Stellenbosser as internasionale topwynmaker gekroon

Adrie Beeslaar van Stellenbosch het die internasionale beste wynmaker vir 2015 gewen. Foto: www.splashpr.co.za

Abrie Beeslaar van Stellenbosch het die internasionale beste wynmaker vir 2015 gewen. Foto: www.splashpr.co.za

Suid-Afrika het amptelik die heel beste wyn in die wêreld. Abrie Beeslaar, keldermeester van Kanonkop-wynlandgoed in Stellenbosch, is onlangs by ʼn seremonie in Londen gekroon met die gesogte titel Internasionale Wynmaker van die Jaar vir 2015.

Abrie het dié prys ontvang tydens die gala-toekenningsgeleentheid van die International Spirit and Wine Competition. Die kompetisie trek jaarliks meer as 5 500 inskrywings van meer as 50 verskillende lande. Dit is egter die tweede keer dat hy dié titel verower. Die vorige keer was in 2008.

Abrie het in ʼn onderhoud met ʼn webwerf gesê dit is ʼn groot voorreg om vir die tweede keer dié titel agter sy naam te kan skryf. “Om vir die tweede keer die wêreld se topwynmaker genoem te word is iets wat ’n mens glad nie verwag of eens in jou wildste drome oorweeg nie. Dit het nog nie werklik ingesink nie.”

Abrie vertel ook dat dié sukses te danke is aan die hele span by Kanonkop asook die mense wat die wyn internasionaal bemark. Hy voeg egter by dat dit nie moontlik sou wees sonder die wonderlike omgewing waarmee Kanonkop geseën is nie. “Dit is die tipe grond, asook die klimaat wat gesorg het vir die voortreflike druiwe waarmee ek die wyn kon maak.”

Kanonkop het ook die kategorie vir beste Pinotage gewen met sy Kanonkop Pinotage 2012 en is as die beste Suid-Afrikaanse wynvervaardiger van die jaar aangewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ludwig ·

Wonderlike prestasie! Nou weet ek sommer ook waarmee om my wynrakke aan te vul. En die beste nuus in die agtergrond, is dat hy hoogwaarskynlik sy opleiding in Afrikaans ontvang het!

Karin Bloem ·

Puik prestasie, veels geluk Abrie Beeslaar. Hou so aan!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.