Strikke van dankbaarheid op Carnarvon

Een van die strikke van dankbaarheid op Carnarvon (Foto: verskaf)

“Ek het rondom my gekyk en gesien hoe groen die veld was. Waar daar ʼn ruk gelede nog niks was nie, het daar nou gras gegroei.”

Dis die woorde van Riana Vermeulen, sekretaresse van die plaaslike boerevereniging, toe sy een oggend op pad was na Carnarvon in die Noord-Kaap ná die reënval waarvoor die gemeenskap jare lank gewag het.

Die oorweldigende dankbaarheid vir die groenigheid rondom haar het Vermeulen geïnspireer om die dankbaarheidstrikkeprojek van stapel te stuur.

“ʼn Mens is dankbaar in jou binnekamer en jy sê vir die liewe Vader dankie vir die reën – maar ek het gevoel dat ek dit op een of ander manier moet wys. Ek wou strikke teen die lyndrade en hekke van die omliggende plase sit, en dié strikke ‘dankbaarheidstrikke’ noem.”

Nadat sy goedkeuring vir die projek by die boerevereniging se bestuur gekry het en met die plaaslike boere se vroue geskakel het, was die bal behoorlik aan die rol.

“Ek het die saak Vrydag met die vroue in die omgewing bespreek, die Maandag het ons 160 m lap bestel en Dinsdag het dit met ʼn saamrygeleentheid uit Oudtshoorn hier aangekom. Woensdag is die lappe opgesny en verdeel tussen ons en Vrydag het die vroue begin strikke maak.”

Die droogte kom al sedert 2013.

“Dit het al hoe minder en minder begin reën. Elke jaar het ons uitgesien na die reënseisoen – wat nooit gekom het nie. Ons is later deur die regering tot ʼn rampdroogtegebied verklaar.”

Die droogte het ʼn impak op die hele gemeenskap gehad.

“Die droogte het veroorsaak dat van die boere minder vee moes aanhou, wat veroorsaak het dat daar kleiner inkomste was en dat baie mense in dié tyd hul werk verloor het.”

Die sluise van die hemel het egter aan die einde van 2021 oopgegaan en sedertdien het die omgewing matige reënval ervaar.

“Ek kon sien dat dit die gemeenskap en die boere ophelder. Toe dit gereën het, het dit wyd gereën, elke boer het dit ervaar.”

Vermeulen het verder aan Maroela Media verduidelik dat mense landwyd hul harte oopgemaak het om die gemeenskap by te staan in hul tyd van nood.

“Weldoeners het ongelooflik baie gehelp. Dit was mense wat ons nie geken het nie, maar wat oop harte en hande gehad het. Hulle het saam met ons gebid vir reën, ons het voer- en kontantskenkings gekry. Baie van hulle het nou lewenslange vriende en vriendinne van die gemeenskap geword wat steeds elke nou en dan vra hoe dit gaan en of die reën al geval het.”

Die bekende boervroubokse het ook ʼn ongelooflike groot rol in die gemeenskap gespeel.

“Dit het net gehelp om die wa deur die drif te trek. Die dag wat jy besef jou tandepasta is op – is daar ʼn boksie van ʼn weldoener af. Behalwe vir die liewe Vader vir wie ons wil dankie sê vir die reën, is dit ons weldoeners waarvoor ons ook dankbaar is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Danny ·

Dankbaar saam met julle! Wonderlike gebaar, versprei die liefde en dankbaarheid!

WILLEM ·

Ons is baie dankbaar vir die milde reen. God is groot en in beheer, Hy sal ons nooit laat los nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.