Stellenbosch Universiteitskoor maak skoonskip by Koorspele

Foto: US Woordfees/Facebook

Foto: US Woordfees/Facebook

Die Universiteitskoor van Stellenbosch was die groot wenner by die agtste Internasionale Koorspele in Rusland wat Saterdag ten einde geloop het.

Martin Viljoen, woordvoerder van die universiteit, het gesê die US-koor, onder leiding van André van der Merwe, het eerste plekke en goue medaljes in drie kategorieë verower.

“In die kategorie gewyde á capella het hulle 92% behaal, in die kategorie vir geestelike liedere 94% en in die afdeling vir kontemporêre musiek 98%. Dit is die hoogste punt toegeken in enige van die 27 kategorieë waarin die afgelope 10 dae meegeding is. Met hierdie prestasie behou die US Koor hul eerste plek op die Interkultur-ranglys vir beste internasionale nie-professionele kore, ʼn posisie wat hulle reeds sedert 2012 beklee.”

Foto: US Woordfees/Faceboo

Foto: US Woordfees/Faceboo

Viljoen het gesê as verdere bonus, het die US-koor ook ʼn spesiale CD-kontrak losgeslaan in die gesogte Choirs of the World-reeks.

Die Internasionale Koorspele word tweejaarliks aangebied en vanjaar het meer as 300 kore uit 36 lande deelgeneem. Dit is die grootste koorkompetisie ter wêreld. Interkultur het vroeër aangekondig die negende Internasionale Koorspele sal in 2018 in Pretoria, Suid-Afrika, gehou word.

Die US-koor bestaan uit 120 studente en Van der Merwe is reeds die afgelope 12 jaar die dirigent.

Die koor sal in twee groepe na Suid-Afrika terugkeer. Die eerste groep word op Dinsdag by die Kaapstadse Internasionale-lughawe verwag en die tweede groep Vrydag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hein ·

Menlopark koor was daar gewees en hulle het in engels, afrikaans en zoeloe gesing. Hulle het twee silwer medaljes gekry in hulle twee katogorieë waarin hulle gedinh het. Stellenbosch koor hoor ek is glo uitstekend en ek sal hulle graag wou sien.

Santjie stoof ·

Mooi so Stellenbosch!!!
Ook aan dirigent Van der Merwe en almal betrokke. Besondere prestasie.
Jul maak ons “geen-nootvas-ouens” se harte warm klop van bewondering.?

Ludwig ·

Skitterend, Maties! Skitterend André van der Merwe! Jou pa is nie meer vandag daar nie, maar hy sou baie trots gewees het op jou! Baie geluk ook aan die ander kore wat goed gepresteer het. Ons wag almal vir daardie CD.

Lance ·

Watse tale mag hulle sing wonder ek ? Is daar ook groot issues met dit ?

saartjie ·

Hierdie koor is een van die twaalf universiteitskore wat deelneem aan kykNET se nuwe reeks Varsity Sing wat Donderdagaand afskop. Sal interessant wees om aan die einde te sien of US se koor as die wenners uit die stryd gaan tree oor 13 weke.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.