Storie van hoop begin met net ’n bank en ’n bed

Lindy Buitendach en haar man, Andrew. (Foto: Verskaf)

Op ʼn pragtige foto van ʼn liefdevolle paartjie wat in ʼn stil straat voor ʼn kerk in ʼn Pretoriase voorstad glimlag, straal ʼn blouoog-blondekopvrou onder haar man se beskermende vlerk.

Min sou jy egter kon raai dat Lindy Buitendach (34), ʼn eiendomsagent, motiveringspreker en ma van drie jong kinders, se onstuimige verlede van drank, dwelms en onstandvastigheid haar eens gekelder het – totdat sy haar bekeer en sodoende haar eie lewe, asook dié van haar kinders, handomkeer verander het.

Buitendach vertel sy het as kind nie baie standvastigheid gehad nie. Haar ouers het baie verhuis weens werksgeleenthede en sy het nege verskillende skole bygewoon.

“Ek was op soek na aanvaarding en ʼn plek om te behoort. Daarom het ek op 16 begin werk as kelnerin. Ek het van my beste herinneringe hier gemaak,” onthou sy.

Dit was egter ook hier waar sy van haar grootste foute gemaak het, erken Buitendach. “Ek het gedrink, gerook en vir die eerste keer dwelms gebruik. Ek het my eerste man ook by die restaurant ontmoet – hy was een van die gaste.”

Lindy Buitendach en haar man, Andrew. (Foto: Verskaf)

Sy het twee kinders, ʼn dogter en ʼn seun, uit dié huwelik. Verkeerde vriendskappe en deurnagkuiers in nagklubs het haar in die versoeking, en al hoe verder weg van haar man en kinders, gelei. ʼn Hele rits eetversteurings het ook gevolg.

“Ek het aandag gekry by ryk, aantreklike en gespierde mans; mans wat ek gedink het nooit na my sal kyk nie. My huwelik het as gevolg hiervan baie vinnig op die rotse beland en die personeelagentskap wat ek op die been gebring het, het vinnig gesneuwel. Ek het op my eie probeer oorleef, maar kon nie meer my huur bekostig nie.”

Die man met wie sy in ʼn buite-egtelike verhouding was, het geen poging aangewend om haar te help nie, want hy was self betrokke by ʼn ander vrou en sy verhouding met Buitendach was dus ʼn geheim.

“Ek het iemand een aand in ʼn kuierplek ontmoet, ʼn sakeman met ʼn goeie hart soos Petrus in die Bybel – ʼn ongeslypte diamant. Hy het aangebied dat ons by hom intrek en uit desperaatheid het ek ingestem.”

Lindy Buitendach en haar man, Andrew. (Foto: Verskaf)

ʼn Vriendin van dié barmhartige Petrus, soos Buitendach na hom verwys, het haar genooi om saam met haar na ʼn selgroep toe te gaan. Sy glo dit is hier waar God tot haar redding gekom het.

“Ek glo God het my self aan die hand gevat en my gelei. Ek het die eerste aand getuig, gehuil en my skuld voor Jesus se voete geplaas. Met die eerste Vrouekonferensie het ek my hart vir Jesus gegee en radikaal tot bekering gekom. Dit was net ek en Jesus. Ek het weer waardig begin voel, want ek het besef God het my nie net so gelos nie,” sê sy.

“Ek het baie lesse geleer. Ek was in die woestyn – my kinders het by hulle pa gaan bly. Hoewel ek genadiglik ʼn werk gekry het, moes ek sonder my kinders verhuis. Ek is nie ʼn alleenmens nie, maar ek het vinnig geleer dat God my man wil wees om my te leer hoe ʼn vrou moet wees en hoe sy behandel moet word.”

Met ʼn goeie salaris, maar te veel uitgawes, het Buitendach steeds finansieel gesukkel. Sy het al haar meubels verkoop om te oorleef en by haar suster gaan bly.

“Ek het ook al met ʼn voertuig vol klere rondgery en ʼn blyplek gesoek, maar tog het ek altyd ʼn warm bed gehad om in te slaap en kos om te eet. Dit is moeilik as jy kinders het, maar geen standvastigheid nie. Ek het baie aande op my knieë gebly en gebid. Daar was tye dat ek kwaad was vir God. Ek het gevoel Hy toets my, soos Hy vir Job in die Bybel getoets het. Niks kon egter my geloof knak nie, want dit was al wat ek gehad het.”

Met net ʼn bank en ʼn bed

Uiteindelik is haar gebede beantwoord en het sy blyplek in Hartbeespoort gekry, die middelpunt tussen haar werk en waar haar kinders gewoon het.

“Dit het begin met ʼn bank en ʼn bed wat iemand vir my geskenk het. Daar was baie dae dat my koskaste amper leeg was, maar ek was nooit sonder iets om te eet nie. God het deur my vriendin vir my kos gestuur, brandstof in my voertuig gegooi en vir my hoop gegee.”

Sy vertel ʼn vriendin het eendag vir haar gesê sy moet ophou om ʼn man te soek en dat God iemand vir haar het.

“Ek was so kwaad vir my vriendin en vir God. Ek het gedink ek gaan vir ewig wag om weer gelukkig te wees, maar ek was gehoorsaam deur op te hou soek en te bly bid dat God vir my ʼn godvresende man op sy tyd stuur. Ek is so bly ek het gekies om gehoorsaam te wees, want God het al my gebede beantwoord.”

Lindy Buitendach en haar man, Andrew. (Foto: Verskaf)

Sy het haar man, Andrew, ontmoet. ʼn Jaar later is hulle getroud en geseën met ʼn babadogtertjie van hulle eie. Haar ander twee kinders het boonop weer by haar en Andrew kom woon.

“Hy aanvaar my kinders soos sy eie. Ons verhouding is op sy eie ʼn getuienis van God se genade en tweede kanse. God het vir ons meer kom teruggee as wat die vyand van ons gesteel het.”

Buitendach glo haar pad deur die woestyn het die passie by haar gekweek om ander vroue wat, net soos sy in die verlede, finansiële hulp en geestelike bystand nodig het.

“Ek werk al reeds langer as ʼn dekade in die eiendomsbedryf en die Here het my op reis gevat in hierdie bedryf. Dit het so gebeur dat Andrew ook in die eiendomsbedryf is as argitektegnoloog. Ons wou saam ʼn sakeonderneming begin waar ons kan teruggee vir die gemeenskap,” sê Buitendach.

Dié eiendomsagentskap, C-icare Real Estate, is onlangs geregistreer en hulle wil dit as ʼn platform gebruik om vroue te bemagtig.

“Met elke transaksie wanneer ons ʼn eiendom verkoop, gaan ons ʼn gedeelte van die wins aan ʼn niewinsgewende organisasie skenk wat vroue in nood bystaan,” verduidelik sy.

Buitendach is ook beskikbaar as motiveringspreker en kan genader word deur die agentskap se Facebook-blad of by [email protected].

“Die uiteindelike doel is om vroue te help om te genees – na gees, siel en liggaam. Ons kan slegs ten volle heel wees wanneer dié drie dele van ons as mens gesond en gebalanseerd is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.