Stap jou lewe beter én lekkerder

(Foto verskaf)

Hippokrates het gesê om te stap is die mens se beste medisyne.

Dis my daaglikse doepa – of dit nou ʼn trae poginkie op teen ʼn teerpadbult is, ʼn paar draaie om die stadskom se opgaardam waar die kolganse hulle kleintjies aanjaag of net ʼn rustige wandeling deur die Moederstad se parke – dit laat my lekker voel.

Tog is dit die bergstappe onder aan die voet van Tafelberg en daar digby Stellenbosch se pieke wat die meeste bevrediging gee – waar my kop sonder uitsondering ontslae raak van die dag se drade en my honde se sintuie baljaar. Partykeer raak die fynbos te dig en die bulte te styl vir my dowe, driebeen Jack Russell en dan word sy sonder seremonie en doodtevrede in my vriend se rugsak gelaai. Ons kan dan klim en verken met haar snoet wat, tree vir tree, met nuuskierigheid heen en weer wikkel. As ons weer sien val haar ogies toe van die ritmiese gewieg in die warm rugsak.

So oor meer as ʼn dekade van stap hier onder teen Tafelberg het ek hegte, lewenslange vriendskappe gevorm. Dis my “bergmense” – mense wat nooit ophou om die geruis van die wind deur die bome te hoor nie; wat nooit die oopgaan van ʼn protea as vanselfsprekend aanvaar nie; wat jaar in en uit in verwondering staan wanneer die strome witwater na die eerste goeie winterreën teen die berghange afdreun; wat gaan stilstaan wanneer die lig teen die hange laatmiddag goud raak.

Almal hou dalk nie ewe veel van hom nie maar ʼn bekende vir wie stap elke dag deel van sy roetine is, is Mark Zuckerberg, die grootbaas van Meta. Hy sê dit maak hom meer kreatief, laat hom beter fokus, is ʼn ontspanne manier om vergaderings te hou en boonop kry hy sy oefening vir die dag in. Die tegnologiepionier Elon Musk en sakereus Warren Buffet is net so bekend vir hulle daaglikse wandelings. Musk glo ook, soos Zuckerberg, stap verhoog kreatiwiteit én dat hy probleme vinniger oplos wanneer sy tekkies eers aan is.

Gaan stap teen die see, daar verby Koppie Alleen, en jy sal heel moontlik die enigste persoon op hierdie deel van die Walvis-staproete wees. (Foto: Jacques Marais)

Ons hoef nie na die multi-miljardêrs te luister om die waarde van gereeld stap te besef nie. Daar is miljoene internetartikels oor hoe goed dit vir die lyf en gees is. As jy net op Google “references to the benefits of walking” intik kry jy byna 59 miljoen hits. ChatGPT het ook baie te sê.

Stap verlaag spanning en angstigheid en word sterk aanbeveel vir mense met depressie. Stap skei endorfiene af, so dis amper ʼn waarborg dat jy na ʼn lekker stap beter gaan voel – oor jouself en sommer die hele wêreld. Dit verhoog jou energievlakke, is ʼn (ge)maklike manier om mense te ontmoet en die tegnologie-reuse is reg – stap gooi daardie kreatiewe kanale in die brein wyd oop.

Wat jou lyf betref sal ʼn 30-minute lange stap, vyf dae per week, jou kans vir hartprobleme glo met tot 20% verlaag. Dit verhoog jou weerstand teen siektes, verbrand kalorieë, dra by tot beendigtheid, help om jou bloedsuiker te verlaag en verbeter gewrigbeweging. Dan praat ons nie eers van ʼn fermer, meer gespierde lyf nie.

Selfs net tien minute se stap per dag het gesondheidsvoordele, hoewel kenners aanbeveel dat mense tussen die ouderdomme van 19 en 64 weekliks 150 minute lank oefen.

Die Amerikaner Angela Maxwell het in 2013 begin met haar solo-stap om die wêreld. Sewe jaar later het sy 32 000 km afgelê. Op die vraag hoekom sy dit gedoen het was haar antwoord eenvoudig: vir ʼn dieper band met mens en natuur. Dit het sy ook gekry.

Die skrywer Carina Stander en haar man Gerrit het onlangs die Dolfynroete gaan stap (Foto verskaf)

Ons hoef darem nie stoksielalleen om die wêreld te stap om die voordele van stap te geniet nie. Die meeste van ons kan ons voordeure oopmaak en sommer net pad af stap. Elke bietjie help en wie weet, dalk ontmoet jy iemand wat ʼn langpad sal saamstap.

Ek kan nou maar eenvoudig net nie ʼn goeie aanhaling weerstaan nie en dié een van Charles Dickens, destyds, glo ek is perfek vir my stap-ode: “The sum of the whole is this: walk and be happy; walk and be healthy. The best way to lengthen out our days is to walk steadily and with a purpose”.

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Gesondheid, Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Groen Ghoen ·

“Solvitur ambulando.” It is solved by walking. – Leigh Fermor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.