Splinternuwe radiovervolgverhaal vol intrige eersdaags op jou radiostasie

groblerspruitVanaf Maandag, 7 September kan luisteraars van 22 gemeenskapsradiostasies landswyd weer hul ore spits vir ʼn splinternuwe radiovervolgverhaal, Groblerspruit, wat in opdrag van Maroela Media deur Bettie Kemp vervaardig word.

Groblerspruit, geskryf deur Evert Snyman, is die verhaal van ʼn eens trotse familieplaas in die Laeveld met ʼn roemryke verlede. Ná oupa Grobler se dood het die plek erg verwaarloos. Nou, twintig jaar later, is oupa Grobler se erfgenaam, Roelof, op pad om sy erfporsie te kom opeis. Maar is dié stadsjapie hardebaard genoeg vir die streng voorwaardes in sy oupa se testament – wat nog te sê die boerdery, renosterstropers en die teenoorgestelde geslag…?

Groblerspruit spog met ʼn sterbelaaide rolbesetting wat lewe gee aan die karakters. Anrich Herbst speel die hoofrol, met Christine Voorendyk as sy meisie. Elzabé Zietsman is Roelof se stiefma en Riana Wilkens sy ma, wat hom as enkelouer in die stad grootgemaak het. Lochner de Kock is die familie se prokureursvriend en Richard van der Westhuizen speel die rol van die geslepe hoteleienaar en pierewaaier in die Laeveld. Sy aantreklike verloofde, vertolk deur Marina Coetzee, is ook die buurvrou. Ander spelers is Francois Stemmet en Gigi Strydom (die bywonerspaar wat geslagte sien kom en gaan het), en Carmin Coetzer as Roelof se halfsuster, wat sake lelik omkrap.

Groblerspruit en sy mense gaan luisteraars vir 13 weke lank in 65 episodes voor die radio vasgenael hou. Die regisseur en vervaardiger is Bettie Kemp, in samewerking met Maroela Media.

Groblerspruit is reeds die sesde radiovervolgverhaal/radiodrama wat gratis deur Maroela Media aan radiostasies verskaf word, danksy borgskappe wat die kostes dek.

“Met produkte soos hierdie wil Maroela Media, vir wie die bevordering van Afrikaans as mediataal ʼn groot prioriteit is, waarde toevoeg tot gemeenskapsradiostasies wat landswyd en in die buiteland ʼn groot bydrae maak tot die Afrikaanse gemeenskap,” sê Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media. “Radiodramas soos hierdie is ʼn dankie aan hulle en hul luisteraars wat Afrikaans lewend hou.”

Gemeenskapsradiotasies wat nog nie met Maroela Media ʼn ooreenkoms gesluit het vir die uitsending van Groblerspruit nie, kan met ons in verbinding tree by die kontakbesonderhede hier onder.

Meer oor die Groblerspruit se storielyn:

Die eens trotse familieplaas Groblerspruit in die Laeveld kan baie stories vertel. Dit het ʼn roemryke verlede. Maar na die dood van die eienaar, oupa Grobler, het die plek lelik verwaarloos. Slegs ʼn bywonerspaar, oom Herklaas en tant Aletta, het daar agtergebly. Nou, na 20 jaar, is daar uiteindelik ʼn nuwe eienaar op pad, oupa Grobler se kleinseun, Roelof Grobler. Met die dood van sy pa, wat nooit in Groblerspruit belang gestel het nie en van wie Roelof vervreem was, kom hy nou sy erfporsie opeis. Daar is egter streng voorwaardes in die testament sover dit die eienaarskap aangaan en heelwat uitdagings op die plaas. Van die eertydse groot koffieplantasie het feitlik niks oorgebly nie. Die plek het ʼn bietjie wild, onder andere ʼn paar renosters wat teikens is vir die wilddiewe en stropers van die Laeveld. Nie juis ʼn aanloklike omgewing vir ʼn jong man met ʼn vaste werk in die stad, ʼn mooi meisie en ʼn nuwe rooi sportmotor nie. Boonop is Roelof ’n IT-spesialis wat niks van boerdery af weet nie. Maar Roelof is ʼn man wat van uitdagings hou… en dit gaan hy in oorvloed kry op Groblerspruit.

Radiostasies wat reeds Groblerspruit sal uitsaai:

StasieFrekwensieUitsaaigebied
Radio Disa95.9 FMWes-Kaap
Eden FM87.8 tot 103.6 FMWes-Kaap
Caledon FM89.3 tot 99.3 FMWes-Kaap
Radio Witzenberg105.9 FMWes-Kaap
Whale Coast FM96 FMWes-Kaap
Radio Namakwaland93.4 FMWes-Kaap
Radio Overberg98.4 FMWes-Kaap
Radio Helderberg93.6 FMWes-Kaap
Pretoria FM104.2 FMGauteng
Oos Rand Stereo93.9 FMGauteng
Radio Panorama107.6 FMVrystaat
Overvaal Stereo96.1 FMVrystaat
Radio Maluti97.1 FMVrystaat
Radio Rosestad100.6 FMVrystaat
Kosmos Stereo99.3 FMMpumalanga
Radio Kragbron93.1 FMMpumalanga
Radio Laeveld100.5 FMMpumalanga
Lichvaal Stereo92.6 FMNoordwes
Radio Orania95.5 FMNoord-Kaap
Waterberg Stereo104.9 FMLimpopo
Tuna Radiowww.radiotuna.comInternet-radiostasie
Impala Radiowww.impalaradio.co.zaInternet-radiostasie
Kanaal 7Namibië

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Frans ·

Klink na iets om te kan luister in sekerlik goeie afrikaans met n goeie storielyn. Dien so voort op die manier sal afrikaans voortleef

Z bc ·

Waar kan ons navraag doen oor hoe laat die drama uitgesaai word? Ek is van Bloemfontein en sal seker dan Radio Rosestad moet luister?

Maroela Media ·

Dagsê! Loer gerus na Radio Rosestad se programskedule op hul webwerf, of kontak hulle om te hoor hoe laat hulle elke weeksdag Groblerspruit uitsaai. Ons hoop jy kom reg!

Plasie ·

Dis wonderlik om te hoor dat daar eersdaags weer ‘n vervolgverhaal op Pretoria FM sal wees. As dit iets soos Booggomsbaai gaan wees, sal sekerlik meer mense vasgenael sit en (soos ek) nie kan wag vir die volgende dag se episode nie. Baie dankie vir sulke gesonde gesinsvermaak. (Ek hoop julle werk alreeds aan die volgende een)

Maroela Media ·

Dagsê Magda! Pretoria FM se programskedule dui aan dat die vervolgverhaal weeksdae om 15:15 uitgesaai word en saans om 23:15 herhaal word. Lekker luister!

Tanyia Hugo ·

Ek het ‘n paar episodes gemis verlede week. Waar kan ek dit kry om te luister asb? Ek het van Maandag 5 Okt tot Vrydag 9 Okt misgeloop.
Baie dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.