Stellenbosch maak hart oop te midde van Covid-19

Jeanneret Momberg (Foto: Verskaf)

Toe Suid-Afrika op Vrydag 27 Maart die nasionale staat van afsondering ingegaan het, het Jeanneret Momberg, algemene bestuurder van Visit Stellenbosch, reeds geweet noodsaaklike intervensie gaan nodig wees om die mees kwesbare mense in hul gemeenskap te help.

Visit Stellenbosch is die amptelike toerismeliggaam van die Eikestad en hulle het dadelik oproepe begin maak om ʼn gemeenskapsvoedingskema op die been te bring.

Stellenbosch se munisipaliteit, die Universiteit Stellenbosch, die Groter Stellenbosch-ontwikkelingstrust en Stellenbosch Civil Advocacy Network (Scan) het almal ingespring om te help.

Binne die eerste week het dié projek, genaamd Stellenbosch Unite, reeds R500 000 ingesamel. Daarmee kon hulle 3 300 kospakkies versprei na kwesbare lede van die gemeenskap.

Dié kospakkies, wat ʼn gesin van vier vir ʼn week kan voed, bestaan uit 1 kg meelblom, 1 kg rys, 200 g sopmengsel, 500 g droë bone, twee pakkies soppoeier, twee blikkies gebakte bone, ʼn pakkie sout en ʼn koekie Sunlight-seep.

Maar soos wat die virus versprei het en die inperkingstydperk verleng is, het die nood groter geword en moes hulle saamspan om ʼn bykomende 4 000 mense te help.

Plaaslike sjefs Bertus Basson, Brendan Stein, James Would, George Jardine, Cornelle Minnie en Stephan Fraser het ingestem om by te dra tot die 1 500 ℓ sop wat daagliks nodig was om die massas mense te voed.

Stellenbosch (Foto: kapstadt.de)

“Dis ʼn massiewe taak, maar ons het ʼn konstante toevoer van voedsame sop nodig by al ons verspreidingspunte. Ons hoop dat met die ondersteuning van inwoners, maatskappye en plaaslike winkels, ons die nood kan laat bedaar – die alternatief is hartverskeurend,” sê Momberg.

Tot op hede het Stellenbosch Unite reeds R2 miljoen ingesamel en 15 939 kospakkies versprei. ʼn Minimum van 3 300 huishoudings word daagliks op die manier bygestaan. Al die geld gaan direk na die kospakkies en al 5 567 mense wat deel is van die voedingskema werk as vrywilligers.

Momberg sê dié inisiatief spreek boekdele oor die warm hart van Stellenbosch.

“Die projek was omarm en ondersteun deur Stellenbosch-besighede, plaaslike inwoners, alumni van die universiteit en selfs internasionale besoekers wat voorheen Stellenbosch besoek het en verlief geraak het op die pragtige dorp.”

Hoewel Momberg oorweldig is deur die ondersteuning wat die inisiatief genereer, besef sy ook dat dit nie nou stoom kan verloor nie. “Ons moet aanhou tot ten minste einde Oktober. Dit beteken dat ons swaar gaan steun op die goedheid van individue, en herhalende donasies.”

Momberg moedig mense aan om enige donasie, groot of klein, te maak. “ʼn Kospak van net R80 kan ʼn gesin van vier ʼn week lank voed. As jy in Stellenbosch studeer het, die dorp al besoek het of hier besigheid gedoen het, oorweeg asseblief ʼn klein donasie sodat ons momentum kan behou,” pleit sy.

Om ʼn donasie te maak, besoek https://stellenboschunite.org/#donate

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.