‘STROOP’ kry 20ste kroon!

stroop-susan-scott-en-bonne-de-bod-deur-jeffrey-barbee

Susan Scott en Bonné De Bod besig om met kamerawerk by die karkas van ‘n renoster in die Kruger Nasionale Wildtuin. Foto: Jeffrey Barbee.

Suid-Afrika se baanbreker-dokumentêre rolprent STROOP: Journey Into the Rhino Horn War het onlangs die gesogte Genesis-prys in die kategorie vir die Uitstaande Bridgitte Bardot Internasionale Dokumentêre Vollengte Rolprent in die VSA gewen.

Die Genesis-pryse gee erkenning aan uitstekende werk in die media met ’n spesiale fokus op uitstaande verslaggewing oor dierebeskermingskwessies.

Vanjaar se wenners wat oor 15 kategorieë strek, het bekende name soos Steven Spielberg se Jurassic World ingesluit wat wildlewehandel ondersoek. Natalie Portman het erkenning van haar veganistiese rolprent Eating Animals ontvang terwyl Ellen DeGeneres ’n prys ontvang het vir haar geselsprogram wat voortdurend die beskermingskwessies van gorillas in die kollig plaas. Die ikoniese Amerikaanse instellings soos die The New York Times, 60 Minutes en Sesame Street het ook pryse ontvang.

“Ons is verheug! Dit is wonderlik dat hierdie onafhanklike, skarebefondsde dokumentêr oor die helde wat alles in die stryd werp om ons renosterstroopkrisis te pak, op so ’n manier vereer word, en dit wys my net weer eens dat die wêreld dit as van kardinale belang beskou. Hierdie massiewe erkenning van STROOP hou die kollig op Suid-Afrika se poging om ons renosters te red en dit kan nie geïgnoreer word nie,” het Bonné de Bod, rolprentmaker en STROOP-aanbieder, gesê.

stroop-en-susan-scott-by-encounters

Susan Scott by die gehoor tydens ‘n vertoning van STROOP by die Encounters filmfees in Kaapstad. Foto: Verskaf.

Dié bekroonde wildlewemisdaadrolprent het verdere goedkeuring van die Genesis-eerbewyse se senior direkteur, Beverly Kaskey, ontvang, wat gesê het: “Wees opreg bewus dat ons dankbaar is dat STROOP gekies het om die belangrike kwessie van renosterhoringstropery op so ’n deurdagde manier aan te pak.

“Daar word geensins weggeskram van die nare waarheid nie, maar die rolprent herinner ons ook aan die skoonheid van hierdie beleërde diere met ’n noue band tussen koei en kalf, en hoekom ons moet voortgaan om saam te staan teen hierdie korrupte kragte wat toelaat dat renosteruitwissing gebeur. Hierdie diep insiggewende stuk staan saam met die ander uitmuntende werk van die afgelope jaar wat kritiese dierebeskermingskwessies onder die publiek se aandag gebring het.”

Kitty Block, president en uitvoerende hoof van The Humane Society, wat die Genesis-eerbewyse toegeken het, het bygevoeg: “Ons verwelkom hul bydraes om bewustheid verder te versprei, om die band tussen mens en dier te vier en daadwerklike verandering vir diere te weeg te bring.”

Hierdie Amerikaanse prys volg op die rolprent se eerste Suid-Afrikaanse erkenning – die Audience Award for Best South African Film by die Encounters South African International Documentary Film Festival wat onlangs in Kaapstad gehou is. Hierdie eerbewys is die voorste erkenning by Afrika se mees gesogte dokumentêre rolprentfees.

STROOP-regisseur Susan Scott was merkbaar verheug oor die rolprent se 20ste toekenning tot op hede.

“Ek het sedert die vroeë 2000’s hierdie fees bygewoon en ek het verstommende en diep inspirerende rolprente gesien, daarom is dit ’n ware eer om net gekies te word, wat nog te praat van die “Audience Award’ te verower!”

stroop-by-encounters-labia-teater-in-junie

STROOP het ook ‘n prys as die gehoor se gunsteling gewen by die Encounters filmfees in die Labia-teater in Kaapstad in Junie. Foto: Verskaf.

“Dit is baie spesiaal, “voeg De Bod by,”want dit is die gehoor wat stem vir die beste rolprent van die fees, en jy kan nie ’n beter waardering van jou rolprent kry as dit nie.”

Vanweë die gewildheid van die rolprente en die onlangse prys by Encounters, sal STROOP terugkeer na die silwerdoek vir ’n beperkte heruitreiking in Johannesburg se onafhanklike teater, The Bioscope. Dit sal die eerste keer wees dat dié rolprent by hierdie ikoniese instelling vertoon gaan word, nadat dit reeds by Nu Metro-teaters landwyd, Ster-Kinekor se Cinema Nouveau en by Kaapstad se Labia-teater vertoon is.

STROOP sal vir ’n week by The Bioscope vertoon word as ’n spesiale vertoning van die wenner van die Encounters Audience Award, met ’n vraag- en antwoordsessie met die rolprentmakers tydens die openingsaand op Vrydag 26 Julie.

Sedert die wêreldpremier by die San Francisco Groen Rolprentfees in September verlede jaar, is STROOP amptelik gekies vir 28 rolprentfeeste en het met 20 pryse weggestap. Die dokumentêr word internasionaal deur Journeyman Pictures in Londen versprei.

Scott en De Bod is ook in gesprek met plaaslike uitsaaiers en hoop om binnekort ’n aankondiging te maak oor ʼn uitsending op Suid-Afrikaanse televisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andreas ·

Wonderlik, élke toekenning is ‘n uitklophou vir, nie net die renoster nie, maar natuurbewaring! Dat julle hiermee die wêreldverhoog bly okkupeer moet vir diegene wat dit probeer teestaan soos ‘n kollosale pendoring in die vlees wees, soos bye om jou kop en die gezoom in jou ore waarvan jy nie ontslae kan raak nie, maar net al erger raak.

Andreas ·

Met vergunning: “You two eat your heart out, and you other two also”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.