Stanford: ’n Buitelugavontuur in die ‘vallei van drome’

Dié omgewing is vir uitstaande inheemse woude en fynbosberghange bekend. (Foto: Jacques Marais)

Deur Jacques Marais

Buite is die nuwe binne. Ja-nee, met die Vlak 1-inperking is vars lug en die natuur ewe skielik weer heel bo-aan almal se lysie. Een ding is seker: jy gaan nie sommer ʼn beter omgewing as Stanford kry om jou verhouding met Moeder Aarde te hernu nie.

Hierdie ougat dorpie sluimer reeds sedert 1857 teenaan die Wes-Kaapse kus, en was oorspronklik ʼn plaas wat toentertyd aan Sir Robert Stanford behoort het. Besoekers wat hier ʼn draai kom maak, gaan ʼn piek-en-mieks van mense raakloop, met ʼn mengelmoes van voëlkykers, vissermanne, kunstenaars en afgetredenes wat die malle stad se gejaag hier kom ontsnap.

Stanford is die rustigheid vanself, maar dit is eintlik binne die natuurparadys duskant die dorpsgrense waar buitelugentoesiaste hulself gate uit geniet. Hier kronkel die Kleinrivier al teen die voetheuwels van die Akkedisberge langs, en die landskap loop oor van avontuur in hierdie “vallei van drome”.

Fynbos wuif teen die hange en die diep klowe is ruig met inheemse bome bebos, terwyl vleilande en ʼn grasveldlappieskombers al met die rivier langs loop.

Daar is dosyne bestemmings om by in te loer, maar een plek wat jy nie wil misloop nie, is die skilderagtige Stanford Valley Gasteplaas, reg teenaan die R326. Besoek www.stanfordvalley.co.za.

Die wedren

Die Stanford MTB-uitdaging is net die geleentheid vir fietstrappers en hul families om in die beeldskone Stanford-vallei saam te trek. Daar is roetes wat almal sal pas en beginners sowel as kinders is welkom. Fietsryers moet redelik fiks en ervare wees om die langer roetes te pak, so gaan loer gerus vir meer inligting by www.overbergmtbevents.co.za.

Die enkelspoorroetes maak dit een van die Wes-Kaap se mooiste fietsryervarings. (Foto: Jacques Marais)

Die roetes

Die hoogtepunt van enige besoek aan Stanford is die enkelspoor wat flink en vrolik deur die fynbos kerjakker. Top breine in die wêreld van bergfietswedrenne werk reeds meer as twee jaar aan die “Ultimate Southern Pass Trail” en daar is splinternuwe paadjies wat guitig deur ʼn lushof van proteas, Ericas en Restios gatswaai.

Saal dus daai ysterperd op en begin trap, want die magiese enkelspoor wag.

Hierdie is ʼn buitelugparadys vir die hele familie. (Foto: Jacques Marais)

Ek kuier gereeld in die omgewing en elke rit is soos ʼn verrassingspakkie. Jy het letterlik nie ʼn idee wat om die volgende draai op jou wag nie. Ons het een oggend vyf verskillende spesies suikerbekkies hier gewaar.

Dan is die kanse ook goed dat jy ribbok, takbok, grysbok en rooikat kan raakloop en, indien die fynbosgode in ʼn goeie bui is, dalk selfs ʼn Kaapse luiperd. Dit is nou natuurlik indien jy kans het om rond te koekeloer terwyl jy die pedale teen topspoed klits. Segmente soos Valley Vista, Horribult, Slipstream, Hingse-Hang en vele meer wag op jou, en dit gaan vir epiese stories om die kampvuur sorg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.