Stéphan ‘val die lewe met geesdrif aan’

Stephan van der Merwe

Stéphan van der Merwe maak Hoёrskool Ermelo trots met sy agt onderskeidings in die nasionale matriekeindeksamen. Hy het presteer in Afrikaans, Engels, wiskunde, fisiese wetenskappe, geskiedenis, ekonomie, rekeningkunde en lewensoriëntering.

Sy pa, Faans, is ʼn onderwyser en sy ma, Koula, is ʼn rekenmeester. Hy het ook ʼn jonger broer, Daniel, wat nog op skool is.

Hy beskou sy ouers as sy rolmodelle. “Hulle staan altyd vierkantig agter my en moedig my aan om voortdurend beter te presteer.”

Ná ʼn blaaskans in Mosambiek beplan Stéphan om hom te kwalifiseer as ʼn geoktrooieerde rekenmeester aan die Universiteit van Stellenbosch.

Sy se stokperdjies sluit in lees, boogskiet en fietsry. Hy gaan graag op staptoere en is dol oor die buitelewe, 4×4-roetes, sportmotors en sport van watter soort ook al. In ooreenstemming hiermee is sy lewensfilosofie:

Attack life! It’s going to kill you anyway.

Hy was hoofseun van die Huis Veltman-seunskoshuis.

In 2015 is Stéphan as Ermelo Hoёrskool se Mnr. Errie aangewys. Verlede jaar is hy gekies vir The Best of the West-hokkietoerspan na Europa.

Hy het hokkie gespeel en deelgeneem aan atletiek. Vroeër in sy skoolloopbaan was hy deel van die Puma-span vir hokkie, die SA kampioenskap vir atletiek en die wêreldkampioenskap vir taekwondo in die VSA.

Hy skryf sy prestasies toe aan harde werk en erken:

Ek offer baie op om te kan leer en kry baie goeie ondersteuning van my ouers, broer en vriende.

Hy beskou sy deursettingsvermoë as sy grootste bate en bely dat hy soms ongeduldig raak met mense wat sy tyd mors.

Hy beskryf homself as ʼn veelsydige persoon wat hou van gesonde kompetisie. “Ek gee altyd my beste in alles wat ek aanpak en doen alles met trots,” sê hy. “Ek hou daarvan om respek te toon én te ontvang.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.