Stigting spog met nog ’n besonderse erfenisskat

Marietjie Mostert (75) het die Voortrekkerkappie van haar moeder aan die Erfenisstigting geskenk. (Foto verskaf)

Die Erfenisstigting is nou die trotse bewaarders van fotorame wat meer as 120 jaar oud is.

Marietjie (75) en Dawie (82) Mostert het onlangs twee uitsonderlike skenkings aan die Erfenisstigting gemaak.

Twee pragtige fotorame wat in die krygsgevangenekamp in Ceylon (nou Sri Lanka) met ’n knipmes gekerf is, is deur Marietjie geskenk. Sy het die fotorame, saam met die familiefoto’s wat steeds daarin pryk, by haar ma, Josina Jordaan (née Swanevelder), geërf.

Jordaan se oupa, Carel Swanevelder, is in die krygsgevangenekamp aangehou.

Van die skenkers voel dat die jongmense van vandag nie altyd die waarde van die erfstukke van hul ouers verstaan nie en dit is daarom dat hierdie items aan die Erfenisstigting geskenk is.

“Aan die een kant is ek hartseer, maar aan die ander kant is ek bly, want nou weet ek dit bly behoue,” vertel Marietjie.

Marietjie het ook verder die Voortrekkerkappie wat haar moeder, Josina, by die inhuldiging van die Voortrekkermonument in 1949 gedra het aan die stigting geskenk. Die kappie lyk nog splinternuut.

Mostert se familie het diep spore in die Afrikaner se geskiedenis getrap en daarom is dit ’n voorreg vir die Erfenisstigting om die bewaarders van haar voorouers se skatte te kan wees. Die organisasie het die Mostert-egpaar vir dié wonderlike skenking bedank.

“Soveel van die geskiedenis gaan verlore en moet juis bewaar word vir die volgende geslagte,” het Marné Scholtz, mediabeampte vir die Erfenisstigting, gesê.

Twee pragtige fotorame wat in die krygsgevangenekamp in Ceylon (nou Sri Lanka) met ’n knipmes gekerf is, is deur Marietjie geskenk. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.