Steun gesondheidswerkers; dra onpaar sokkies, kouse

(Foto: Ithemba-stigting/Facebook)

Wys mediese personeel dat jy omgee en hulle ondersteun, en trek op #CrazySocks4Docs-dag ʼn paar lawwe onpaar kouse of sokkies aan.

Dié dag word weer wêreldwyd vanjaar op Vrydag 4 Junie gevier ter ondersteuning van gesondheidswerkers wat reeds langer as ʼn jaar in die voorste linies teen die Covid-19-pandemie veg.

Plaaslik word die mediese personeel nou met die winter op hande deur ʼn derde golf van die koronavirus in die gesig gestaar. Gesondheidsorgwerkers is normaalweg reeds tot die uiterste ingespan, maar die pandemie eis ook bykomend ʼn ál groter tol op hul geestesgesondheid.

Hugo Minnaar, ʼn kritiekesorg-tegnoloog in ʼn privaat praktyk, het vroeër aan Maroela Media gesê hy is “moeg daarvoor om mense te sien doodgaan”, terwyl dr. Pieter Snyman, ʼn algemene praktisyn van Pretoria, weer bevestig het dat hy die uitwerking en druk van die pandemie op sy kollegas sien. Nog ʼn traumasuster van ʼn hospitaal in die hoofstad meen mense besef steeds nie hoe rof dit in die hospitale was met die tweede virusgolf wat Suid-Afrika in Januarie getref het nie.

#CrazySocks4Docs-dag is aanvanklik vir die eerste keer in Australië van stapel gestuur om die stigma te verbreek rakende gesondheidsorgwerkers wat met hul geestesgesondheid sukkel.

Dr. Geoff Toogood is die stigter van die #CrazySocks4Docs-beweging. Hy is ʼn kardioloog in Melbourne, Victoria, en het self ervaring met depressie en angs.

Hy moes die stigma en diskriminasie op vele vlakke weens sy eie uitdagings met geestesgesondheid in die gesig staar en was vasbeslote om, sodra hy herstel het, ʼn bewustheidsbeweging te skep ten einde die stigma hieroor te verbreek. Sy doel is om dokters se selfdood wêreldwyd te verminder.

(Foto: Ithemba-stigting/Facebook)

Die Ithemba-stigting dryf vanjaar se plaaslike #CrazySocks4Docs-dag. Die stigting is ʼn niewinsgewende organisasie met twee doelstellings, naamlik om bewusmaking rakende depressie en ander verwante siektes, soos angs, as kliniese biologiese siektes te verhoog en om navorsing hieroor te ondersteun.

“Ithemba beteken hoop in isiXhosa. Die boodskap is dus: As depressie die siekte van wanhoop is, moet ons vashou aan hoop.

“Gesondheidswerkers het nou, meer as ooit tevore, ons ondersteuning nodig. Ons moet dit op ʼn visuele manier wys. Daarom vra ons lede van die publiek om eerskomende Vrydag hul lawwe sokkies, wat nie bymekaar pas nie, te dra,” het Lizette Rabe, ʼn woordvoerder van die Ithemba-stigting, gesê.

Almal wat in die gesondheidsberoepe werk, asook akademiese en administratiewe personeel én toekomstige versorgers soos mediese studente word met #CrazySocks4Docs-dag gevier.

“Ons almal het ʼn verlore sokkie of kous in ons laai wat op 4 Junie maar net te bly sal wees om ʼn maat te vind om die belangrikheid van hierdie dag te beklemtoon. Kom ons gebruik die geleentheid om ʼn reuse-dankie te sê aan al ons gesondheidswerkers.

“Plaas jou sokkie-selfie van jou eie kreatiewe, helderste kombinasie van onpaar kouse op jou gunsteling-sosialemediaplatform en gebruik die hutsmerke #Care4OurCarers en #CrazySocks4Docs om gesondheidswerkers te wys jy gee om,” het Rabe bygevoeg.

Besoek Ithemba-stigting se webwerf of Facebook-blad vir meer inligting oor dié dag en hul werksaamhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.