Stellenbosch-landgoed Afrika se toonaangewendste

Die prentjiemooi Lanzerac-wynlandgoed buite Stellenbosch in die Wes-Kaap. (Foto: Facebook via @LanzeracWineEstate)

Die prentjiemooi Lanzerac Hotel & Spa in Stellenbosch in die Wes-Kaap is pas aangewys as die toonaangewendste wynlandgoedhotel vir 2019 in die World Travel se kategorie vir Afrika en die Indiese Oseaan.

Die wenners van dié gesogte pryse is pas by ʼn glansryke galageleentheid in Mauritius aangewys.

Lanzerac het verskeie ander vername wynlandgoedere uitgestof om met die louere weg te stap, insluitend Delaire Graaff in Stellenbosch, die Grande Roche-hotel buite die Paarl, asook La Residence, die Leeu-landgoed en Mont Rochelle buite Franschhoek.

Die Leeu-landgoed het in 2017 én 2018 met die toekenning vir toonaangewendste wynlandgoedhotel weggestap.

Lanserac is ook aangewys as die wenner in die kategorie luukse kontemporêre hotel van die jaar in die Africa & Middle East Luxury Travel Guide-toekennings; beste luukse hotel en wynmakery in die MEA Markets 2019 African Business Excellence-toekennings en Suid-Afrika se mees uitstaande hotel in die 2019 Global Luxury Hotel & Spa-toekennings.

Die Lanzerac-wynlandgoed buite Stellenbosch. (Foto: Facebook via @LanzeracWineEstate)

Die hotel sê in ʼn verklaring hy het ook ʼn sertifikaat van uitnemendheid ontvang van die bekende reiswebtuiste Tripadvisor, wat toegeken is op grond van deurlopende positiewe resensies wat oor die hotel gepubliseer word.

Luidens die verklaring het die hotel 13 maande aan herstelwerk bestee nadat hy sy deure vir die publiek moes sluit weens die verwoestende brand op 28 Mei 2017. “Sedert ons heropening op 1 Julie 2018 het ons al ons tyd en hulpbronne daaraan bestee om ʼn vyfsterdiens en onvergeetlike gaste-ervaring te bied,” sê Emile Langenhoven, algemene bestuurder van Lanzerac.

“Die afgelope twee jaar vas ʼn reis van groei. Hierdie toekennings is vir ons ʼn bevestiging dat ons op die regte pad is en inspireer ons om voortaan nog beter te wees.”

Lanzerac is reeds in 1692 op die been gebring en is die derde oudste plaas in die Stellenbosch-omgewing. Die eerste eienaar van die plaas, Isaac Schrijver, het die plaas Schoongezicht genoem danksy die asemrowende uitsig om die plaas. Elizabeth Catherina “Kitty” English het Schoongezicht in 1920 gekoop en die landgoed se naam na Lanzerac verander.

Nog van die 2019 World Travel-pryswenners:

Afrika se toonaangewendste lugredery: Ethiopian Airlines
Afrika se toonaangewendste lughawe: Kaapstad Internasionale Lughawe
Afrika se toonaangewendste strandoord: Diana Beach, Kenia
Afrika se toonaangewendste familieoord: Leopard Beach Resort & Spa, Kenia
Afrika se toonaangewendste oord: Sun City, Noordwes
Afrika se toonaangewendste boetiekhotel: Saxon Hotel, Villas and Spa, Johannesburg
Afrika se toonaangewendste sakehotel: Transcorp Hilton Abuja, Nigerië
Afrika se toonaangewendste stadshotel: Pepperclub Hotel & Spa, Kaapstad
Afrika se toonaangewendste hotel: Selman Marrakech, Marokko
Afrika se toonaangewendste motorverhuringsmaatskappy: Europcar
Afrika se toonaangewendste Safari Lodge: Thanda Safari Lodge, KwaZulu-Natal
Afrika se toonaangewendste private wildreservaat: Shambala- private wildreservaat, Limpopo

Kliek hier vir ʼn volledige lys van die wenners.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Judge Dredd ·

Nou adverteer julle dit nog.
Weet julle nie dat die ANC/EFF dit nou gaan probeer vat nie nie!!

wenners ·

Lanzerac is waarlik ‘n stunning en ikoniese plek in Suid-Afrika. Stem ook saam met die ander wenner -The Twelve Apostles Hotel in Kaapstad. Dit is puik om daar te bly. Singita Lebombo in the Nasionale Krugerwildtuin is ook ‘n wenner.

Wonderlike plekke ·

Die High Tea van die Twelve Apostles is briljant.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.