Staptogte vier petisie oor geslagsgebaseerde geweld

Leilani Kuter, wat met haar staptogte bewustheid oor verkragtings skep, pak binnekort weer die langpad aan om ʼn organisasie te ondersteun wat die naweek ʼn petisie aan pres. Cyril Ramaphosa sal oorhandig oor geslagsgebaseerde geweld.

Die SA Women Fight Back-organisasie sal Vrydag die petisie met meer as ʼn halfmiljoen handtekeninge aan Ramaphosa oorhandig om hom te herinner aan sy belofte dat hy vroue en kinders teen geslagsgebaseerde geweld sal beskerm. Die organisasie sal Saterdag ʼn vreedsame massaoptog in Kaapstad lei om die kollig verder op die saak te plaas.

Kuter (45) sal intussen ook op 7 Maart die sogenaamde Namuhla-projek-staptog van 50 km tussen die Clearwater-winkelsentrum in Roodepoort en die Wieg van die Mensdom aanpak ter ondersteuning van die SA Women Fight Back-petisie.

Sy is self ʼn verkragtingslagoffer en wil deur dié staptog bewustheid skep oor seksuele misdade teen vroue, mans en kinders. Sy sal ook poog om R50 000 in te samel vir die niewinsgewende organisasie Yellow For Survivors-fonds.

Leilani Kuter. (Foto: Verskaf)

Dié fonds is gestig om finansiële steun te bied aan organisasies wat hulle daarop toespits om die lewe van verkragtingslagoffers te verbeter.

“Deur die Namuhla-projek te ondersteun en 50 km aan te durf, het ek die geleentheid om ʼn stem te gee aan die stemloses. Hierdie staptog is vir vroue in hul 70’s en 80’s wat 50 jaar gelede verkrag is en nooit die moed gehad het om daaroor te praat nie. Projekte soos dié help hulle om hul mag terug te neem,” sê Kuter.

In 2019 het Kuter ook die langpad aangedurf. Sy het 729 km afgelê en meer as R270 000 ingesamel om troospakkies vir verkragtingslagoffers aan te koop. Dié pakkies word onder organisasies versprei wat verkragtingslagoffers ondersteun en bevat items wat onmiddellike steun aan die slagoffers, veral kinders, kan bied ná ʼn verkragting, soos skoon onderklere, sanitêre ware, iets om te eet en te drink, en ʼn sagte speelding vir die kinders.

Die organisasies wat baat by dié staptog, wat oor 27 dae gestrek het, is die Matla A Bana, The Go Purple Foundation, Kinderwelsyn Mbombela (Nelspruit) en 1000 Women&Matrix Men.

Besoek SA Women Fight Back se Facebook-bladsy vir meer inligting oor die staptogte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.