Stellenbosch vier dié naweek fees

‘n Voorsmakie van “Kom Flikker en Flash”-fees
Kreatiewe sessie onder leiding van Sylvaine Strike by Hoër Meisieskool Bloemhof. (Foto: Woordfees/Facebook)

Die Toyota Universiteit Stellenbosch Woordfees vind eers heelwat later vanjaar plaas, maar die komende naweek is daar ʼn lusmakertjie nadat die Woordfees ʼn opleidingswerksessie vir kunstenaars aangebied het.

By die eerste Toyota US Woordfees-Kunstenaarsweek wat tot 11 April duur, kry 70 topkunstenaars uit ʼn verskeidenheid dissiplines die geleentheid om hul vaardighede, idees en konsepte onder leiding van agt toonaangewende fasiliteerders te slyp.

Die teatermakers Andrew Buckland, Gcina Mhlophe, Mmatumisang Motsisi, Sylvaine Strike en Jefferson Tshabalala, die danser-choreograwe Gregory Maqoma en Alfred Hinkel en die digter en verhoogkunstenaar Jolyn Phillips help om in die slypskoolprogram kunstenaars se projekkonsepte te ontwikkel.

Hierdie nuwe konsepte sal aan die einde van die Kunstenaarsweek as kort vertoning in onkonvensionele ruimtes in die Stellenbosch-middedorp aangebied word. Die vertonings is gratis en Covid-19-regulasies sal streng toegepas word.

Volgens ʼn Woordfees-woordvoerder, Danie Marais, heet die naweek se feestelikheid Kom Flikker en Flash, en wil die Woordfees ruimtes wat tans leegstaan met lig en kuns vul en nuwe lewe blaas in ʼn dorp wat swaar deur die pandemie en die gepaardgaande verlies aan koopkrag en toerisme getref is.

Lede van die publiek sal ook met die vertonings bydraes tot die Tribuo-teaterfonds kan lewer.

Vrydagaand se verrigtinge skop af met ʼn sang-en-poësieaand wat van 18:30 tot 21:30 aangebied word. Saterdagmiddag van 16:00 tot 18:00 word ʼn straatsoiree aangebied deur Stellenbosch Wine Routes. Van 18:00 tot 22:30 Saterdagaand word kort vertonings van tussen vyf en 15 minute elk aangebied, met ʼn orreluitvoering in die NG Moederkerk Stellenbosch ter afsluiting.

Die Kom Flikker en Flash-fees word aangebied met die steun van Toyota, die Universiteit Stellenbosch, die Nasionale Teaterinisiatief (NATi), kykNET, Stellenbosch Wine Routes en Visit Stellenbosch.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Danie ·

Pragtige gedagte.
Nou kan die dosyne boemelaars en bosslapers wat stellenbosch se strate oorheers darem gratis opwinding geniet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.