Splinternuwe leefstyltydskrif tref die rakke

‘n Oplaag van die splinternuwe tydskrif ‘Joernaal/Journal’ pas van die drukkers af. (Foto: Facebook)

ʼn Splinternuwe leefstyltydskrif getiteld Joernaal/Journal het Vrydag die winkelrakke getref. Die tydskrif word in Afrikaans en Engels uitgegee en is die geesteskind van mediaghoeroe Terena le Roux.

Die tydskrif bied onder meer lang artikels oor aktuele gesondheidsonderwerpe, praktiese instruksies om kreatiwiteit en meditasie te stimuleer, dekor- en kosidees en boekresensies.

Le Roux redigeer en druk Joernaal/Journal self. Sy is ook sedert 2017 die redakteur en uitgewer van die gewilde Idees– en Ideas-tydskrifte.

Volgens Le Roux het sy nog nooit teruggedeins vir ʼn uitdaging nie en het ten spyte van die huidige ekonomiese klimaat besluit om ʼn nuwe tydskrif op die been te bring.

“My idee vir Joernaal/Journal is gebore op die kruin van die inperking, toe ʼn groot gedeelte van die Suid-Afrikaanse tydskrifbedryf ineengestort het. Sover dit my betref, is daar geen beter tyd as nou om ʼn nuwe tydskrif te begin nie, gegewe die gaping in die tydskrifmark wat so te sê oornag gevorm het,” sê Le Roux.

Joernaal/Journal se teikenmark is ouderdomme 40 en hoër – ʼn mark waarvoor Le Roux glo daar nie genoegsame voorsiening gemaak word nie.

“Toe die idee van Joernaal/Journal by my posgevat het, het ek gedink waaroor ek self graag sou wou lees. Ek is nie meer geïnteresseerd in mode, grimering, skindernuus oor bekendes en hoe om kwessies met my kinders op te los nie – my seun is groot en uit die huis.

“Ek het ʼn behoefte aan inhoud wat raakpunte met my eie realiteit het, wat my sal uitdaag en my belangstelling sal prikkel terwyl dit my op hoogte hou met die jongste nuus in gesondheid en bewustheid.”

In die eerste uitgawe van 140 bladsye kan lesers uitsien na lang artikels oor alles van epigenetika, positiewe veroudering en hoe die ikoniese Hollywood-aktrise Hedy Lamarr die moeder van WiFi geword het.

Lesers kan ook uitsien na wenke oor waterverf, olieverf en sketse sowel as ʼn blitskursus in dagboekhouding en kreatiewe maniere om jou lewe te organiseer. Wenke oor hoe om stylvol te leef met minder en ʼn legkaartafdeling sal ook lesers vir ure besig hou.

“Ek wil hê Joernaal/Journal moet die wese van ʼn tradisionele joernaal aanneem – ʼn plek waar jy jou stories kan dokumenteer, jou lewe kan organiseer en waar jy toegelaat word om te reflekteer. Ek sal mal wees daaroor as lesers die tydskrif met ʼn potlood in die hand van voor tot agter deurwerk, terwyl hulle tyd maak vir hulleself,” sê Le Roux.

Joernaal/Journal kos R85 en is beskikbaar by Woolworths, Spar en uitgesoekte Clicks-winkels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sênet

Is die tydskrif aanlyn beskikbàar?

Sarel

Mooi…..neem die gaping wat ander gemaak het. Sterkte hoop hy gasn van krag tot krag
Ek is net so moeg gewees vir sensasiecl soekende artikels

Neelsie

Hoe gereëld verskyn hy? R85 voel bietjie buitensporig vir ‘n maandelikse publikasie.