Studiefonds skep hoop vir duisende studente

studeer-student-boeke-lees

Foto: Pixabay/Pexels.com

Daar is ʼn blink toekoms vir jong mense in Suid-Afrika wat wil gaan studeer, selfs al kan studente of hulle ouers dit nie finansieel bekostig nie.

Solidariteit Helpende Hand se studiefondssentrum kan steeds enkele studente met studiehulp help wat in 2018 by Akademia wil gaan studeer. Die sentrum het ook ʼn ad hoc-fonds wat studente kan bystaan wat in dringende nood verkeer en aansoeke vir dié soort studiehulp kan reg deur die jaar gedoen word.

“Die JD Kestell-fonds is juis daar om ʼn student by te staan wat sy of haar ouers in ʼn plaasaanval verloor het, of wie se huis afgebrand het of dalk vinnig ʼn vragmotorlisensie moet bekom as deel van sy of haar beroepsopleiding,” het Stefan Pieterse, hoof van die studiefondssentrum, verduidelik.

Volgens Pieterse het die sentrum sedert 2009 reeds 6 981 studente finansieel gehelp deur rentevrye studielenings aan hulle beskikbaar te stel om hulself tersiêr te bekwaam.

“Teen die agtergrond van die hele #FeesMustFall-beweging en die Hefer-kommissie se bevindinge oor gratis tersiêre opleiding glo ons by die studiefondssentrum dat klasgelde nie moet verval nie, maar dat die gelde eerder hiervoor gevind word,” het Pieterse gesê.

Die studiefondssentrum bied ook ʼn platform waar donateurs studente kan help om te studeer, sonder dat die donateurs met die administrasie van universiteite bemoei word. Die sentrum verskaf ʼn verslag twee keer per jaar aan die donateurs om terugvoer te gee oor die geld in die studiefonds.

Ná afloop van ʼn student se studie word die geld waarmee ʼn student gehelp is ingevorder en weer in die donateur se studiefonds teruggeploeg om die volgende student mee te help.

“Aan die student se kant het ons ʼn aanlynstelsel ontwikkel waarmee studente van reg oor Suid-Afrika aansoek kan doen vir studiehulp, hetsy beroepsopleiding of tersiêre studie. Ons verwerk dan al hierdie aansoeke op grond van behoefte en prestasie en lê dan hierdie student aan ons donateurs voor vir studiehulp,” het Pieters gesê.

Die studiefondssentrum administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens donateurs, waarin meer as R126 miljoen oor die laaste nege jaar aan studiehulp uitbetaal is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.