Stem en wen: Maroela se Somerbruid 2024

Afrikaanse meisies maak die mooiste bruide – dis nou maar gewis!

Maroela Media gaan met elke seisoen ʼn seisoenebruid aankondig en uiteindelik gaan ons lesers ook die geleentheid kry om die Bruid van die Jaar vir 2024 aan te wys.

Paartjies wat tussen Desember 2023 en Februarie 2024 getrou het, het vir die Somerbruid in aanmerking gekom.

Uit honderde inskrywings moes ʼn beoordelaarspaneel behoorlik kopkrap! Ons het die top-10 Somerbruide saamgestel en nou wil ons by julle, ons lesers, hoor watter een van dié mooie bruide as die Somerbruid aangewys moet word en uiteindelik deurdring na die finale ronde as Maroela se Bruid van die Jaar.

Deur die loop van die jaar sal ons ook ʼn Herfsbruid (troues in Maart – Mei 2024), Winterbruid (troues in Junie – Augustus 2024) en Lentebruid (September – November 2024) aanwys. Hou dus Maroela dop as jy wil seker maak jy skryf vir dié opwindende kompetisie in!

Wat kan jy wen?

(Foto: Miekeraai Modemal/Instagram)

Stem vir ons Somerbruid en kom in aanmerking vir een van vyf geskenkbewys van R500 van Miekeraai Modemal. Miekeraai se produkte is van uitstekende kwaliteit en genoeg om enige iemand se kop te laat draai. Oorbelle, haarknippe, serpe en nog meer kan by Miekeraai gevind word.

Mia Botha, eienaar van Miekeraai, het in 2021 die AfriForum Sakenetwerk se Tinteltong-toekenning ingeoes vir haar bydrae tot die bevordering van Afrikaans in die sakewêreld.

Hier is die top-10 Somerbruide

Die uiteindelike wenner van ons Somerbruid-kompetisie wen twee nagte vir twee persone wat deel by die Olifants River Lodge (insluitend ontbyt) in die Middelburg-omgewing in Mpumalanga met die komplimente van Dream Hotels and Resorts. Die waarde van die prys beloop R6 400.

Izané Smook

Izané Smook

Izané en Dylan Smook van Hartenbos het op 3 Februarie 2024 by Kleingeluk in Hartenbos getrou.

“Tydens ʼn mistige oggend met koffie en beskuit staan ek en my strooimeisies op om die dag te begin. Van hare en grimering tot geskenke wat my verloofde en ek vir mekaar stuur. Die klok het vier keer gelui en met my pa langs my sy, besef ek dat ek vandag met die man wat God vir my gestuur het, trou. Die groot deure swaai oop en daar staan hy. Met trane in sy oë staan my handsome man daar en wag vir my. Ons het diep in mekaar se oë gestaar en kon nie wag om die belofte aan mekaar te maak nie. Die lekkerste gevoel was toe ons mekaar as mnr. en mev. Smook kon soen! Die lag, trane, blydskap en liefde was hoog en ons het elke oomblik geniet. Ons eerste dans, die gaste, die ete, speletjies en die dekor was alles net perfek. Soos ons gehoor het, gaan die aand in ʼn oogwink verby – en dit was so waar! Die lekkerste van alles was om te weet dat as ons vanaand by die deure uitstap, ons vir altyd saam stap.”

Madelein Thiersen

Madelein Thiersen

Madelein en Hannes Thiersen van Potchefstroom het op 6 Januarie 2024 by Kiepersol Country Retreat getrou.

“Op ‘n warm somersdag vroeg in die jaar het ons droom waar geword waaroor ons so lank gedroom het, selfs van voor ons ontmoet het. Daar in die Vrystaat met berge in die agtergrond het al die beplanning lewe gekry en kon ons familie en vriende die dag saam met ons geniet. Dit was werklik gevul met liefde, seëninge, dankbaarheid en ‘n viering van getrouheid. Een van ons gunstelingoomblikke was ons eerste dans wat spesiaal vir ons gechoreografeer is.”

Suzette de Gouveia

Suzette de Gouveia

Suzette en Divan de Gouveia van Brakpan het op 20 Januarie 2024 by Meulstroom Lodge getrou.

“Twee harte en twee siele het op hierdie perfekte somersdag een geword voor God met al ons geliefdes, familie en vriende as getuies. Langs die pragtige Wilgerivier het ons ewig trou aan mekaar beloof. Met ʼn lied aan my man gesing, geskryf deur Riana Nel, onthou ek hoe die trane saggies by sy wang afgerol het soos wat die kapel se deure oopgegaan het. Ek het in die gang afgestap met trane van geluk, want dit wat die Here vir ons beplan is ʼn toekoms van voorspoed en geen teëspoed nie. Die dag en alles daar rondom was perfek, alles het absoluut glad verloop, met die span van Meulstroom kan jy niks minder verwag nie! Sou ons weer hierdie geleentheid kry, sal ons alles presies weer só doen. Vanaf die ongelooflike mooi koningsproteas op die tafels tot en met die smaaklikste pampoenkoekies, want wat is ʼn troue sonder pampoenkoekies?! Daar is gesing, gelag en baljaar – presies soos wat ʼn lekker boeretroue moet wees. Geseënd is ons beslis!”

Lené Grundlingh

Lené Grundlingh

Lené en Jacques Grundlingh van Secunda het op 18 Desember 2023 by The Stone Cellar in Heidelberg getrou.

“Ons troudag was alles en meer waarvan ek al van my kleindogtertjie-dae gedroom het. Ons klein en intieme troue het dit moontlik gemaak dat ons elke kosbare oomblik kon indrink met ons naaste hartsmense. Van die saamkuier op die plaas die aand voor die troue, die eenvoud van ʼn plaasstal as “kerkie” tot die jolige makietie tot laat in die aand, sal vir altyd die perfekte begin van ons storie saam wees. Ons sal dit vir niks verruil nie!”

Kayla Higgs

Kayla Higgs

Kayla en David Higgs van Jeffreysbaai het op 17 Februarie 2024 by The Rosebarn getrou.

“Ons gaan al sedert 2017 uit, so ons kon nie meer wag vir ons droomdag nie. Ons het besluit om by die asemrowende mooi The Rosebarn, net buite Jeffreysbaai te trou. The Rosebarn met hulle getransformeerde plaasstal, met ultramoderne dekor, het dit vir ons maklik gemaak om hierdie venue te kies vir ons groot dag. Van die uitstekende sjef tot elke klein detail, het bygedra tot ons prentjiemooi dag. Ons het buite getrou op wit klippies onder sambrele, en dit het werklik gevoel of ons weggevoer is na een of ander Mediterreense eiland. Ons kon nie vir beter vra nie.”

Danica Boshoff

Danica Boshoff

Danica en Johan-Louis Boshoff van Tzaneen het op 10 Februarie 2024 by Venue Nouveau getrou.

“Ons dag was asemrowend. Dit was ʼn dag vol liefde en geluk. Al ons wildste drome het waar geword. Ons was bevoorreg om ons lewe aan mekaar te belowe, in die mooiste omgewing met die pragtigste dekor en blomme. My man het natuurlik ongelooflik aantreklik gelyk en het my asem weggeslaan. Die mense het ons dag vir ons só spesiaal gemaak en elke oomblik saam met ons geniet. Ons dag was geseënd met ʼn bui reën, en ek kon nie meer gelukkig wees daaroor nie. Alles het spontaan en in die oomblik verloop. Ek kan nie vir ʼn meer perfekte dag saam met die beste mense en die aantreklikste man gevra het nie.”

Jana Vienings

Jana Vienings

Jana en Nathan Vienings van Pretoria het op 16 Desember 2023 by De Harte Venue getrou.

“Ek en my man was bevoorreg genoeg om te kan trou op Geloftedag in Desember 2023. Dit is regtig waar wat almal sê: ‘Jou troudag is die kortste en die langste dag van jou lewe.’ Die Here se genade was so groot op ons dag en het vir ons die oggend reën gestuur om die dag lekker af te koel en toe ons seremonie begin, ʼn sonskyndag van daar af te gee. Die dag was so spesiaal met al ons familie en vriende wat van vêr af gereis het om ons spesiale dag saam met ons te vier. Die venue was fantasties en het 100% seker gemaak dat ons oor niks bekommerd hoef te wees nie. Ek sal enige dag weer trou met my man, want dit was 100% die lekkerste dag van my lewe en ons het die aand om gedans en gekuier!”

Yolandé Klopper

Yolandé Klopper

Yolandé en Pieter Klopper van Witrivier het op 3 Februarie 2024 by Alevi Farm Lodge getrou.

“Ons dag was vir ons die perfekte dag. Alles was net so mooi en so spesiaal en die liefde wat ons al twee daai dag gevoel het vir mekaar, was net perfek.”

Lianca-Lee van der Westhuizen

Lianca-Lee van der Westhuizen

Lianca-Lee en Wian van der Westhuizen van Carletonville het op 9 Desember 2023 by Red Cap Ranch Lodge in Carletonville getrou.

“Ons troudag kan beskryf word as ‘n dag vol vreugde, blydskap en definitief ‘n gebed wat beantwoord is. ‘n Belofte wat in vervulling gekom het en ‘n pragtige feesviering saam met vriende en familie.”

Chantellé Kleynhans

Chantellé Kleynhans

Chantellé en Leon Kleynhans van Secunda het op 9 Desember 2023 by Goedehoop Wedding Venue getrou.

“Ons kleurskema was grys en hemelsblou. Ons het ons eie tradisie gevolg en nie die normale troutradisies nie. Ons het altesaam 55 gaste gehad – familie en vriende wat net ʼn lekker groepie mense was om ons dag saam met ons te kon geniet.”

Stem vir jou gunsteling

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

  • Die sluitingsdatum om vir die Somerbruid te stem is 16 April 2024 om 23:45.
  • Vyf gelukkige Maroela-lesers kom elkeen in aanmerking vir ʼn geskenkbewys ter waarde van R500 by Miekeraai Modemal.
  • Die wenners van die Miekeraai-geskenkbewyse sal lukraak uit alle stemme gekies word.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • As jy aan die stemmery deelneem, stem jy in dat jou naam op Maroela Media se webwerf bekendgemaak mag word indien jy as een van die wenners van ʼn Miekeraai-geskenkbewys aangewys word.
  • Maroela Media kan nie aanspreeklikheid aanvaar as jou inskrywing vir een of ander tegniese rede ons nie betyds bereik nie.
  • Die prys(e) kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Maroela Media sal die wenners telefonies en per e-pos kontak.
  • Indien jy nie van ons hoor nie, kan jy aanvaar dat jy nie die wenner is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.