Stem vir jou SA’ner van die Jaar

Pretty Yende (Foto: Facebook)

Pretty Yende (Foto: Facebook)

Die Suid-Afrikaner van die Jaar-toekenning, ʼn inisiatief deur meesterbraaier en televisiepersoonlikheid Jan Braai en ook die boetie van Nasionale Braaidag, sonder jaarliks op Erfenisdag ʼn enkele Suid-Afrikaner uit vir sy of haar besonderse prestasie. Terselfdertyd herinner dit Suid-Afrikaners daaraan dat dié dag ten doel het om diversiteit in tradisies, kulture en geloof aan te prys en te waardeer.

Dié inisiatief is vanjaar in sy vierde aflewering. Suid-Afrikaner van die Jaar-finaliste vir 2016 is die Olimpiese atlete Caster Semenya en Wayde van Niekerk, in twee afsonderlike kategorieë, die sanger Black Coffee en die klassieke operasangeres Pretty Yende.

Die kletsprogramaanbieder en komediant Trevor Noah is in 2015 as Suid-Afrikaner van die Jaar aangewys vir sy besonderse prestasie as aanbieder van The Daily Show.

Dié inisiatief word bestuur onder die vaandel van Nasionale Braaidag, ook die projek van Jan Braai.

Die bekende braaier, wie se regte naam eintlik Jan Scannell is, sê die Suid-Afrikaner van die Jaar is iemand wat ʼn besonderse prestasie behaal het en ander Suid-Afrikaners trots maak om in dié land te bly.

“Die doel van die inisiatief is om uitsonderlike prestasies te vier wat die land tot stilstand bring, en om daardie spesiale oomblikke wat mense se harte warm laat klop, te erken,” het hy gesê.

Wayde van Niekerk (Foto: @WaydeDreamer, Twitter)

Wayde van Niekerk (Foto: @WaydeDreamer, Twitter)

Black Coffee is vanjaar benoem as die eerste Suid-Afrikaner wat ʼn BET- (Black Entertainment Award-) toekenning ontvang het.

Semenya is onder meer benoem vir haar goue medalje in die 800 m by die Olimpiese Spele in 2016 in Rio de Janeiro. Van Niekerk, wat ook verlede jaar benoem is vir sy goue medalje in die 2015-IAAF-wêreldkampioenskap, is vanjaar weer benoem vir sy besonderse prestasie by die Olimpiese Spele waar hy ʼn nuwe wêreldrekord vir die 400 m (mans) opgestel het.

Yende, veral oorsee bekend vir haar werk as operasangeres, het al verskeie toekennings van die Operahuise van Wene, Moskou, Milaan en New York ontvang. Dié sangeres het vanjaar ook haar debuut-soloalbum vrygestel.

“Prestasies soos dié is waarom Suid-Afrika die beste nasie op aarde is,” het Scannell bygevoeg.

Stemme vir Suid-Afrikaner van die Jaar geskied deur middel van Twitter. Byna 40 000 mense het reeds hul merkie vir dié kompetisie gemaak.

Om te stem, besoek Jan Braai se Twitter-blad. Die stemme word op die oggend van Erfenisdag, 24 September, gesluit.

Die wenner word op dieselfde oggend bekendgemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anti regering ·

Julius Malema baklei vir sy mense en noem ‘n ding soos hy is sonder om polities korrek te probeer wees

Anie ·

My stem gaan vir Josh drizzy Bergh, wat op Youtube video is! Gaan kyk na die video…

Gatvol vir UP betogers ·

Dankie Anie, ek sekondeer! Kan ons Josh Bergh nomineer?!

Patriot ·

Ek is van mening dat ons eerbare President vermelding verdien omdat hy eiehandiglik vermag het wat geen ander persoon kon regkry nie: om die ANC se stemme drasties te laat afneem!

Kobus ·

Thuli Madonsela, met Pravin Gordhan ‘n kortkop agter haar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.