Stof daardie pretsteweltjies af

(Foto: Verskaf)

Ek het ʼn vriendin wat glo daar is net een raad vir die blues en dit is om in haar pers “bootse” te klim wanneer die lewe se sorge te knap begin druk.

Wanneer daardie pers steweltjies afgestof word, is daar geen keer aan wat hierdie 50plus-jarige vrou se innerlike kind (wat sy Shirley gedoop het) sal aandurf nie. Daardie paar skoene gee haar vlerke en trippel by die straat af met een doel – om ʼn nuwe avontuur te beleef. En ʼn paar uur later wanneer sy weer haar leesbril afvee en voor die rekenaar inskuif, is dit met wóéma.

George Bernard Shaw het gesê ons hou nie op speel omdat ons oud word nie; ons word oud omdat ons ophou speel.  En as ek so na die kenners luister, is die befaamde oud-Ierse ikoon in die kol.

Om te speel – of dit nou balgooi met jou kinders is, op ʼn stokou kitaar begin tokkel of sommer net laf-wees met ʼn vriendin – dit verrig wondere vir jou kop en lyf. Dokters sê dit verlaag stres weens die afskeiding van die liggaam se natuurlike goed-voel-chemikalieë, endorfiene; verbeter jou geheue én breinfunksie oor die algemeen; verhoog kreatiwiteit; laat jou jonger en meer energiek voel en bowenal is dit goed vir jou verhoudings, want om saam te lag en pret te hê laat mense nader aan mekaar voel.

Dit is geen raaisel hoekom ons as volwassenes so min of glad nie speel nie. Die meeste van ons het bloot so vasgeval in ons roetine en gemaklike gewoontes dat “speel” uit ons verwysingsraamwerk begin verdwyn het. Maar dit kan maklik verander – dis net ʼn kopskuif en ʼn bietjie tyd opsysit, al is dit een keer ʼn week. (En terwyl ek so sit en skryf, dink ek aan my oorlede pa wat so mal was oor die gesegde: Skepe in die hawe is veilig, maar dis nie waarvoor hulle gebou word nie.)

In ʼn Etienne van Heerden-boek wat ek onlangs gelees het, merk die hoofkarakter in ʼn stadium op dat geld nie vir hom belangrik is nie, maar wel ʼn verrassing, élke dag. As ons kan speel, maar ook die vermoë behou om elke dag verwondering te kan beleef deur bloot die lewe met vars oë te betrag, kan selfs die mees eenvoudige dingetjie plesier verskaf. En sál die lewe ons aanhou verras.

Ek het weer begin speel danksy ʼn vriend se 13-jarige seun wat met die ondeunde vonkel in sy oog die kind binne my met ʼn emmer yskoue water uit ʼn lang slaap laat wakkerskrik het.  Ons speel tafeltennis – sommer so wild teen die eetkamermuur totdat die sweet ons afloop, hou kersuitblaas-kompetisies vir “bragging rights” van bobaas-longe, speel pick-up-sticks, nagkrieket (letterlik sonder ʼn lig in sig) en kyk wie die verste met ʼn kettie kan skiet. En dis maar net die wintervermaak. Die feit is, ek spéél weer en dis heerlik!

Die afgelope week is menslike drama oor die wêreld heen op al wat elektroniese skerm is, uitgebasuin – van vloede en orkane tot bomaanvalle en brande. En dan praat ons nie eens van die nou alomteenwoordigheid van Covid-19 wat al met ons koppe begin smokkel het nie.

Die lente is aan’t roere. Tyd om daardie pers steweltjies af te stof.

Nancy Sinatra sing mos hoeka: These boots are made for walkin’…

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.