Namakwaland radioman: ‘Ek was gehoorsaam aan my roeping’

Bernard Lamprecht. (Foto: Verskaf)

“Ek is so ʼn krom stok wat maar probeer het om vir 23 jaar Radio Namakwaland vir die Here te bestuur. Kan dit dan nuuswaardig wees?” sê Bernard Lamprecht beskeie nadat hy sowat twee weke gelede die tuig as bestuurder van dié stasie neergelê het.

Lamprecht was in 1996 een van die stigterslede van die radiostasie en het destyds op Vredendal in die hartjie van Namakwaland die behoefte aan ʼn gemeenskapsradiostasie raakgesien en aangeraak.

Hy vertel hy was ʼn sakeman toe die stasie begin het, maar het mettertyd al hoe meer bewus geraak van die feit dat hy die sakewêreld vaarwel moet toeroep en sy volle aandag aan die stasie moet wy.

“Ek het ʼn roeping op my lewe ervaar en ononderbroke gewerk by die stasie. Vir 23 jaar het alles andersins in my lewe tweede gekom en die stasie was my eerste prioriteit,” sê Lamprecht.

Hy vertel hoewel die stasie reeds in 1995 ʼn lisensie bekom het, het hy eers in 1996 betrokke begin raak toe ʼn woonwa tydelik ingerig is as uitsaai-ateljee.

“Ons was ná die eerste paar uitsendings oorweldig deur mense se reaksie en het geweet ons sal die lisensie weer moet hernu toe hy verstryk het. Op 1 Augustus 1996 het ons amptelik begin uitsaai uit die ateljee waar die stasie vandag nog gehuisves word en in Oktober van daardie jaar het ek voltyds as bestuurder van die ateljee begin werk.”

Lamprecht onthou hoe die ateljee aanvanklik net die noodsaaklike toerusting gehad het om te kon uitsaai, wat geskenk is deur Ron Pretorius van Ateljee 316. “Ons het aan die begin ook slegs twee uur per dag uitgesaai en in die eerste jaar van uitsendings was ons boeke ook altyd op die randjie daarvan om in die rooi te wees.”

In 1997 is danksy ʼn geldinsameling deur die gemeenskap sowat R293 000 vir die stasie ingesamel en vir die eerste keer kon die stasie professionele toerusting aankoop.

“Twee uur se uitsaaityd het vier uur geword, later het dit sewe uur, toe 11 en 16 geword en uiteindelik het ons 24 uur begin uitsaai,” vertel hy trots.

Vandag spog die ateljee met ʼn produksieateljee en ʼn ontvangsgebied. “Dit is vir my ʼn onbeskryflike voorreg om voltyds in diens te staan van die Here en om vir 23 jaar met die leiding van die Heilige Gees my verantwoordelikhede te kon uitleef. Uit die aard van wat ʼn gemeenskapsradiostasie is, het ek baie te make gehad met verskillende fasette van die menswees.”

Tog het hy besluit dit is tyd om sy radioskoene op te hang. “Baie van die mense in my ouderdomsgroep wat daar was sedert die begin van die radiostasie, is nie meer met ons nie. Ek het besef daar is ʼn jonger generasie wat waarskynlik die ervaring het om die radiostasie te help vernuwe en dat my seisoen verby is – dit was tyd dat ek plek maak vir die jonger geslag.

“Soos wat ek die roeping soontoe gehoorsaam het, was ek gehoorsaam om te weet dit is my tyd om te gaan,” sê Lamprecht.

Hy vertel dat hy hom deesdae besig hou met ʼn nuwe sakeonderneming. “Ek het ʼn motorwassery gekoop en is nou voltyds daar doenig. Ek is so besig, ek het nog nie tyd gehad om iemand by die radiostasie te mis nie!” lag hy.

Egbert Brink, nuwe stasiebestuurder van Radio Namakwaland, vertel dat die stasie die afgelope 23 jaar ʼn groot invloed op die gemeenskap gehad het.

“Oor die jare het die stasie verskriklik baie ure uitgesaai en daar is baie getuienisse van mense wat na ons stasie luister,” sê Brink.

“Elke week word kwessies soos dwelmmisbruik aangeraak en ons saai ook byvoorbeeld programme uit oor verhoudings. Ons probeer ook by die gemeenskapsprojekte betrokke wees en om hande te vat en by te staan. Dit is maar moeilik hier in ons wêreld, mense het nie geld nie en dit lei tot baie probleme. Ons wil net die Woord van die Here verkondig en mense laat gemaklik voel om ʼn verhouding met die Here te hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sarita ·

Ek woon in Vredendal en dit is n goeie radiostasie. Die liefde vir Jesus en sy mede mens kan jy hoor in hulle stemme en manier van praat. Alle sterkte vir Oom Bernard met sy nuwe onderneming.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.