‘Stroop’ skenk jongste kontantprys aan honde-eenheid

Bonné De Bod en Susan Scott met die Kudu-prys wat hulle vir “Stroop” van SANParke ontvang het. Foto: Verskaf.

Bonné de Bod en Susan Scott, die filmmakers van die bekroonde wildlewe‑dokumentêr Stroop: Journey into the Rhino Horn War, het besluit om die kontantprys van hulle jongste toekenning aan die veldwagters en honde-eenheid van die Krugerwildtuin te skenk.

Die rolprent is die afgelope naweek met die SANParke Kudu-prys vir beste televisie-joernalistiek vir 2018-’19 vereer. Dit is die 26ste toekenning wat die dokumentêr sedert sy uitreiking ontvang het.

SANParke gee jaarliks erkenning aan verdienstelike natuurbewaarders, vennote uit die nie-regeringsektor en die media met Kudu-pryse, wat as een van die land se gesogste bewaringspryse bekendstaan.

“Bewusmaking en bewaringsvraagstukke is van kardinale belang en as ons die land se nasionale parke beter wil beskerm, moet ons die publiek opvoed en inlig,” het Fundisile Mketeni, uitvoerende hoof van SANParke, gesê.

Die beoordelaars het met hul toekenning van die gesogte prys gesê die filmmakers verdien erkenning vir hul uitmuntende bewusmaking van die kwessie van renosterstropery deur storievertelling. Die beoordelaars het ook gevoel die De Bod en Scott het ʼn enorme bydrae gelewer tot die verspreiding van bewaringsinligting met televisie as medium.

Benewens die gesogte Kudu-trofee is daar ook ʼn kontantprys van R20 000 wat die filmmakers aan SANParke se ere-veldwagters sal skenk wat dit aan die veldwagters en honde-eenheid in die Krugerwildtuin sal oorhandig.

“Ons is verheug dat ons iets kan teruggee aan diegene wat die stryd in die voorste linies stry,” het De Bod gesê met die glansryke prysuitdeling wat op Vrydag 29 November in die Gallagher-konferensiesentrum in Midrand plaasgevind het.

Een van die Krugerwildtuin se K9-eenheid se honde en veldwagter. Foto: Susan Scott.

“Die honde is ʼn suksesvolle komponent van die eenheid en is ʼn duur uitgawe vir die eenheid. Ons doen ʼn ernstige beroep op die publiek om die eenheid te ondersteun.”

Scott het bygevoeg dat die einste eenheid in Stroop te sien is. “Hulle het ons vir vier jaar toegang tot hul geslote wêreld gegee, iets wat nie sommer net so gebeur nie, veral nie so na aan die episentrum van die renosterhoringoorlog nie.

“Dit was egter baie dapper van hulle om ons te vertrou om hulle storie aan die wêreld te vertel. Dit is net gepas dat ons aan hulle teruggee. Die eenheid sal hierdie geld beter kan benut as wat ons ooit sal kan doen.”

Scott en De Bod het ’n gevestigde verhouding met SANParke se ere-veldwagters wat ’n persentasie van Stroop se DVD-verkope van die winkels in die Krugerwildtuin ontvang. Die filmmakers dring daarop aan dat hierdie geld direk tot voordeel van die veldwagters se pogings teen renosterstropery sal strek.

Die opspraakwekkende, wêreldbekende dokumentêr het sy Afrika-televisiepremière op M-Net op Wêreldrenoster-dag gehad en is in September ook op kykNET vertoon. Stroop kan tans op Showmax gekyk word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ronel ·

Fantastiese dokumentêr. Baie geluk met die toekennings. Hoop dit maak die mense se oë oop.

Anita ·

Stroop is n baie goeie fliek. n Mens word met afgryse gevul om te sien wat se twak mense glo. Dankie aan die twee dames wat hierdie wonderlike fliek gemaak het om ons in te lig wat in hierdie pragtige land van ons aangaan. STROOP het ons aangeraak ek voel so jammer vir die arme diere wat moet boet met hulle lewe. Geluk dames Suid-Afrika is trots op julle

Wagter en wagter ·

Bly vir die Wagters wat hulle lewetjies moet wy aan gevaarlike operasies teen onopgevoede boewe. En dan is daar die ander wagters wat in die veld wag vir ‘n geleentheid om aan te jaag, om te laat aanjaag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.