Splinternuwe Afrikaanse vereniging vir grondslagfase-onderwysers

HH-se-AGV

Hugo Vermeulen (regs), hoof van die SOS, saam met Herman de Jong, ’n opvoedkundige sielkundige by die AGV se eerste seminaar. Foto: Verskaf.

Solidariteit Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum (SOS) het Woensdag die Afrikaanse Grondslagfase Vereniging (AGV) op die been gebring. Die doel van hierdie vereniging is om onderwysers wat betrokke is by grondslagfase-onderrig van gr. RR tot gr. 3 te versterk tydens hierdie kritieke fase van kinders se ontwikkeling.

Altesaam 100 onderwysers van 14 skole het Woensdagmiddag by Laerskool Lynnwood in Pretoria bymekaargekom om die bekendstelling van die AGV by die SOS se Grondslagfase-seminaar by te woon. Sprekers soos Herman de Jong, ’n opvoedkundige sielkundige, en Marthie Leach, ’n dieetkundige, het die onderwysers oor onderwerpe soos kreatiwiteit, breinontwikkeling, positiewe dissipline en eetgewoontes wat beter prestasie verseker, toegespreek.

Die onderwysers is toegelig oor die hantering van ontwikkelingstrauma, dissipline en heelbrein-ontwikkeling in die klaskamer.

Die SOS sien die toevoeging van die AGV as ʼn logiese stap om te verseker dat Afrikaanse skole wêreldgehalte-onderrig kan bied en nog vir jare voortbestaan.

“Vir Afrikaners om suksesvol te wees, moet daar ’n direkte verbinding wees vanaf grondslagfase tot tersiêre opleiding,” het Hugo Vermeulen, hoof van die SOS, gesê. “Die beste manier om te verseker dat kinders die bes moontlike opleiding ontvang, is om hulle onderwysers – reeds van grondslagfase – te ondersteun en te versterk deur opleidingsessies soos hierdie een vandag.”

Helpende Hand besef die noodsaaklikheid van gehalte-onderrig in enige samelewing asook die enorme invloed wat onderwysers op leerders en hul uiteindelike sukses het. Boonop is gelukkige, goed toegeruste onderwysers se entoesiasme aansteeklik en syfer dit ongetwyfeld deur na die leerders.

By die SOS-verenigings se kongresse, kursusse en seminare word daar klem gelê op die holistiese professionele ontwikkeling van Afrikaans- en Wiskundeonderwysers en nou ook op grondslagfase-onderwysers. Daar is ook reeds ver gevorder met die vestiging van verenigings vir Rekeningkunde/EBW en Wetenskap. Dit behels onder meer opleiding in tegnologie asook vakinhoud om sodoende onderwysers met die jongste onderrigmetodes te bemagtig. By die middagseminare word kundiges genader en gedagtes uitgeruil oor gehalte-onderrig in Afrikaans.

  • Meer inligting oor die AGV is te kry by Hugo Vermeulen, 012 644 4390 of [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ou Dankbaar Vlakvark ·

BRILJANT! Dankie Solidariteit Helpende Hand.

Krities nodig dat ons kinders ‘n deeglike greep kry op leeswerk om te VERSTAAN WAT HULLE LEES. Daarom die belangrikheid van begripstoetse en skryfwerk. Hulle behoort die 12X12 tafels teen spoedtoets spoed te kan doen. En hulle moet leer om kreatief te wees en konseptueel drie-dimensioneel te kan dink en beplan. Geen lepelvoerdery nie. Leer hulle hoe om ‘n pen of potlood reg vas te hou om NETJIES TE KAN SKRYWE. Hulle moet leer wat stiptelikheid en dissipline is. Daarsonder kan jy nie hoogtegnologie beoefen nie. Kies hierdie onderwyser-mentors met uiterste oorleg. VOORSPOED. Julle is goud werd!

Ian ·

Julle het nie nodig om verder te kyk as Speel Leer Wen/Play Learn Win se kurrikulum nie. Google dit maar. Word tans in SA en Midde Ooste implementeer.

Maria-Lize Visser ·

Foto se kommentaar is verkeerd. Hugo staan regs xx

Dalene de Vente ·

Dagsê Maria-Lize
Dankie vir jou valkoog! Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.
Groetnis
Dalene
Nms. Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.