Studente, leerders baat by ‘Ek KAN lees’-projek

Met die “Ek KAN lees”-projek bied onderwysstudente taalsteun aan sowat 360 leerders van drie skole in die Stellenbosch-omgewing. (Foto: Verskaf)

Die “Ek KAN lees”-geletterdheidsprojek, deur dr. Zelda Barends van die Universiteit Stellenbosch (US), beoog nie net om die geletterdheidsvlakke van grondslagfaseleerders te verbeter nie, maar ook om voornemende onderwysers te leer hoe konteks hulle onderrigbenadering kan en behoort te beïnvloed.

“Kinders se vroeë geletterdheidsontwikkeling in Suid-Afrika is nog maar beperk, moontlik vanweë taalongelykhede en ander maatskaplike kwessies,” meen Barends. “Mense onderskat ook dikwels wat lees behels. Die leesaksie hang van soveel prosesse af wat vroeg in ʼn kind se lewe ontwikkel moet word. Sodra die kind ouer word, word dit feitlik onmoontlik.”

Hierdie projek het die afgelope vier jaar in ʼn belangrike inisiatief vir maatskaplike opheffing ontwikkel waarby menige jong leerder en onderwysstudent baat vind.

“Die projek bied aan studente uitgebreide blootstelling aan uiteenlopende kontekste, en hulle ervaar hoe verskillende leerders leer, en watter faktore hulle leervermoë beïnvloed,” sê Barends.

Dr. Zelda Barends is ʼn dosent in kurrikulumstudie en grondslagfase-programkoördineerder by die Fakulteit Opvoedkunde. (Foto: Verskaf)

Barends, ʼn dosent in kurrikulumstudie en grondslagfase-programkoördineerder by die Fakulteit Opvoedkunde, het die naskoolse taalontwikkelingsprogram vir grondslagfaseleerders (graad 1 tot 3) saamgestel om te help om Suid-Afrika se enorme geletterdheidskrisis op laerskoolvlak die hoof te bied.

“Ek KAN lees” vul die bestaande kurrikulum aan en bestaan tans uit 77 onderwysstudente wat taalsteun aan sowat 360 leerders van drie skole in die Stellenbosch-omgewing bied. Lesse handel oor geluidsleer en woordbou.

Terselfdertyd bied die program onderwysstudente ook ʼn platform om kultureel responsiewe onderwysers te word. Studente moet hulle onderrigmetodes na gelang van die uiteenlopende kontekste en behoeftes in die klaskamer aanpas.

Maties wat studeer om Afrikaans Huistaal in die grondslagfase aan te bied, onderrig die leerders twee maal per week. Dit duur vir 11 weke in die eerste semester van die studente se BEd-vierdejaarstudie. Sover het studente positief op die “Ek KAN lees”-projek gereageer.

“Ek het bewus geword van hoe belangrik dit is om sosiaal-emosionele bande met my leerders te vorm. Om leerders, hulle gesinne en huislike omstandighede te leer ken maak nou deel uit van my daaglikse onderrigpraktyk,” sê Emma Smit, wat tans ingeskryf is vir haar MEd-studie. Sy noem dat die projek haar ganse benadering tot onderrig verander het en sy glo onderwysers kan net suksesvol wees as daar ’n gemeenskapsgevoel is wat verder as die vier mure van die klaskamer strek

Jacolette du Plessis, ’n alumna wat in haar finale studiejaar aan “Ek KAN lees” deelgeneem het, sê dit was uitdagend, maar die moeite werd.

Leerders se storieboeke wat deur die “Ek KAN lees”-projek verskaf word. (Foto: Verskaf)

“Ons het baie waardevolle onderrigtegnieke geleer, en besef dat elke leerder uniek is, met sy of haar eie verhaal. Baie leerders het met daaglikse uitdagings te doen, van onbetroubare busvervoer tot te min kos, ʼn ouerlose huis, boelies, alkohol, dwelmmiddels, mishandeling, geweld, en nog baie meer.”

Du Plessis voeg by dat sy nou ʼn ander benadering volg tot die hulpbronne wat sy vir haar klaskamer kies en maak: “Ek put vreugde daaruit om na tekste te soek wat my leerders, hulle omstandighede en persoonlike ervarings weerspieël.”

Barends glo die projek help stadig maar seker om die kinders se geletterdheidsvlakke te verbeter. Terugvoer dui op ʼn mate van verbetering in deelnemende leerders se skoolwerk, veral hulle vermoë om beskrywende sinne te skryf.

“Mense moet kan lees om ten volle in die samelewing te funksioneer. Deur leerders se leesvaardighede te verbeter, kry hulle toegang tot beter onderwys, wat ’n volhoubare impak op die samelewing het,” sê Barends.

Sy hoop die projek sal verder uitbrei en dat ʼn vennootskap met die departement van basiese onderwys hulle toegang tot meer skole sal bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Adam Adriaan ·

Hulle moet begin by die kabinet en ook somme byvoeg, want ek sien hulle kan nie somme maak nie

Mallie ·

Kleintjies wat graad een toe gaan moet kan lees!!! Van wanneer af? Genade die arme kinders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.