Storie agter verlore hond met juweliersware om nek

Die hondjie kort nadat sy gevind is. (Foto: Facebook)

Die raaisel oor die verlore hond wat vandeesweek met ʼn hangertjie en ring aan haar halsband vasgemaak in Milnerton in Kaapstad gevind is, is opgelos.

Cheryl Lyn Potgieter, eienaar van die Cheryl Lyn Rescue Organisation, het aan Maroela Media gesê dit het aan die lig gekom dat die hondjie aan ʼn hawelose vrou behoort. Die vrou het glo die hangertjie en ring om haar hond se nek gehang omdat sy graag wou gehad het die hond moet mooi lyk.

Hoewel die hangertjie en ring aanvanklik waardevol gelyk het, was dit net kostuumjuweliersware.

Potgieter sê personeel van die Fallen Angels-groep het die hond teruggeneem na waar sy oorspronklik gevind is en só die hond se eienaar opgespoor. Die hond is terug in haar eienaar se sorg geplaas.

Volgens Potgieter is die hondjie baie goed versorg ten spyte daarvan dat haar eienaar haweloos is. “Ek sal wel môre-oggend na die plek toe gaan waar die groep mense gewoonlik slaap net om seker te maak alles is in orde. Die hondjie is nou vier maande oud, so ons sal oor so twee maande ook help om haar te steriliseer,” sê sy.

Maroela Media het vroeër berig die hond, ʼn Africanus-kruising, het omtrent sosialemediagebruikers aan die gons gehad nadat sy deur ʼn vrou in ʼn straat in Milnerton gevind is waar sy aan ʼn paal vasgemaak was. Die hond het ʼn hangertjie en ring om haar halsband vasgemaak gehad, maar daar was geen naamplaatjie of enige besonderhede van die hond se eienaar nie.

Die ring en hangertjie om die hond se nek. (Foto: Facebook)

Talle mense het op sosiale media bespiegel hoe die hond met die juweliersware om haar nek opgeëindig het – van vermoedens dat die ring dalk ʼn teken is van ʼn romantiese verhouding wat skeefgeloop het, tot mense wat wonder of die hond se eienaar nie dalk gesterf het en die juweliersware by die hond gelos het as deel van die persoon se “testament” nie. Ander het weer gewonder of die hond nie dalk gebruik sou word vir ʼn verlowing, maar toe die hasepad gekies het nie.

Die waarheid was egter toe veel eenvoudiger – woef moes net mooi lyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Annamarie Olivier ·

Waar is back a buddy nou samel bietjie vir die hawelose vrou ook geld in sodat sy en haar hondjie beter kan lewe.

wielie ·

Maar die woef is pragtig! Kyk net in daai mooi bruin oegies ,,,, en daai pragtige ore ,,,,, en daai mooi voetjies!! Liefde en vrede

Marlene ·

Stem saam met Annamrie, hoekom word daar nie geld ingesamel vir die vrou nie. Wys jou net weereens wat ‘n dier vir ‘n hawelose mens beteken. Dankie dat jy so mooi kyk na jou hondjie

smurfie ·

Ek is seker daarvan hulle lê lekker styf teen mekaar in die aande en hou mekaar warm.
Ek glo darm ook nie, hulle sou die hond terug gegee het, as sy hom mishandel het of laat honger ly het nie

Help haar ·

Kom ons help haar. Sy het haar kosbaarste besittings om haar hondjie se nek gehang, kom ons help die vrou weer terug op haar voete!

$ ·

Maar hoekom was die hondjie aan die paal vasgemaak en so alleen gelaat? Klink nie vir my sodanig of mooi na die hond gekyk is nie – die hond is deur ´n vreemdeling losgemaak, opgelaai, weggeneem – en was die eienaar daar om te keer? Daai hond kom net sowel vir altyd verdwyn het as sy nie by die regte mense beland het nie.

Leonie Viljoen ·

Ek is ook bekommerd oor die feit dat die hondjie aan ‘n paal vasgemaak was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.