Stellenbosse egpaar kry saam doktorsgrade

Jamie en Rosemary Cripwell (Foto: Stefan Els)

Jamie en Rosemary Cripwell (Foto: Stefan Els)

deur Alec Basson van die Universiteit Stellenbosch 

Jamie en Rosemary Cripwell, ʼn egpaar van Stellenbosch, het vir etlike jare saam hard gewerk en nou ontvang hulle hul doktorsgrade in dieselfde week by die Universiteit Stellenbosch (US) se Maart 2017-gradeplegtigheid.

Jamie het Woensdag-oggend sy doktorsgraad in chemiese ingenieurswese by die US se tweede gradeplegtigheidseremonie ontvang, terwyl Rosemary Donderdag (16 Maart) haar PhD in mikrobiologie ontvang. By Woensdagoggend se seremonie is grade aan studente in die fakulteite teologie en ingenieurswese toegeken.

Jamie en Rosemary se doktorsgrade tel onder die 140 nuwe doktorsgrade wat vandeesweek toegeken word en saam met dié wat in Desember toegeken is, sal dit die aantal doktorsgrade vir die 2016 akademiese jaar op 278 (in vergelyking met 2015 se 267) te staan bring.

“Dit is wonderlik om ons doktorsgrade in dieselfde week te ontvang. Dit was ook een van die redes waarom ons besluit het om dit saam te voltooi. Ons het mekaar gehelp en wedersyds geïnspireer,” sê Jamie.

Hy praat met groot lof van Rosemary en sê sy het hom aangemoedig om sy doktorsgraad te doen.

“Aanvanklik was ʼn PhD was nie deel van my planne nie, maar Rosemary het my geïnspireer om te begin.”

Jamie en Rosemary Cripwell (Foto: Stefan Els)

Jamie en Rosemary Cripwell (Foto: Stefan Els)

Die paartjie is oorspronklik van Johannesburg en het aan die Universiteit van die Witwatersrand ontmoet. Hulle het ook hul meestersgrade saam voltooi.

Jamie sal na-doktorale navorsing aan die US doen en sê hy beplan om twee artikels oor sy doktorsgraad te publiseer. Twee artikels het reeds verskyn.

“Dit was nie maklik nie en frustrerend by tye,” erken Rosemary, “maar ons het mekaar die hele tyd ondersteun.”

Sy sê dit was goed om hul doktorsgrade binne die drie jaar, wat hulle as doelwit gestel het, te voltooi.

“Ons kon mekaar inspireer en idees uitruil. Dit was goed om dit te doen saam met iemand wat my as student en mens ken.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jan Jooste ·

Baie geluk. Só moet die Boere mos ploeg!!! Nou vir post-doktorale navorsing. Voorspoed.

JC ·

Die twee persone; hoe prysenswaardig hul prestasies dan ookal is; en nie dat dit afbreuk daaraan doen nie; is Engels, geensins Afrikaners (boere) nie, of hoe?

Jan Jooste ·

JC, baie (dalk die meerderheid) van Afrikaanssprekendes is ook nie regtigwaar Boere nie. Ek gee graag aan die mense die voordeel van die twyfel, veral omdat hul artikel in Maroela Media verskyn. Emily Hobbouse was tog ook ‘n ware Boer? En Jan Smuts?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.