Stigting ontvang reliëf van ou Raadsaal

Petra Luus, museumkurator van die Erfenisstigting, met die sandsteenreliëf van die Raadsaal. (Foto: Verskaf)

Soos dit maar gaan wanneer ʼn mens verhuis na ’n kleiner wooneenheid, kom jy op ’n punt waar sekere meubel- en erfstukke weens beperkte ruimte nie kan saamtrek nie.

Mara Wolmarans van Garsfontein in Pretoria is tans besig om te verhuis na ’n kleiner wooneenheid. In plaas daarvan om bloot ontslae te raak van haar familie se kosbare kultuurskatte, het sy besluit om van hierdie geskiedkundige artefakte aan die Erfenisstigting te skenk.

Wolmarans het meer as 13 erfstukke aan die Erfenisstigting bemaak, wat onder meer historiese foto’s, ’n Singer-naaimasjien, model-ossewaens en ’n juk met vier skeie insluit.

Die Erfenisstigting is verheug oor die skenking, juis omdat dit items bevat wat van die Rebellie van 1914 dateer. Die Erfenisstigting het relatief min items en dokumente wat uit hierdie spesifieke tyd kom, meen Petra Luus, museumkurator van die Erfenisstigting. Een van hierdie items is ’n houtskinkbord wat van 1914 dateer en wat moontlik deur ’n rebel tydens sy gevangenskap in Johannesburg gemaak is.

Die kosbaarste item, volgens Wolmarans, is ’n reliëf van die ou Raadsaal op Kerkplein in Pretoria. Nie net beeld die reliëf die Raadsaal uit nie, maar dit is ook van die Raadsaal se eie sandsteen gemaak. Daar is slegs drie van hierdie reliëfs gemaak en dateer van die laat 1980’s of vroeë 1990’s.

Die reliëf is aan Wolmarans se man, Frederik Gerhardus Wolmarans, gegee, wat op dié stadium in die departement van kultuursake gewerk het. Die reliëf was ’n geskenk aan diegene wat op daardie stadium betrokke was by restourasiewerk aan die Raadsaal.

Wolmarans het meer as 13 erfstukke aan die Erfenisstigting bemaak, wat onder meer historiese foto’s, ’n Singer-naaimasjien, model-ossewaens en ’n juk met vier skeie insluit. (Foto: Verskaf)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.