabeth al sowat agt jaar. Sy meen die rede vir haar hoë ouderdom is omdat sy baie godsdienstig en innerlik sterk van gees is.

Dunn sê ouma Elizabeth was nog nooit in haar lewe ernstig siek nie. Sy is op dié hoë ouderdom steeds baie gesond en het nog nooit die binnekant van ʼn hospitaal gesien nie. Sy het ook nog nooit ʼn bril gedra nie.

Volgens Dunn was ouma Elizabeth nog altyd baie lief vir dans, “maar sy dans nie eintlik meer nie. Sy het egter steeds ritme!”

Die 108-jarige was haar lewe lank ʼn tuisteskepper. Op haar ouderdom ontbreek daar niks met haar spitsvondigheid nie en lag sy graag. Toe Dunn haar vra hoe sy oud is, antwoord sy: “Jy sal geskok wees as ek jou vertel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dean ·

Ouma Moodie het op 100 haar hare vir die eerste keer geknip toe maak hulle vir haar n bersie van dit..kyk sy sit daarop…Happy B day Oumsie.

huisvrou ·

jy sien, dis omdat sy nooit die stres van werk en wat daarmee gepaart gaan nie. die wat hulle lewe lank hulself dood werk vir niks gaan vroeg….kan nie eers hul pensioen spend nie!!! sterf jong ouderdom met groot pensioen of word stok oud met geen pensioen…wens ons kon kies hiehie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.