Studiefonds gedenk seuntjie se lewe

Christo Engelbrecht. (Argieffoto)

Die Christo Engelbrecht-studiefonds vertel die storie van ’n driejarige seuntjie wat nooit groot geword het nie weens ’n tragiese misdiagnose ná ʼn lumbale punksie. Dit is vanjaar vyf jaar sedert Christo se dood.

Christo se ouers en die gesin se kerk, die Gereformeerde Kerk Innesdal in Pretoria, het die studiefonds gestig met die doel om ʼn jong mens met studiefinansiering by te staan. Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum hanteer die administrasie van die fonds.

“Christo is op 5 November 2015 dood en ons wou graag sy lewe op ʼn uitsonderlike wyse gedenk. Ons hoop om met hierdie studiefonds ʼn passievolle jong mens te help om ʼn spesialis te word sodat hy of sy deur Christo se storie ander kindertjies se lewens kan red en kan verhoed dat ander ouers hierdie seer pad moet stap,” sê Marisa Engelbrecht, Christo se mamma.

“Ons glo aan die toekoms. Ons glo ook dat ons kinders se kinders, en nog verder, jare ná ons nog hier gaan wees. Om hierdie rede glo ons aan die opleiding van ons kinders, sodat hulle die beste moontlike toekoms kan aangryp. Maar om ʼn toekoms te kan hê moet hulle opgroei tot volwassenes,” sê Louis Engelbrecht, Christo se pappa.

“Daarom is dit belangrik dat bekwame, kundige en passievolle pediaters opgelei moet word om ons klein mensies gesond te hou.”
Christo se storie het destyds talle mense se lewens aangeraak. Daar was bidgroepe vir hom in die VSA, Engeland, Duitsland, Nieu-Seeland, Australië en natuurlik hier in Suid-Afrika.

Die Gereformeerde Kerk Innesdal het onderneem om ʼn gemeenskapgroentetuin te onderhou wat geld sal insamel om die beurs volhoubaar te befonds.

Dr. Wikus Buys, predikant van gemeente, sê: “Vir ons as gemeente beteken hierdie studiefonds baie. Daardeur beleef ons dat die Here se beloftes die een geslag aan die volgende geslag bind, omdat die Here Homself aan ons verbind het.”

Christo en sy ma Marisa Engelbrecht. (Argieffoto)

Die Christo Engelbrecht-studiefonds is beskikbaar vir ’n passievolle jong mens wat met deernis tot alle uithoeke sal gaan om vir die lewe van ’n kind te veg. Dié kandidaat moet opgelei word as pediater, pediatriese ISE-spesialis of pediatriese neuroloog. Dit moet ’n Afrikaanse jong mens wees met ’n sterk Christelike roeping, en vandag, op hierdie vyfde herdenking, nooi Engelbrecht-gesin jong mense om aansoek te doen vir hierdie studiefinansiering.

Vir die Engelbrechts is die studiefonds ʼn manier om hulle glimlaggende seuntjie se hartseer verhaal te omskep in een wat hoop vir ʼn gemeenskap gee, en ʼn gesonder toekoms vir alle kinders in Suid-Afrika te help verseker.

Jong mense wat belangstel word genooi om Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum by [email protected] te kontak om aansoek te doen.

Vir meer inligting oor die studiefonds, besoek www.studiefonds.christoengelbrecht.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sandra ·

Hy het die oulikste ou glimlaggie gehad. Dis dierbaar van julle om sy naam op so ‘n wyse te vereer.

Moedeloos ·

Daai bolle wange sê als. Ai ouma se kind jy sal ander kindertjies se hartjies bly maak met die studiefonds. Hierdie ouma sou opgevreet het met jou oulike glimlaggie.

Janine ·

Rooiwang liefkind! So jammer vir jul seer. Mag daar iets wonderlik plaasvind met hierdie studiefonds.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.