Stellenbosch-egpaar maak saam geskiedenis

Drs. Koot Kotze en Helene-Mari van der Westhuizen (Foto: Universiteit Stellenbosch)

ʼn Stellenbosse egpaar glo daarin om saam-saam groot mylpale te behaal: Eers het dié egpaar saam graad gevang, daarna ʼn niewinsgewende organisasie gestig en nou het hulle geskiedenis gemaak deur die eerste getroude paartjie in die geskiedenis te word wat in dieselfde jaar albei die gesogte Rhodes-beurs ontvang.

Dalk is dié saam-saam werk tóg drs. Koot Kotze en Helene-Mari van der Westhuizen se geheime wapen, aangesien die egpaar in die verlede ook al groot sukses behaal het met akademiese artikels waaraan hulle saam geskryf het wat toe later in internasionale joernale gepubliseer is. Vir hul betrokkenheid by die Stellenbosse Veilige Werksure-veldtog is daar ook nét lof.

Op hul eie behaal hulle egter ook groot suksesse: Kotze het in 2015 die gesogte kanseliersmedalje ontvang en Van der Westhuizen het in dieselfde jaar die dekaanstoekenning vir leierskap ontvang.

Nou gaan die egpaar met die Rhodes-beurse weer saam studeer – dié keer aan die Universiteit van Oxford in Engeland.

Helene-Mari het reeds in Augustus verlede jaar gehoor dat haar aansoek suksesvol was, maar Koot moes tot in Desember wag om te hoor of die beurs ook aan hom toegeken gaan word.

“Tydens die onderhoude in die finale ronde het die aansoekers almal in ʼn binnehof byeengekom waar die suksesvolle kandidate se name uitgelees is,” vertel Koot. “Ek was eers nie seker of ek reg gehoor het toe die voorsitter my naam lees nie, en moes hard teen die trane baklei toe ʼn vriend dit bevestig.”

Helene-Mari meen dié nuus is die beste nóg. “Ons het nou die geleentheid om by die beste universiteit ter wêreld (volgens die jongste Times Higher Education World University Rankings) nagraads te studeer – en ek kan boonop dié geleentheid met my man te kan deel; dit is vreeslik spesiaal.”

Hoewel daar ʼn plan-B was as albei nié die beurs ontvang het nie, is hulle dankbaar dat hulle nou kan begin met die voorbereidingsproses om na Engeland te vertrek. “Die een wat nié die beurs sou kry nie, sou alternatiewe finansiering vir nagraadse studies ondersoek of by die Verenigde Koninkryk se Nasionale Gesondheidsdiens vir werk aansoek doen,” vertel Koot. “Realisties gesproke het ek gedink ek sal die een wees wat net sal saamgaan, ʼn hond aanneem en dalk ʼn boek probeer skryf.”

Albei se visier is nou op kursusse wat hulle sal help om ʼn positiewe bydrae in die Suid-Afrikaanse gesondheidskonteks te lewer. Die beurs beteken egter nié outomatiese keuring vir die studieprogramme nie en beide het reeds vir meer as een program aansoek gedoen.

“Na afloop van my studies sal ek graag ʼn verskil wil maak in die voorkoming van siektes en sterftes in ontwikkelende lande, en spesifiek ook in Suid-Afrika – hetsy deur middel van navorsing in gesondheidsorg of ʼn kombinasie van die twee. Dit sal afhang van waarheen ons studies ons oor die volgende paar jaar lei,” vertel Koot.

Helene-Mari beskou die Rhodes-beurs as ʼn geleentheid om van die wêreld ʼn regverdiger en gesonder plek te maak. “Die beurs is grotendeels geskep deur Cecil Rhodes se welvaart wat hy ten koste van baie Suid-Afrikaners bekom het. Ek dink die beurs skep ʼn geleentheid om die onreg wat Suid-Afrikaners steeds daagliks ervaar, reg te stel deur jongmense wat hulself tot Suid-Afrika se toekoms verbind, te help om dít te vermag.”

Die egpaar, wat tans hul gemeenskapsjaar saam by die Zithulele-hospitaal naby Mqanduli in die Oos-Kaap doen, sal in Oktober by Oxford aanmeld.

Annette Gibson, wat dié beurs vir Suider-Afrika (Suid-Afrika, Botswana, Lesotho, Malawi, Swaziland en Namibië) administreer, het bevestig dit is die eerste keer in die geskiedenis van dié beursprogram dat ʼn egpaar in dieselfde jaar saam die beurs ontvang.

“Ons het al egpare gehad wat albei beurse ontvang het, maar nog nooit in dieselfde jaar nie,” sê sy.

Vroue word sedert 1976 toegelaat om vir Rhodes-beurse aansoek te doen. Vir meer inligting, besoek die Universiteit Stellenbosch se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gwen ·

Moet die afkorting nie eerder drr. as drs. wees nie? Doktore teenoor dokters. Tensy albei grade in die mediese wetenskap het.

OMW ·

Gwen albei is dokters volgens die artikel.

Wel gedaan julle twee!!! Dis n ongelooflike prestasie en geleentheid.

Justice ·

Wow ! – werklik `n uistekende prestasie vir twee pragtige mense.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.