Springbok-onnie slaap by skool om matrieks te help

Margareth Cloete (Foto: Verskaf)

ʼn Juffrou van Hoërskool SA van Wyk Sekondêre Skool in Springbok het vir sowat ses weke lank die skool se klaskamers in ʼn veilige tuiste vir die matriekleerders omskep sodat hulle goed vir die matriekeksamen kon voorberei.

Margareth Cloete (59), wat die skool se lewensoriënteringsonderwyser is, vertel dat die meeste van haar skool se leerders uit moeilike omstandighede kom, en dat sy daarom vir hulle ʼn veilige, rustige hawe wou skep gedurende die matriekeksamen.

“Ons kry leerders uit die armste gebiede en die afgelope drie jaar was die skool se slaagsyfer baie swak, sowat 50% tot 60%. Ons is elke jaar in die rooi, en as Januarie aanbreek, is die departement [van onderwys] daar om skoolbesoek te doen om te sien wat die probleem is,” vertel sy.

Cloete, wat al 37 jaar ʼn onderwyser by dié skool is, het vanjaar besluit genoeg is genoeg, en self ingespring om te help.

“Ek wéét ons skool was ʼn topskool, hoekom kan hy dan nie weer een word nie?” het sy haarself afgevra.

Cloete het toe die skool in ʼn koshuis en studeerplek vir die matrieks omskep en sy het self ook daar gebly om die matrieks te ondersteun.

“Ons het die meisies en seuns in verskillende klasse opgedeel waar hulle kan slaap, ek was in my eie ‘kamer’. Van die kinders se ouerhuise het nie eens meubels in nie, daar is nie ʼn badkamer nie en daar is nie spasie nie. In die skool is daar geriewe en stilte en spasie, so die kinders kon goed slaap en in vrede leer vir die eksamen sonder harde musiek in die aande en mense wat hulle pla,” sê sy.

Die skool se koshuis het al ʼn paar jaar gelede leeggeloop; sy het matrasse daar geleen, dit in die klaskamers gesit en so slaapkamers vir die matrieks geskep. Sy het selfs vir die eerste week uit haar eie sak uit vir die 22 leerders ontbyt, middagete en aandete gegee.

Só het die kinders in die klaskamers geslaap (Foto: Verskaf)

“Daarna het die besighede ingespring en gehelp met die kos. Sondae as ek wil begin kosmaak, dan kom hulle daar aan met bakke vol kos. Die kinders het goed geëet,” sê sy.

Cloete vertel dat 22 van die 38 leerders in matriek by die skool oorgeslaap het. Party leerders het nie oorgeslaap nie, maar net by die skool kom studeer deur die dag, en ander het nie gekom nie.

Die leerders kon ook vir Cloete vra om hulle wakker te maak sodat hulle kan leer.

“Ek het hulle enige tyd van die dag of nag wakker gemaak om te leer as hulle my vra, partykeer middernag en 04:00 in die oggend. Maar ek gee nie om nie, want die dankbaarheid wat hulle gehad het vir ʼn rustige plek om te bly en studeer, is alles die moeite werd.”

Cloete vertel dit was vir haar van die lekkerste goed om te sien en te hoor dat die kinders lekker geslaap het die vorige nag en dat hulle dankbaar is om daar te kan wees, omdat dit iets is wat hulle nie ken nie.

“Jy kan die gevoel vir niemand beskryf nie,” vertel sy.

Volgens Cloete was daar reëls van toepassing om by die skool te bly, soos byvoorbeeld om teen ʼn sekere tyd in die klasse te wees, om jou selfoon in te gee wanneer jy studeer en om nie die ander leerders te pla nie. Sy sê dit het goed verloop en die leerders het geen probleme daarmee gehad nie.

Toe die matriekuitslae Woensdagoggend bekendgemaak word, vertel Cloete dat sy in trane uitgebars het oor hul skool se 80%-slaagsyfer.

“Hulle het ons skool omgekeer. Hulle het ons só trots gemaak. Ons skool is nou uit die rooi uit!” vertel sy.

Cloete, wat self in ʼn arm huis grootgeword het, vertel dat haar wilskrag met dié leerders van haar pa af kom.

Margaret Cloete (Foto: Facebook)

“My pa het altyd vir ons agt kinders gesê: ‘My kinders, julle moet onthou, as ek doodgaan gaan daar nie geld wees nie, ek het nie rykdom om vir julle te gee nie, maar wat ek wel vir julle kan agter los, is julle geleerdheid.’ En dit het altyd by my gebly,” sê Cloete.

Dít is hoekom dit vir Cloete so na aan die hart lê om die leerders ʼn goeie kans op geleerdheid te gee. Sy vertel dat sy hulle as haar eie kinders sien en hulle haar selfs Ma noem.

Sy sê sy is nou van plan om dit elke jaar te doen, vir die Junie‑ én die November-eksamen. “Ek wil dit doen sodat ons aan die einde van hierdie jaar ʼn 100%-slaagsyfer kan behaal.”

Cloete sê beskeie dat haar deel in hierdie saak maar klein was, maar dat die leerders eintlik al die harde werk gedoen het. Sy vertel dat dié verbetering in hul slaagsyfer die hele personeel se gemoed gelig het en nuwe krag gee vir die jaar. Sy moedig ander onderwysers aan om dieselfde in hul onderskeie skole te doen.

Hoërskool SA van Wyk Sekondêre Skool vorm deel van die Namakwa-distrik, wat ook pas aangewys is as die distrik met die beste matriekuitslae in die Noord-Kaap.

“Ek het die hele vakansie deur gebid dat ons skool net uit die rooi kan kom. En die oomblik wat ek dit gehoor het, is ʼn oomblik wat ek vir ʼn baie lang tyd sal onthou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

52 Kommentare

MG ·

Ek het nie woorde nie. Baie dankie vir jou onbaatsugtige daad! Jy hét ‘n verskil in daardie kinders se lewe gemaak. Wat ‘n goeie voorbeeld stel jy nie! Welgedaan.

Hannah Van der Merwe ·

Juf, ek is trots op die kinders en op jou. Bitter trots

Carina ·

Dit het my hart so bly gemaak om die te lees. Sjoe wat ‘n fantastiese helde daad, want dit is ‘n onselfsugtige helde daad. As ons mense net bymekaar kom om the help, maak dit so groot verskil! Ek haal my hoed AF! Welgedaan!

Marietjie ·

Baie dankie vir mense soos jy. Ek bewonder jou. En baie geluk aan al die kinders wat geslaag het. Well done.

Rika ·

Ek het hoendervleis gehad met die lees hiervan. Dankie vir die juffrou se opoffering om ‘n positiewe verskil te maak, en ook geluk aan elke leerder wat die geleentheid gegryp het om hard te kon studeer. Ek hoop dat ons sommer gou weer sal hoor hoe dit verder met die skool gaan

Yolanda ·

Et sommer trane in my oe, watter onbaatsugtige daad. Danki juffrou vr u opofferings. Dink nt watter amazing land ons gaan he, as almal nt wil omgee en in liefde mekaar wil help. Ek bid dt vr SA…

aj ·

Klein groepies ‘begeesterde’ mense verander die wêreld!

Nog een helder liggie in DONKER AFRIKA!

Só dryf die enkele helder liggies die DONKERTE weg!

Emma.Ockhuizen-Van der Merwe ·

As n onderwyseres myself ,haal ek my hoed af vir u juffrou .Cloete ! U onbaatsugtige insette het goeie vrugte af gewerp ! Baie geluk aan die leerlinge ! Jul bereidwilligheid is beloon !

Amanda ·

Die allermooiste storie. Dankie juffrou…..n veilige plek en kos om te eet. Ek salueer jou. ????

Nanette Walker ·

RSG’s Amore Dekker just had an interview with Miss Cloete: a wonderful story! And a good reminder to all of us who take a good night’s sleep as something totally normal and for granted, to appreciate how blessed we are. Miss Cloete, you are an inspiration!!

Denver Cloete ·

Wat n prestasie!!!As oudleerling is ek trots om met so n onnie te identifiseer.
Baie geluk SA van Wyk en in besonder juf.Margie.

toy ·

Mens kan sien skoolhou is ‘n passie vir jou. Die kinders was bevoorreg om iemand soos jy te he.

Mari ·

Kon die koshuis nie mo die leerders akkommodeer tydens die eksamen nie? Dit staan tog leeg?

Marius ·

Fantasties!. Dit is nou werklikwaar uitstekend en goeie nuus. Welgedaan Me. Cloete en leerders. Ek het die berig geplaas op sosiale media.
Groete uit Australie.

Deon ·

Nog ‘n pragtige verhaal van hoop en ‘n voorbeeld van die groot verskil wat een mens se toegewydheid en passie in die lewe van ander kan maak. Juffrou Cloete, dankie dat jy ‘n hoopdraer is!

Amelia Steenkamp ·

Ek het nie woorde nie…. Net trane wat loop.God het gehoor en verhoor.Amen!!!

Hein ·

Juffrou jy gee plaas die naam onderwyser op ‘n totale ander vlak van die lewe . Bravo

Johan ·

Kan die besighede en boere in die omgewing nie saamspan en vir haar ietsie kleins koop nie.Salueer jou,beter mens as ek.

Rodville Franklin ·

Juffrou Margaret Cloete, as een van jou oud leerders, 20 jaar gelede, Is juff nogsteeds dieselfde omgee mens.Bravo vir Mamsss, jy verdien die trane, deursettings vermoe, in die donker tyd.Juffrou ek bars van trots….

Penellope Jones ·

Sjoe, dit is ‘n wonderlike voorbeeld van medemenslikheid, lojaliteit, insig, liefde en mededeelsaamheid!

Sarel ·

Vir haar is Onderwys nog ‘n Roeping en nie net ‘n werk nie

Tracey ·

Wat ‘n ei derlije gebaar. Bid jou seën, vreugde en genade toe uit ons Vader se hand. Liefde dankie vir jou omgee hart

Tracey ·

Wat ‘n wonderlike gebaar. Bid jou seën, vreugde en genade toe uit ons Vader se hand. Liefde dankie vir jou omgee hart

Leonie ·

Dit is nou ‘n juffrou wat haar sout dubbel WERD is en beslis vir die liefde van onderwys leef!

Prysenswaardig! ·

Dit is so riem onder die hart om te sien dat party mense se werk nog vir hulle ‘n roeping is en nie net ‘n betaaldag nie. Ek wil egter ook baie geluk se aan daardie leerders wat hierdie wonderlike kans aangegryp en benut het. Dis ‘n wyse mens wat goeie kanse nie deur die vingers laat glip nie en met spanwerk bereik mens altyd meer as wanneer elkeen net na homself omsien. Doen so voort. Hoop ons politici sien hoe dit werk

Marietjie ·

Wow wat kan n mens sê. Sy is n juweel. Dit wil gedoen word. Welgedaan.

O'Dilhea ·

Die juffrou moet beslis benoem word vir die National Teacher’s Awards!! Welgedaan en baie geluk!

Alzaan Cloete ·

Ek kry skoon hoendervleis supertrots op jou juffou. Ek het nie woorde nie . Ek hoop ander onnies en skole vang tips

Bernie ·

Juffrou Cloete, u het nog die roeping as onderwyseres. Doen so voort. U (sowel as die kinders) gaan die vrugte pluk. Baie dankie vir u opoffering!!! Sterkte en ek hoop om volgende jaar te lees dat Hoërskool SA Van Wyk Sekondêre Skool 100% slaagsyfer het. ????????

Jeannine Smit ·

Kan hierdie berig ook in Engels weergegee word sodat anderstaliges dit ook kan lees?

charmaine ·

Ek kry sommer trane om die goeie slaagsyfer te sien, fantasties juffrou. Kon van die ander onderwysers haar nie bystaan en help nie? Dit wys jou net waar n wil is is n weg. Hoop die Departement help hierdie jaar bietjie meer en verbeter die koshuis dat dit n instelling raak en die skool hulle 100% kan kry.

Boskind ·

Margareth vir Minister van Onderwys asb!!!!!!!!!! Margareth se kaliber is wat ons land nodig het in die onderwysstelsel. Baie dankie Margareth vir jou onbaatsugtige hulp aan die kinders!!!

ek sê maar ·

Waar is Lesufi om vir hierdie onbaatsugtige , wit onderwyseres ‘n spesiale akkolade te gee? Hy kan wit onnies net altyd as rassiste ens uitkryt – gee nou bietjie eer waar dit toekom!

Ex speurder Katryn ·

Hierdie is ongelooflik inspirerend! My vraag is net: hoekom nie die koshuis dan gebruik nie? Dit staan seker leeg? Daar is alles wat hulle nodig het. Studeerkamer, kamers, badkamers, kombuis, tv kamer?

Annatjie ·

Wil jy aansoek doen vir ‘n pos en die juffrou se werk makliker maak.
Gun mense hulle glorie moenie altyd alles bevraagteken sy het ‘n rede waarom sy nie die koshuis gebruik nie.
Wees bly vir die juffrou en die skool.

SlowJoe ·

Baie geluk aan al die leerders van Springbok. Juff Cloete baie dankie vir jou hulp, dit is voorwaar n voorbeeld vir die hele Land.

Maria Boshoff ·

Onse Namakwaland blý maar die beste, daarom ag ek myself baie gelukkig om hier te kan woon in my laaste jare! Knap gedaan Juf, jy maak my hart warm! Baie geluk ook met julle pragtige slaagsyfer, waar n wil is, is daar n weg.

Pieterd ·

Wat ‘n wonderlike inspirasie! Baie geluk Juf Cloete en kinders.

Cecelia Coetzer ·

Jou beloning in die Hemel is groot vir wat jy vir daardie kinders gedoen het.
Wel gedaan.

Mynhardt Steyn ·

Die kinders se grootste geskenk is om iemand soos jy te he wat opreg omgee – God seen jou en mag jy al die vreugde en liefde ontvan wat jy so vrymoedig uitdeel !!

KaterinaKat ·

Wow just wow!! Wat n Fantastiese vrou!! En sy het n fantastiese pa gehad. Sien dis wat gebeur as jy Nie jou kinders grootmaak met n “victim mentality” nie. Sulke kinders word sterk selfstandige volwassenes wat steunpilare in die samelewing word.

Theoni ·

Goeie genugtig!!! Dan is daar mense wat sê daar is nie hoop vir SA nie! Baie dankie vir die voorbeeld wat jy stel juf Cloete ????

Deon Koegelenberg ·

Dankie juffrou Cloete jou hart sit op die regte plek mag God jou seen

Millie ·

MAROELAMEDIA moet asb vir ons ‘n spesiale aparte blad skep NET vir sulke goeie stories! Dan sal mense meer bewus raak van die goeie dade wat daar buite plaasvind en besef dat nie alles net negatief is nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.