Nadat die twee studente en naweekmusikante, Julani Visagie en Nicole de Wet, een aand saam by ʼn vriendin se troue gespeel het, het hulle geweet hulle moet die verhoog meer gereeld saam aandurf.
Julani (22), ʼn student in chemie- en polimeerwetenskappe, en Nicole (21), ʼn Bcom bemarking- en bestuurswetenskappestudent, het mekaar by die Kruiskerk op Stellenbosch ontmoet, waar albei in die kerk se musiekgroep speel. Albei is ook studente aan die Universiteit Stellenbosch (US).
Met Julani op kitaar en sang, en Nicole op tjello, het hulle besluit om die groep Arietta te stig en meer gereeld saam begin speel.
Julani vertel die idee om by ouetehuise op te tree het spontaan ontstaan. “My ma is ʼn argitek en sy het vir my een van haar projekte gaan wys, wat ʼn ouetehuis was. Ons het toe die gedagte gekry dat baie van die bejaardes eensaam en verlate is en dat dit net ʼn mooi gebaar sal wees om hul dag of week met musiek op te kikker.”
Julani, wat oorspronklik van Kroonstad afkomstig is, sê sy ry altyd ná die vakansie van die huis af terug universiteit toe. “Ons besluit toe om sommer al langs die pad af by ouetehuise te stop en op te tree,” sê sy.
Van Kroonstad af is hulle Clarens toe en vandaar deur na Ficksburg, Ladybrand en Dewetsdorp. “Ons was deur Bethulie en Graaff-Reinet en nog ʼn hele paar klein dorpies tot op Stellenbosch. Dit was baie lekker!” sê Julani geesdriftig. “Ons motor het 2 300 km op die klok gehad toe ons in Stellenbosch aankom.”
Sy vertel hulle het ʼn Gofundme-bladsy geskep waar mense donasies kon maak om die ouetehuistoer te befonds. “Ons het hier en daar ʼn geldjie by vriende en familie gekry, maar die meeste van wat ons gekry het, was deur die goedhartigheid van vreemdelinge.”
Hulle het nie vir die ouetehuise geld gevra om op te tree nie. “Hier en daar het ons by restaurante en markte vir donasies gespeel. As ons sê wat ons doen, dan gee hulle vir ons geld en sê julle moet seker eet langs die pad, of hier is geld vir diesel of petrol.”
Sy vertel hulle het nie geweet wat om te verwag nie. “Elke oggend was vir ons soos ʼn lucky packet,” lag Julani. “Ons het so lief geraak vir die bejaardes en besef wat werklik belangrik is in die lewe. Dit was heerlik om met hulle te gesels, en hulle dra gedurig koffie en koekies aan!”
Die speellys het hoofsaaklik uit ouer musiek bestaan. “Ons het musiek gespeel waarmee die bejaardes kan vereenselwig, en so bietjie gospel hier en daar. Die gunstelingtreffer was beslis Ballad of the Green Beret.
“Interessant genoeg was daar baie meer vroue as mans, en elke keer as ons gesê het: ‘Ons speel dié een spesiaal vir die manne,’ dan het hulle vreeslik opgewonde geraak. Daar was by een ouetehuis ʼn ou oom wat in sy hande begin huil het toe ons die lied speel. Dit was baie emosioneel,” vertel Julani.
“Die toer hou vir my baie spesiale oomblikke en herinneringe in. Ons beplan reeds aan ons volgende toer. Ons het net besef ons het hier begin met ʼn ding wat nie net een keer kan gebeur nie.”
Dierbaar van julle. Geseend sal julle beslis wees
Wonderlik. So dankbaar dat daar nog sulke jonges is wat omgee vir bejaardes. God seën jul.