Staffie, eienaar ná twee jaar herenig

Zeus die staffie. (Foto: Verskaf)

ʼn Buksie van ʼn Staffordshire-bulterriër is ná twee jaar met sy eienaars in Kaapstad herenig, maar het ietwat onherkenbaar gelyk weens skulpvelsiekte. Was dit nie vir die mikroskyfie in sy nek nie, sou oubaas se hond moontlik steeds soek gewees het.

Die People’s Dispensary for Sick Animals (PDSA) het Vrydag die blye hereniging tussen vyfjarige Zeus die staffie en sy baas, Matthew Harebottle, ʼn ondernemingsbestuurder van Seepunt, op hul Facebook-blad gedeel. “Zeusy, my seun. Hallo, my seun,” het Harebottle in die video gesê.

Daar was min van die groot bruin ogies te siene toe hy gevind is, met die velsiekte wat so gevorderd is dat sy oë amper toegeswel is, maar tog het Zeus se stert geswaai.

Zeus is vroeër die week gevind ná Yvonne Read, ʼn PDSA-komiteelid en vrywilliger, honde in die Kaapse voorstad van Athlone gaan voer het. “Ek het ʼn oproep ontvang dat ʼn hond in Sybrandpark rondgeloop het. Ek het die mense wat die oproep gemaak het, gevra om die hond te vang, maar hulle was te bang. Ek het twee uur rondgery en eindelik die hondjie in ʼn oop veld gevind, waar hy besig was om kos uit ʼn pakkie te aas.”

Read sê Zeus was in ʼn haglike toestand, maar steeds die vriendelikheid vanself. “Soos ʼn tipiese staffie. Hy wou net aandag hê en het dadelik na my gekom toe ek hom geroep het. Hierdie arme siel het die dierbaarste geaardheid en het nie toegelaat dat die dade van wrede mense hom onderkry nie. Ek het in trane met hom teruggery na PDSA toe, waar ons hom vir ʼn mikroskyfie geskandeer het.”

Zeus die staffie. (Foto: Verskaf)

Harebottle vertel dat hy saam met vriende in ʼn huis in Rondebosch gewoon het en dat hul hek tydens beurtkrag ophou werk het. Dit is toe dat Zeus ontsnap het. “Ons het ure rondgery en na hom gesoek, plakkate opgesit en wyd en syd op Facebook gedeel, maar kon hom nie opspoor nie. Ons kon net hoop dat iemand hom sou ingee by ʼn dierewelsynsorganisasie.”

Wat dit erger gemaak het, sê Harebottle, is dat hul huurkontrak by die eiendom verstryk het en dat hy ʼn week ná Zeus se verdwyning Bo-Kaap toe getrek het. “Ons bly tans in ʼn woonstel, so ons gaan weer moet trek om ʼn groter plek te kry. Zeus is nog in so ʼn brose toestand dat hy nou eers moet herstel. Hy is baie bly om terug te wees en dit is wonderlik om hom hier te hê, maar hy slaap nou heeldag om te herstel.”

Zeus se maag is tans vreeslik sensitief, aangesien hy maande lank van rommel moes leef, dus volg hy tans ʼn spesiale dieet wat Royal Canin vir die volgende drie maande borg. “Ek wil hom net bederf en ʼn lekker stuk vleis gee, maar ek moet mooi met hom werk. Ek gee hom nou net al die liefde en aandag wat ek kan.”

Harebottle moet Zeus vir die volgende maand elke week na die PDSA toe vat dat hulle sy velsiekte kan monitor. Die hondjie kry ook tans antibiotika en spesiale medisyne om die siekte te behandel. “Ons sal hom terugkry na sy ou staffie-self voor jy jou oë kan knip. Hulle het die sagste geaardhede en Zeus is ʼn getuienis daarvan,” sê hy.

And here it is. Videos of the reunion. An emotional experience, leaving many of us teary. Tears of happiness, and tears of sadness for what Zeus and Matthew suffered for almost 2 years.Zeus will continue to come to the PDSA for treatment of his mange, so watch our page for updates of his transformation. ????????????????

Posted by PDSA – SA on Thursday, November 7, 2019

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Arsène Lupin ·

Wonderlik.
Ek hoop ook om eendag met my kat herenig te word, wat ook ‘n chip in sy nekkie het.

Lizelda ·

Die storie het n gelukkige einde maar sjoe my hart breek om te sien hoe Zeus se toestand en lewe in d 2 jaar versleg het. Met liefde mediese sorg en kossies glo ek sal hy gou herstel. Bly hys terug wAar hy hoort. Liefde en drukkies.

Annalie Steyn ·

Ek is so bly! Gee vir Zeus ‘n soentjie en ‘n drukkie!

HESTER NEL ·

Dit is sulke wonderlike nuus sal Maroelamedia dalk later vir ons ‘n opvolg kan gee en hoe Zeus dan lyk na so 3 maande dalk.

Dankie

rene ·

Hi Hester, ek stem saam jou , sal ook graag wil weet hoe hy gaan lyk. Ek is so bly hy is gevind, my hart gaan uit vir die diere wat so weg raak.

Eish ·

Wonderlike nuus. Staffies is die wonderlikste liefdevolle honde, het al ‘n hele paar gehad.

Lizelda ·

Net n “staffie liefhebber” sal weet hoe liefdevol hulle EINTLIK is! Het jare terug een gehad. Jessy was amazing md koms van ons baba dogtertjie. Voorwaar n liewe dier.xxx

Deloris ·

Zeus jy is so mooi…. Word net gesond. Jy sal nie n te kort he aan liefde en as dag nie
Dankie aan almal wat gehelp het

AH ·

Ek is so bly oor hierdie positiewe stukkie nuus! Ek het self ‘n paar dierekinders en ek wil nie eens daaraan dink om een van hulle te verloor nie! Binne ‘n kort rukkie sal Zeus weer homself wees met al die liefde en versorging wat hy nou ontvang!

Melanie ·

Ag hoe lekker huil ek nou.. dis so mooi… Ek is super bly hul kon Zeus terugkry… Ek wag nou al 2jaar vir my Toschka en Sheila… jul storie motiveer my om nie ooit op te gee nie… Jammer Zeus moes 2 jaar alleen deurmaak… my hart huil van al sy seerkry en hy huil van als wat goed uitgewerk het… Drukkies vir Zeus!!

JohanL ·

Dankie aan MM vir die mooi storie……………………. maar julle skuld ons nou ‘n opvolgstorie oor 3 maande asb.

Hoop om dan fotos met ‘n mooi en gesonde Zeus te sien.

Teleurstellend is dat geen mens vir Zeus kon vang en na ‘n dierewelsynsorganisasie gevat het nie. Mense wil mos nie betrokke raak nie. Nee wat los daai hond, iemand anders sal hom wel vang!!!!!! Mense ons moet ernstig selfondersoek doen oor ons optrede. Hoe gaan die wysheid: “Mens meet die ware ingesteldheid van ‘n persoon in sy optrede teenoor diere (honde)”.

Moppy ·

Ag ek is ook so bly lees di storie met trane wat afloop, ek is gelukkig een wat altyd stop en het al baie honde katjies en voels gevang en somshet hul by my gebly en nou meestal!gee al ons diere by Vet Drs in want almal bel eerste di Vet anders gaan hul na ons SPCA wat ook behulsaam is met ons honde en diere kinners so bly Zues is gevind en shame erg dat hy so lyk en ook stem saam wat JohanL se dis rerig erg ons het darem nou n groot groep Lost and Found pets groep en dit werk goed

Welgedaan ·

Kry ek sommer nou trane in my oë. Ek is net so lief vir my staffie hulle is wonderlike honde en baie liefdevol. Word gou gesond Staffie kind.

JohanR ·

Wil eintlik vir ou Zeus ‘n drukkie en ‘n stuk droewors gee, soe druk maar my skootrekenaar. In Engels se mens…..animals complete us.

Stella barnard ·

Ag dis so wonderlik. Ons dien n awesome God. Ek stem saam Hester. Doen asb n opvolg sodat ons Zeus se herstel kan volg. Hys spesiaal. Drukkie en soentjie vir hom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.