Student bly positief ten spyte van artritis, lupus, pa se kanker

Desiré Wehmeyer (Foto: Verskaf)

Desiré Wehmeyer (18) is in haar matriekjaar met rumatoïede artritis en lupus gediagnoseer is. Haar pa se kanker het in die tyd vir ʼn vierde keer weer ʼn terugkeer gemaak. Tog, te midde van alles, het sy bo alle verwagting uitgestyg en is sy vandag positief terwyl sy by Akademia aan haar studies werk.

Wehmeyer was as hoofdogter van Hoërskool Bastion in Roodepoort in Junie verlede jaar gediagnoseer met artritis nadat haar regterknie sonder enige rede begin opswel het.

Sy is na ʼn spesialis wat aan haar knie geopereer het en haar met rumatoïede artritis gediagnoseer het.

“Omdat ek nog so jonk is, het die dokter gesê iets moes die artritis geaktiveer het. Dit is toe dat ons toetse vir lupus gedoen het. Die uitslag was dat die lupus die artritis veroorsaak het,” verduidelik sy.

Wehmeyer sê sy was baie hartseer en moedeloos toe sy oor die artritis en lupus uitvind en toe sy hoor hoe dit haar lewe gaan beïnvloed.

“Ek het gedink: ‘Ek is 18 jaar oud, ek wil nie nou ʼn kroniese siekte hê nie.’ Ek wou ook nie hê mense by my skool moes weet nie. Ek wou nie hê almal moet weet ek is siek nie.”

Desiré Wehmeyer was hoofdogter van Hoërskool Bastion (Foto: Verskaf)

Om die slegte nuus te vererger, het haar pa se kanker vir die vierde keer teruggekeer. Hy moes geopereer word en vir chemoterapie gaan. Sy sê sy was emosioneel gedreineer en dat sy nie geweet het watter kant toe om te gaan nie.

Nadat Wehmeyer se been van die operasie herstel het, het sy wel ʼn meer positiewe uitkyk begin kry, haarself “opgetel en afgestof”.

“Ek voel nou positief oor alles en dinge gaan goed. Ek dink my kop is nou op ʼn beter plek. Party dae vergeet ek selfs dat ek siek is omdat ek nie die hele tyd daaraan dink nie. Met my pa gaan dit ook op die oomblik beter.

“Ek dink so daaraan: Ek wil nie myself twee keer deur dieselfde situasie sit nie; so dit help nie ek stres voor die tyd oor goed nie. Ek sal dan eerder myself daaroor bekommer wanneer dit gebeur, eerder as voordat dit gebeur. Dit help baie.

“Ek was aanvanklik baie negatief en wou soms moed opgee, maar die mense in my lewe – my ma en my vriendinne – het my deur alles gehelp. Ek het besef ek moet sterk wees vir hulle. Vir hulle part wou ek nie opgee nie.”

Wehmeyer is tans in haar eerste jaar van studies by Akademia waar sy BCom Ondernemingsbestuur studeer. Daarna wil sy graag haar eie sakeonderneming open of ander besighede help om hul sakemodelle te verbeter.

“Ek is dalk siek, maar ek is nie sieklik nie. Ek sal nie dat hierdie siektes my onderkry nie, want die oomblik wat ek dit begin doen, sal dit net ʼn afwaartse spiraal veroorsaak. Ek is nog so jonk, ek kan nie nou ophou veg nie; ek het nog so baie om voor te lewe,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Boerkind ·

Vasbyt Desiré! Hoe moed en vertrou ook die Here…. Jy is ‘n wenner!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.