Sterkman met klein hartjie help jong gestremdes

Cornelius Nel (Foto:: Verskaf)

Cornelius Nel (30) van Worcester in die Wes-Kaap verteenwoordig nie net Suid-Afrika op internasionale vlak in sterkmankompetisies nie, maar help ook kinders met sig- en gehoorgestremdhede om hul passie uit te leef en uit die moeilikheid te bly.

Nel het onlangs aan die Arnold Stongman Classic-kompetisie deelgeneem, waar hy ’n eerste plek in die onder 90 kg-kategorie behaal het. Hy gaan Suid-Afrika volgende jaar by die Arnold Stongman Classic-kompetisie in Columbus, Ohio, verteenwoordig.

Nel wil graag dié sport meer toeganklik maak vir jongmense met gestremdhede, en het ʼn gimnasium by Worcester se Nasionale Instituut vir Dowes begin om hulle só te help.

“Waar ek grootgeword het, is ek nie baie blootgestel aan mense met gestremdhede nie, maar toe ek Worcester toe getrek het, het dit verander. Meeste mense wil nie betrokke raak by mense wat gestremdhede het nie, maar ek het maar ʼn baie klein hartjie en ek wil met hulle werk en vir hulle wys dat hulle enigiets kan vermag as hulle hul koppe daarop sit,” het Nel aan Maroela Media gesê.

Nel wil ook gestremde kinders wat uit slegte omstandighede kom, op só ’n manier help.

“Dit is gewoonlik mense wat nou net klaargemaak het met skool, of wat dalk net tot gr. 10 skoolgegaan het. Hulle is tussen die ouderdomme van 18 en 25. Ek wil hulle leer dat hulle op so ’n manier ontslae kan raak van hul omstandighede én van hul frustrasies,” het hy gesê.

“Eerder as om jou lewe op te mors met alkohol, dwelms, of ander slegte gewoontes, kan hulle by my 200 kg kom probeer optel. En as hulle dít kan doen, kan hulle enigiets doen. Ek wil probeer voorkom dat hulle met die verkeerde mense deurmekaar raak.”

Een van die jongmans met sig- en gehoorgestremdhede tel ‘n swaar gewig op (Foto: Verskaf)

Nel het gesê die jongmans wat hy help, geniet dit baie en dat ander mense ook baie daaruit kan leer.

“Hulle is mal daaroor om te kom oefen – as hulle my sien, vra hulle: ‘Wanneer oefen ons weer?’ Al het hulle net ’n uur tydens middagete af, kom oefen hulle in daardie uur. Hulle stap ook gedurig rond met hul kompetisiehemde. Ons het so 10 van die dowe outjies vroeër dié jaar vir die eerste keer aan ʼn beginnerskompetisie laat deelneem. Daar het die toeskouers ook baie respek vir hulle gekry, en hulle het selfs gebaretaal begin leer,” het hy gesê.

Nel het gesê hy het die gimnasium met net ʼn paar apparate begin en dat daar nog baie vordering is wat gemaak kan word.

“Ons is maar nog aan die beginstadium. Daar is nog baie werk te doen om die plek reg te kry. Maar dit is darem ʼn plek waar die ouens heen kan kom. Ander gimnasiums is so duur, maar ek vra vir die ouens baie min of sommer niks as hulle nie kan betaal nie,” het Nel gesê.

Nel sê hulle is ook tans besig om ʼn sterkmankompetisie te reël wat persone met gestremdhede sal help. Die kompetisie sal ʼn afdeling spesifiek vir mense met gestremdhede insluit.

Een van die jongmans met sig- en gehoorgestremdhede maak gereed om ‘n swaar gewig op te tel (Foto: Verskaf)

“Die geld sal help om  die sportbegroting bietjie aan te vul. Ons wil net die sport meer toeganklik maak vir mense met gestremdhede. Ons wil vir hulle  ʼn behoorlike gimnasium en ander fasiliteite kry, sodat dit vir hulle beskikbaar is. Ons wil ook graag kyk of ons ʼn gestremdekategorie kan stig, sodat hulle ook volgende jaar aan die Arnold Classics kan deelneem.“

Nel het gesê dit is vir hom spesiaal om die ouens te help en dat hy hoop die gemeenskap ook sal ingryp.

“Dit is vir my ʼn eer om ʼn rolmodel vir die studente te wees. Net om vir hulle te wys dat hulle enigiets kan doen, en om vir hulle te help is vir my lekker. Ek hoop die gemeenskap sal ons ook ondersteun sodat ons behoorlike fasiliteite vir die jongmense kan gee. As ons saamwerk kan ons vir die mense ʼn geleentheid gee in die lewe om ook sonder moeite aan hoofstroomkompetisies te kan deelneem,” het hy gesê.

Vir meer inligting oor die Strongman kompetisie, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gestremde ·

Dankie Cornelius vir jou opoffering en my kommentaar kom van Gauteng af. Jy moet altyd onthou…what goes around comes around…as jy goeie dinge vir ander mense doen sal dit miskien nie in die wêreld erken word nie, maar God slaap nie en dit gaan nie ongesiens verby nie. Ek beveel aan dat jy organisasies, soos DEAFSA en Disabled People Federation of SA nader vir donasies. Miskien kan hulle dit nie self bekosig nie, maar hulle kan vir jou motiverings maak aan Ithuba Nasional Lottery wat groot skenkings maak vir sport en gestremdheid. Verder stel ek ook voor dat julle ‘n hulpfonds stig en ‘n bankrekening nommer voorsien waarin privaat persone en besighede geld kan skenk. Dus manne soos jy wat ‘n hart het wat nog ver in die lewe gaan kom. Ek wens julle alle sterkte toe.

Cornelius Nel ·

Dankie vir die boodskap dit maak my hart nog sagter met trane in my oe daar nog baie werk wat voor lê maar ek weet met die genade van bo is enige ding moontlik moet net nooit ophou glo nie, een boodskap wat ek kan gee vir almal daar buite maak nie saak hoe hard die lewe druk nie of watse disabilities jy het nie onthou net “I can do all things thru the power of Christ which strengthens me.”

Self gestremdes ·

Baie …..baie ….baie…..dankie so min mense soos jy dankie Mag die Here jou seen met vol emmers

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.