Besigtig wilde jagluiperds in hulle natuurlike habitat

Die jagluiperdmannetjie in die beskermende boma voordat hy vrygelaat is. (Foto: Verskaf)

In wat beslis ʼn eerste vir die Klein-Karoo is, kan wildkykers nou in die veld saam met gidse stap en wilde jagluiperds in hulle natuurlike habitat besigtig. Besoekers aan Buffesldrift Game Lodge, ʼn gewilde wildsreservaat buite Oudtshoorn, kry nou die geleentheid om tydens ʼn besonderse wildlewe-ervaring van naby te sien hoe jagluiperds in hul natuurlike omgewing lyk.

Volgens Arrie Crafford, bestuurder van die Buffelsdrift Stigting, word die jagluiperdprojek in noue samewerking met die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT) gedoen en is die Buffelsdrift-jagluiperdprojek deel van ʼn groter poging om jagluiperds te teel en weer in die natuur vry te laat. Die wildreservaat het pas hierdie nuwe ervaring in die natuur bekend gestel, sover bekend die enigste van sy soort in die  Klein-Karoo.

Andries van Schalkwyk, besturende direkteur van die reservaat, sê die staptog in die natuur waar wilde jagluiperds vrylik beweeg, is ook ʼn manier om bewaring van jagluiperds verder te beklemtoon en te ondersteun.

“Om ons bewaringsaktiwiteite en spesifiek die jagluiperd-projek deeglik te kon bestuur, is die Buffelsdrift Stigting in 2018 tot stand gebring. Daarvoor het ons ʼn verdere 1 500 ha by die bestaande reservaat gevoeg waarop die jagluiperds aangehou word. Aanvanklik het ons twee mannetjies aangehou en het kort daarna ʼn wyfie bygevoeg.”

‘n Opgeleide wildbewaarder neem besoekers in die veld om na die jagluiperds te gaan kyk. Die jagluiperds word deur middel van uitsendings van hul radiohalsbande opgespoor en verseker ‘n baie unieke ervaring. (Foto: Verskaf)

Van Schalkwyk het gesê die Buffelsdrift Stigting het reeds in 2018 met ʼn leeuprojek begin. Daar mag nêrens in die Wes-Kaap met leeus in aanhouding geteel word nie. Toe daar elders in die Wes-Kaap drie welpies gebore is en omdat die geriewe vir hul aanhouding nie geskik was nie, is die regte geriewe geskep en is die welpies na Oudtshoorn geskuif.

“Hierdie bewaringsprojek word deur die EWT gekoördineer en ondersteun deur verskeie vennote in die bewaringswêreld, insluitend navorsers, verteenwoordigers van nasionale parke, provinsiale bewaringsgebiede en private natuurreservate.

“Besoekers kry nou die unieke geleentheid om in die natuurlike habitat van wilde jagluiperds rond te beweeg. Ons jagluiperds jag self en word glad nie gevoer nie. Hulle is dus sku vir mense en daar is nie ʼn gevaar dat mense aangeval sal word nie. Die doel van hierdie ervaring, waartydens geen kontak of voer van die jagluiperds toegelaat word nie, is om besoekers die geleentheid te gee om die jagluiperds met die hulp van ʼn opsporingstoestel op te spoor en om hulle op ʼn veilige afstand in hul natuurlike omgewing te besigtig. Daar word dus geensins op die dier se natuurlike vryheid inbreuk gemaak nie.

“Ons het onlangs ʼn nuwe mannetjie hier vrygelaat. Hy was vir ʼn maand in ʼn kleiner kamp op die terrein van die Buffelsdrift Game Lodge om hom kans te gee om aan sy nuwe tuiste gewoond te raak, maar is in die groot reservaat vrygelaat waar hy nou vry saam met die wyfie rondloop.

“Die mannetjie en wyfie is van elektroniese halsbande voorsien sodat ons te enige tyd kan sien presies waar hulle is. Daardeur kan ons feitlik verseker dat besoekers wat hierdie ervaring wil meemaak, wel die luiperd te siene sal kry. Die halsbande moet elke 18 maande afgehaal word om die batterye te vervang. Dit is ʼn baie gespesialiseerde oefening wat met die hulp van ʼn helikopter en gekwalifiseerde veeartse gedoen word.”

Roy Engelbrecht luister aandagtig of hy die sein van die jagluipers kan hoor terwyl besoekers in die voertuig angstig wag. (Foto: Verskaf)

Van Schalkwyk het ook daarop gewys dat die Wes-Kaapse regering se departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme hulle met finansiering bygestaan het.

“Met hierdie geld kon ons toegewyde jagluiperdgidse laat oplei en is addisionele prooidiere, soos springbokke, vir die jagluiperds aangekoop sodat hulle verseker is dat daar genoeg kos is om self te jag. Hulle vang omtrent elke dag ʼn bok en dit is belangrik om hierdie balans in sowel die drakrag van die veld as die beskikbaarheid van geskikte prooi, reg te bestuur,” het Van Schalkwyk gesê.

Volgens Crafford wil hulle hierdeur nie net toeriste na die Klein-Karoo lok nie, maar ook ʼn daadwerklike poging aanwend om te help met die bewaring van die jagluiperd.

“Hopelik sal die mannetjie en wyfie mekaar die een of ander tyd vind en begin teel. Deur ons teelprogram sal ons ook help verseker dat inteling nie plaasvind nie en die sterkste genepoel uitgebrei word.

“Ons fokus met die teelprojek is hoofsaaklik om te verseker dat inteling van jong jagluiperds nie plaasvind nie, om jagluiperds veilig en doeltreffend in hul natuurlike habitat te bestuur en te beskerm, en om toeriste bewus te maak van die bewaringsbelang van hierdie bedreigde diere,” sê Crafford.

Hanti Nelson, adjunk-direkteur van die departement van finansies en ekonomiese geleenthede van die Wes-Kaapse regering, Andries van Schalkwyk, besturende direkteur van Buiffelsdrift Game Lodge en Jacques Stolts, direkteur van die departement by die kamp waarin die jagluiperdmannetjie gehou is en nou vrygelaat is. (Foto: Verskaf)

Volgens David Maynier, LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede in die Wes-Kaap, het die toerisme produk-ontwikkelingsfonds van die provinsie ʼn deel van hul geld van R5 miljoen beskikbaar gestel vir hierdie projek.

“Hierdie geld word gebruik om bestaande toeristeprodukte uit te bou en meer aantreklik te maak ten einde die Wes-Kaap as bestemming vir toeriste uit te bou. Die Buffelsdrift-jagluiperdprojek is een van hierdie projekte wat voortgesette navorsing oor jagluiperds gaan kombineer met die bevordering van toerisme.

“Ons het saam met ons promosie-agentskap, Wesgro, ʼn omvattende strategie van stapel gestuur  om toerismegroei aan te moedig en om die herstel van die bedryf ná afloop van die Covid-19-pandemie te  herstel.

“Dit sluit onder meer in die ontwikkeling van nuwe produkgeleenthede in die toerismebedryf en ondersteuning hiervan om die gehalte van die ervaring wat toeriste kry, uit te bou,” het hy gesê.

Maynier meen ook dat die vryloop-jagluiperdprojek van Buffelsdrift internasionale en plaaslike toeriste na Oudtshoorn sal lok en hulle sal aanmoedig om die afgeleë en plattelandse gebiede van die Wes-Kaap te verken.

“Nie alleen sal dit Buffelsdrift Game Lodge se reputasie as ʼn etiese wildlewe-bestemming versterk nie, maar dit ondersteun ook die herstel van sakeondernemings, veral in die toerisme- en gasvryheidsbedryf van die streek.

“Ons sal die Buffelsdrift vryloop-jagluiperdprojek ondersteun met verdere raad en leiding soos nodig. Die projek sal ook deur plaaslike en streekstoerismekantore bemark word sowel as deur Wesgro se bestemmingsbemarkingsprojekte.”

  • Buiten die jagluiperds bied Buffelsdrift Game Lodge ook opvoedkundige inligtingsgeleenthede oor olifante aan, daar is safari’s na onder meer meerkatkolonies, wildsritte snags om die nagdiere te besigtig en bossafari’s bedags waartydens meer as 23 wildspesies soos kameelperde, sebras, springbokke, njalas en nog vele meer te siene is. Daar is ook ryk plant- en voëllewe en natuurskoon soos net die Klein-Karoo bied. Voor die restaurant is ʼn reusedam van ongeveer 5 ha met seekoeie en watervoëls.
  • Die reservaat se akkommodasie in luukse tente is van hoogstaande gehalte en die restaurant bied uitmuntende etes. Al die fasiliteite het ʼn asemrowende uitsig oor die Swartberge.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Thom ·

Die gemors het my swartwitpenskalwers opgevang __ ek moes dit maar verduur maar ek gee jou ‘n brief ___ vang hulle my skape gaan hulle van tuiste verander !

Ansie ·

Ek verstaan nou nie. Die jagluiperds is in ‘n wildreservaat. Hoe het hulle by jou swartwitpenskalwers uitgekom? En hoe sal hulle by jou skape uitkom?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.