Studente leer by ‘Katbosbult’-span meer oor radio

Studente van Performing Arts Life Institute (Pali) by die opnames van Maroela Media se nuwe radiovervolgverhaal, ‘Katbosbult’, gekry. (Foto: Verskaf)

Dit was vir studente van Performing Arts Lifestyle Institute (Pali) ʼn verreikende ervaring om die afgelope week eerstehands te ervaar hoe ʼn radioteks lewe agter die mikrofoon kry.

Dié studente het ʼn kykie agter die skerms by die opnames van Maroela Media se nuwe radiovervolgverhaal, Katbosbult, gekry.

Hulle het by die gedugte span, Bettie Kemp en Joe Kleinhans, geleer hoe die proses om ʼn radiodrama te vervaardig eindelik deurgevoer word. Bettie is die regisseur en vervaardiger van die vervolgverhaal, terwyl Joe die teks geskryf het.

Een van die studente, Diandra Slabbert, sê dit is veral die samewerking tussen die akteurs, wat haar opgeval het.

“Dit is werklik nogal ongelooflik om te sien hoe die akteurs, wat van my lektors insluit, in die algemeen saamwerk. Byklanke wat net daar gemaak en opgeneem word, saam met al die ander teorie wat ons in die klas geleer het, word in werklikheid toegepas en bymekaar gebring.”

Elicia Shirinda meen weer dit was leersaam om deur die skryfproses te werk en te leer hoe om ʼn radioteks in iets te omskep wat deur luisteraars ervaar kan word.

Studente van Performing Arts Life Institute (Pali) by die opnames van Maroela Media se nuwe radiovervolgverhaal, ‘Katbosbult’, gekry. (Foto: Verskaf)

Die akteur Luan Jacobs, lektor by Pali wat die radiomodule aanbied, het vir die reëlings van hierdie besoek gesorg. Hy sê dit is ʼn wonderlike geleentheid om vir aspirantkunstenaars ʼn kykie in die binnewêreld van radio te bied.

Kaz McFadden, besturende direkteur van die instituut wat ook in Katbosbult speel, verduidelik dat Pali ʼn spreekwoordelike broeikas vir jong talent is.

“Dit is nie ʼn akademiese instelling nie, so die kursus is nie geakkrediteer nie. Die idee is dat jong spelers inkom en vir drie jaar saam met professionele mense in die industrie werk. In dié tyd bou hulle verhoudings in die plaaslike vermaakbedryf en hulle ontwikkel belangrike, toepaslike vaardighede.

“Ons is dankbaar vir Maroela Media en Bettie Kemp wat vir hierdie studente die geleentheid gee om hulle radiovaardighede in praktyk te slyp. Bettie en Joe is van die beste persone in die bedryf om by te leer.”

Bettie sê die opleiding van die 20 studente wat oor twee dae kom leer het, is uiters belangrik vir die toekoms van die plaaslike radiobedryf.

Studente van Performing Arts Life Institute (Pali) by die opnames van Maroela Media se nuwe radiovervolgverhaal, ‘Katbosbult’, gekry. (Foto: Verskaf)

“ʼn Jaar of wat gelede het Luan vir my van sy betrokkenheid by Pali vertel. Ek het vir hom gesê dat daar ʼn behoefte is aan studente aan wie ons ons kundigheid kan oordra. Daarom het ons besluit om hierdie studente te nooi om te kom insit en te sien hoe ʼn radiodrama in die praktyk aanmekaar geweef word.”

Vir Joe gaan dit ook daaroor om sy jare lange ondervinding en kennis aan ʼn volgende generasie oor te dra.

“Dit is heerlik om met jonger kunstenaars te werk. Ek verstaan hulle hartklop, waar hulle in hulle loopbane is, en al die vrae waarmee hulle sit. Dit is vir my wonderlik om op ʼn beskeie manier iets terug te gee aan ʼn bedryf wat my baie ryklik beloon het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.