Rentevrye studielenings nou beskikbaar vir Skryfnet-kursus

Riaan Grobler (l) en Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand (Foto: Phillip Bruwer/Helpende Hand)

Skryfnet, ʼn projek deur Maroela Media en Akademia, wil jou help om te woeker met die woorde wat jy wil skryf, maar wat nie op papier gestalte wil kry nie. Skryfnet het ten doel om jou te help om jou woorde te slyp – of dit nou ʼn storie, ʼn mediaverklaring, ʼn toespraak of ʼn biografie is wat jy wil neerpen.

Die eerste kursus Inleiding tot Kreatiewe Skryfkuns, skop reeds op 1 April af. Registrasies vir hierdie kursus het reeds oopgemaak. Hierdie kursus strek oor agt weke en jy gaan sowat vyf ure per week opsy moet sit. Die koste vir die eerste kursus beloop R2 800 (jy betaal slegs R2 400 as jy voor 15 Maart inskryf).

Dié kursus se lesings word aangebied deur prof. Hans du Plessis, bekroonde skrywer en emeritus-professor van die Noordwes-Universiteit.

Praktiese leiding aan kursusgangers word gefasiliteer deur François Bloemhof, bekroonde skrywer van “iewers oor die honderd” boeke vir volwasse, tiener- en jeuglesers. Hy is ook ʼn vryskut-taalpraktisyn en -redakteur en was al verhaleredakteur by Sarie en boekeredakteur by Die Burger. François sal alle kursusgangers se skryfwerk evalueer en tydens die kursus terugvoer oor hul werk gee.

Die skryfskool se kursusse sal hoofsaaklik digitaal aangebied word, en steun sterk op Maroela Media en Akademia se gevestigde aanlyn aanbod.

By geleentheid sal sommige van die kort kursusse ook as kontakkursusse aangebied word. ʼn Kursus in toespraakskryf (gerig op skoolkinders wat aan redenaarskompetisies deelneem en hul onderwysers/afrigters), asook ʼn kursus in die skryf van mediaverklarings volg kort op die hakke van die eerste kursus.

Inleiding tot Kreatiewe Skryfkuns sal ook in gebaretaal beskikbaar wees om die videosessies meer toeganglik te maak. Dit is ʼn proeflopie om vas te stel of ons daardeur die gehoorgestremde gemeenskap ook by die kursus kan betrek.

Knyp die finansies?

Wil jy graag leer skryf, maar die finansies knyp? Helpende Hand het uit die JD Kestell-fonds studievrye lenings vir Skryfnet se kursusse bewillig. Vyf rentevrye studielenings is beskikbaar vir die eerste Skryfnet-kursus.

Riaan Grobler, ʼn omroeper van Pretoria FM, is die eerste ontvanger van een van dié rentevrye studielenings. Hy het Woensdag sy eie gebak aan Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand oorhandig (sien die video onderaan hierdie artikel).

“Ek is super opgewonde daaroor, ek kan nie wag om met die kursus te begin nie,” het Riaan gesê.

Die rentevrye studielenings word beskikbaar gemaak aan goedgekeurde kandidate en die bedrag sal teen R200 per maand terugbetaalbaar wees in 14 paaiemente (oor ʼn tydperk van 14 maande).

Doen aansoek vir ʼn rentevrye studielening

Jy kan aansoek doen vir ʼn rentevrye studielening! Kandidate sal op meriete gekies word. Stuur vir ons jou motivering hoekom jy wil aansoek doen vir ʼn rentevrye lening asook ʼn kortverhaal wat jy self geskryf het per e-pos na [email protected]. Daar is geen riglyne vir die tema of lengte van jou kortverhaal nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.