Studiedrome word bewaar danksy Mej. SA-beurs

Natasha Joubert, Mej. SA 2023 by Boston City Campus. (Foto: Verskaf)

ʼn Diverse groep van 31 studente van oor die hele land het vandeesweek die eerste ontvangers van Natasha Joubert, Mej. Suid-Afrika 2023, se opvoedkundige inisiatief, The Natasha Joubert Collective (NJC), geword.

Dít volg nadat Joubert verlede jaar ʼn vennootskap met haar alma mater, Boston City Campus, aangegaan het wat 16 studente van 18 jaar en ouer toegelaat het om beurse vir ʼn jaar lange aanlyn akademiese kursus deur die Boston City-kampus te voltooi.

Nou kry ʼn bykomende 15 voornemende studente die geleentheid om hul beroepsdrome te bewaarheid danksy ʼn hupstoot vanaf The Study Buddy Fund na die NJC. Kursusse soos hoër sertifikate in regsassistentwese, bemarking, finansiële beplanning, grafiese ontwerp, televisieproduksie en vele meer is toegeken.

Die donkerkopskoonheid het egter reeds voelers na Boston City Campus uitgesteek nog voor haar geskiedkundige Mej. SA-oorwinning.

Tot dusver is nagenoeg R1,5 miljoen se beurse beskikbaar gestel en volgens Natasha gaan sy dit volhou selfs nadat haar kroningsjaar verby is.

“Ek dink daardie aspek van die kompetisie het eens op ʼn tyd ʼn bietjie verlore geraak. Daarom het ek iets gekies wat my nie net na aan die hart lê nie, maar waarvoor ek werkbare oplossings kon bied,” het sy in ʼn onlangse onderhoud aan Maroela Media gesê.

Joubert voeg by dat sy oorweldig was deur die aantal inskrywings wat ontvang is en diep geraak is deur die motiveringsbriewe wat die inskrywings vergesel het.

“Dit was ongelooflik moeilik om die beursontvangers te kies, aangesien opleiding nooit ʼn voorreg behoort te wees wat beperk is nie. Ek is verheug dat ons ʼn klein rol kon speel in die transformasie van 31 lewens met hierdie studietoelaes en ek sien uit daarna om te hoor wat hulle in die jare vorentoe bereik.”

George-inwoner Shandré Marais gaan binnekort haar beurs gebruik om web- en grafiese ontwerp te studeer.

“Ek wil graag die NJC bedank vir die geleentheid, asook die eer om deel te wees van die eerste groep om dié beurse te ontvang. Ek wil ook ʼn groot dankie sê aan Mej. Suid-Afrika en Boston City Campus. Om deel te wees van die klas van 2024 laat my ongelooflik geëerd en geseënd voel.”

Danksy dié geleentheid sal Stacy Govender van KwaZulu-Natal die eerste persoon in haar gesin word wat tersiêre opleiding ontvang. Sy gaan ʼn regsassistentskursus voltooi.

“Dit is vir my moeilik om te verduidelik wat hierdie geleentheid vir my beteken. Daar is nie veel vrouebemagtiging in my gemeenskap nie. Danksy die geleentheid wat Natasha my gebied het, hoop ek om vir jong vroue te wys dat dit moontlik is om jou lewe te verander en jou drome te bereik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.