Studente help kwesbares met loopbaankeuses

Anton Smith, die voorsitter van die Afrikaanse Toekomstrust (ATTSA). (Foto: verskaf)

Twee dinamiese vroue wat finalejaarstudente in maatskaplike werk aan die Universiteit van Pretoria is, het ’n projek van stapel gestuur om minderbevoorregte tieners met beroepsvoorligting by te staan.

Carice Rossouw en Alicia Vermaas, die twee studente, het hande gevat met Anton Smith, die voorsitter van die Afrikaanse Toekomstrust (ATTSA), die Louis Botha- en Jakaranda-kinderhuise om die Let’s Work It Out-projek van stapel te stuur.

Die projek is tydens ’n onlangse geleentheid by die ATTSA se kantoor bekendgestel en talle verteenwoordigers was daar om dit by te woon.

“Ons het agtergekom dat wanneer kinders uit die kinder- en pleeghuise trek, hulle dikwels geen heenkome het nie. Hulle beland op straat, dit werk nie,” het Smith tydens die geleentheid gesê.

Hy het verder benadruk dat sonder behoorlike beroepsvoorligting, maak dit nie werklik saak watter stelsels in plek gestel word om die kinders van die straat af te hou nie.

Dié projek is juis geskep om tieners op ’n volhoubare en realistiese manier by te staan om die regte loopbaankeuses te maak.

Carice Rossouw en Alicia Vermaas, die twee flukse studente. (Foto: verskaf)

“Ons het besef dat ons die kinders in ’n vroeë stadium gaan moet begin evalueer. Sorg dat daar vir hulle beurse is, sorg dat daar vir hulle ’n toekoms is.

“Almal gaan nie dokters en vlieëniers word nie, en dis oukei. Wat ook al jy gaan word, wil ons vir jou die geleentheid gee om die beste te wees wat jy kan wees.”

Nie net bied dié projek broodnodige beroepsvoorligting wat die kinders nie noodwendig onder normale omstandighede sou hê nie, dit kweek hoop dat daar vir elkeen ’n opwindende toekoms voorlê.

“Ons wil seker maak dat daar werksgeleenthede is. Ons wil seker maak dat die mense wat ons voorstel vir dié werksgeleenthede die regte mense is met die regte opleiding en houding.”

Inligtingsessies word as deel van die projek gehou om van gr. 10-leerlinge tot 23-jariges in te lig oor moontlike kursusse, lenings, vervoer en verblyf. Hulle sal ook touwys gemaak word oor onder meer hoe om ’n CV op te stel en hoe hulle hulself moet handhaaf tydens werksonderhoude.

Daar sal op 3 September vanjaar ’n loopbaanekspo gehou word waartydens rolspelers verskillende beroepsvelde aan die kinders bekend sal stel.

Verteenwoordigers van Akademia, Agri Colleges en People Dimensions is genooi om deel te raak van die netwerk van helpende hande wat betrokke kan raak by die loopbaanekspo.

  • SMS HELP na 40112 of stuur ’n e-pos na [email protected] indien jy ’n bydrae wil maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.