Stap saam met DBV ten bate van vierpotiges

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) van Pretoria hou op Saterdag 13 April ’n 2,3 km “Wag-a-Walk”-pretloop by die Smuts-huis in Irene ten bate van die DBV.

Dié pretloop het al ’n jaarlikse instelling vir die DBV en mense van Pretoria geword. Die oogmerk is om broodnodige geld vir die diere in hulle sorg in te samel.

Elsa Daniels, woordvoerder van die DBV in Pretoria, sê dit beloof om ’n dag gevul met genot en oefening vir al die deelnemers en hulle vierpotige vriende te wees.

Deelnemers kan hul eie versnaperings en water saamneem waaraan hulle heeldag kan peusel, maar hulle kan ook by verskeie kosstalletjies ’n draai maak om ’n eet- en ʼn drinkdingetjie vir die pad te koop. Die gesinsvriendelike teetuin neffens die Smuts-huis bied ook ’n smullekker buffetete wat deelnemers na afloop van die pretloop salig onder die bome kan geniet.

“Behalwe vir al die kosstalletjies is daar ook ’n groot verskeidenheid stalletjies met produkte vir jou troeteldiere,” vertel Daniels. Meeste van die stalletjies is slegs vir bemarkingsdoeleindes. Spesiale dienste soos inentings, mikro-chipping en parasietbeheer gaan ook deur die DBV se veeartsenykundige personeel gebied word.

Deelnemers word ook aangemoedig om ’n lootjie vir net R10 ten bate van die DBV te koop en ’n kans te staan om ’n verskeidenheid van pryse te wen.

“Die DBV sal die publiek se deelname waardeer omdat ons elke sent vir die diere nodig het,” sê Daniels.

Deelnemers kan Saterdagoggend tussen 06:30 en 10:00 vir die pretloop registreer. Die pretloop kos R40 per deelnemer en R20 per hond.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dankie SPCA ·

Die SPCA kry so min ondersteuning en doen hulle werk onder bitter moeilike omstandighede. Ondersteun hulle asb, en vir die wat altyd regstaan om hulle af te kraak, gaan stap ‘n dag in hulle skoene.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.