Student se snikke word trane van blydskap

prof-susan-smith

Prof. Susan Smith, hoof van die departement Afrikaans by Fort Hare Universiteit.

Wat staan mens te doen wanneer ʼn student al snikkend voor jou staan omdat sy nie haar klasgeld kan bekostig nie?

Prof. Susan Smith, hoof van die departement Afrikaans by Fort Hare Universiteit, het haar gisteroggend in dié hartverskeurende situasie bevind toe een van haar derdejaarstudente haar in kennis stel dat sy nie die nodige studiegeld het om verder klas te loop in die vak Afrikaans nie.

“Mens se hart breek, want daar is soveel studente wat swaar kry. Hierdie een geval is maar net die punt van die ysberg. Ons universiteit is in ʼn arm provinsie en ons het te kampe met baie agterstande en uitdagings,” sê prof. Smith.

Dié student, wat verlede jaar onderskeidings in al haar vakke verwerf het, is ʼn voornemende onderwyseres en prof. Smith meen die student is nie net hardwerkend nie, maar ook passievol oor Afrikaans.

Dié dosent het haar daaroor uitgespreek op sosiale media: “Dit is die jongmense wat onderwysers gaan wees, wat wil terug na die plattelandse bruin gemeenskappe vanwaar hulle kom om Afrikaans te gaan gee. Dit is die mense met ʼn passie en liefde vir Afrikaans. Hoe kan ons toelaat dat hulle verlore gaan?” skryf sy op Facebook.

Die reaksie was oorweldigend. Net mooi 18 uur ná haar Facebook-plasing was die student se klasgeld reeds vir die jaar gedek en daar was ook aanbiedinge om ander studente te help. Dit is veral mense in die literêre wêreld wat vurig geraak het om die student by te staan.

“Dit lyk my julle het nie net een student met so ʼn probleem nie. Protea Boekhuis sal hierdie student se klasgeld vir Afrikaans vir vanjaar en daaropvolgende jare dek, maar jy moet al hierdie welwillendheid mobiliseer om nog so twee of drie ander studente ook te help.” So skryf Nicol Stassen, besturende direkteur van Protea Boekhuis.

Vele ander soos skrywer Etienne van Heerden, joernalis Ingrid Glorie, dr. Danny Titus van die ATKV en Elzilda Becker, redakteur van De Kat-tydskrif het beloof om dié inisiatief te ondersteun.

“Dit is ongelooflik. Ek is geweldig dankbaar,” sê prof. Smith. Sy is oorbluf oor mense se reaksie en sê dit is wonderlik om te sien hoe passievol ander mense is en dat dié student hulle harte óók geraak het.

‘n Prokureursfirma in Oos-Londen het hul dienste gratis aangebied om ‘n opvoedkundige trustfonds te stig, te administreer en toe te sien dat ouditering geskied.

“Mens kan nie almal help nie, maar hierdie student het voor my gestaan. Sy was op my pad.”

Betalings kan gemaak word in die volgende rekening:

  • MM Jordaan Prokureurs Inc
  • FNB Vincent (tak nr 211 021)
  • Rek nommer: 62109550641
  • Gebruik die volgende verwysing: AFR.UFH en jou naam.

Stuur ‘n e-pos na [email protected] ter bevestiging van deposito ter wille van boekhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Phillip ·

Wow,
Dit is ‘n brokkie goeie nuus…
Ek vertrou dat die goeie nuus sal uitkring en die donker slegte nuus sal oorskadu!

jorie ·

Dis nou mooi. Baie wyse woorde: “mens kan nie almal help nie, maar hierdie student was op my pad” So waar.

Adri ·

Dit moet eintlik wees: “‘n Mens …”. Saakwoorde word deur lidwoorde voorafgegaan.

Bekommerd ·

Dit is lekker om ‘n artikel soos die te lees. Baie dankie vir die wat omgee en dit wys deur hul aksies.

Dankbaar ·

Baie dankie vir hierdie opheffende artikel. Wonderlik om dit te lees tussen al die geweld en hartseer!

Grens ·

Jollie patrollie, wat ‘n bitter antwoord gee jy. Ja DUISENDE sukkel, maar vir daai een student maak dit nou ‘n verskil. Goeie dinge begin nie by duisende nie maar by een wat help en gee en so weer kan vorentoe ‘n verskil maak.
Ek is bly vir die student, en ek hoop vir haar ‘n groot toekoms!!

geeom ·

Shoe!!! Van al die negatiewe wolkies nuus…. kom daar n positiewe lig wolkies … n helpende hand sal opreg gewaardeer word deur te gee en daai mens se hartjie weer moed te gee om weer aan te gaan!!! Dankie Prof Susan .. u are a blessing …. ek maar net n mama wat nuus lees..

Waarheid ·

JPatrollie ja ja ja stem saam. As jy gewoond raak aan kry kry kry word dit 2de natuur en WAARDEER, RESPEKTEER jy al minder. Dis bewys.

Karma ·

Wat maak studente met hul NSFAS-gelde en wat het geword van werk terwyl hul studier, soos ons desjare gedoen het – gaan ‘waiter’ maar by ‘n restaurant so tussen-in die studies deur.

Helene Smit ·

Fantastiese prokureurs! Passievol oor Afrikaans. Viva M!

Magda ·

Lekker om te lees, en baie dankie aan almal wat gehelp het en wat nog gaan help.

Bernice ·

Dit is hoe ons dit moet doen , mekaar help , want saam staan is sterk staan.

Baie geluk dat jy met jou studies mag aangaan.

E.K. ·

Protea Boekhuis ek sal julle ook nou sommer ondersteun omdat jul dadelik reageer het. Gaan ook sommer nou paar randjies oorbetaal

E.K. ·

O, en ja, weereens DANKIE Maroela wat altyd sulke goed onder ons aanag bring. Hoe anders sal mens so persoon/projek kan ondersteun as dit nie was vir jul berigte nie! Dankie!

sarie ·

ek weet presie hoe voel daai kind. ek sit ook met so kind wat 2de jaars is en wat akademie goed presteer. haar finansieel sukkel ek baie om haar regstrasie geld te betaal. die betrokke universiteit trek hulle skouers op en dring aan om die gelde te betaal anders kan sy nie regsitreer nie. my kind kry 5 onderskeidings maar daarna word nie gekyk nie.

magda ·

Ai Sarie ek wens ek kon jou help maar ek sukkel reeds met my twee studente- kinders en dit knetter maar. Ek hoop iemand sal probeer om jou kind te help??!!!!

Weet ook hoe dit voel ·

Ek is so bly vir hierdie student wat kan voortgaan met haar studies. En vir dié wat ook gehelp kan word. Ek het ‘n tweeling wat reeds twee jaar terug matriek geskryf het en goed gedoen het. Hulle is verlede jaar en hierdie jaar by die universiteit aanvaar, maar ons kan nie self hulle studiegeld bekostig nie (plus drie kinders se skoolgelde) en kwalifiseer ook nie vir NFSAS of die universiteit se lenings nie. Ons kry ook nie ‘n lening by die bank vir twee se studies nie. Dit breek my hart dat hulle hierdie jaar weer nie kan gaan studeer nie. Hulle wil so graag.

Moedeloos ·

selfde hier. Ons kind nou derde jaar regte student. Goeie punte. Het na matriek by Spur gaan werk om te help met registrasie. Albei volgende Desembers gaan werk vir sy registrasiegelde. Ons het maar deurgeskuur finansieel. Net die Vader weet hoe. Hierdie jaar het ons aansoek gedoen by NSFAS vir hulp maar lyk dis net sommige mense beskore. Hoe se jy vir jou kind jy kan hom nie langer laat leer nie. Jy het dit net nie meer nie. Ek weet Sy genade is vir ons genoeg. Hy sal ons weer deur die jaar help. Sterkte aan al ons kinders wat sukkel. Dis wat van julle sterk mense maak

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.