Studieprojek: Help só om inheemse plantegroei te beskerm

Hulbert wil met sy projek inheemse plantegroei beskerm (Foto: Verskaf)

ʼn PhD-student aan die Universiteit van Pretoria en navorsingsgenoot aan die Universiteit Stellenbosch wil plantegroei op Tafelberg in die Wes-Kaap beskerm deur piepklein plantdodende organismes uit ander lande uit te roei.

Joey Hulbert het vandeesweek ʼn versoek aan Kaapse inwoners gerig om op te let watter plante in hul omgewing doodgaan en dan grondmonsters daarvan te neem sodat hy uiteindelik die organismes in die Kaapse fynbosgebiede kan identifiseer.

Hulbert is tans besig om ’n inventaris op te stel van die soorte Phytophthora-spesies – Grieks vir plantvernietigers – wat in dié fynbosgebiede voorkom.

“Spesies in hierdie groep is mikroskopiese organismes wat bekend is daarvoor dat hulle plante besmet en kan doodmaak,” vertel hy. “Hierdie organismes is geensins skadelik vir mense nie – net soos nie alle mikro-organismes skadelik is vir die natuur nie.

“Voorbeelde soos mikorrisas (swamwortels) en stikstofbindende bakterieë help plante om water en voedingstowwe te kry, terwyl ander help om dooie plante te herwin,” verduidelik hy. “Die plante in die fynbos het byvoorbeeld oor millennia geleidelik ’n natuurlike vennootskap of balans met die mikrobes wat van nature in die Kaapse Blommestreek gevind word, ontwikkel.”

As deel van sy navorsing het hy reeds inligting van onder meer die Stellenbosch-berge, Chapmanspiek en Kaappunt ingesamel. Nou is sy visier op Kaapstad, en meer spesifiek Tafelberg, om vas te stel hoeveel Phytophthora-spesies natuurlik daar voorkom en hoeveel is ingebring.

Hulbert wil met sy projek inheemse plantegroei beskerm (Foto: Verskaf)

“My hipotese – of beste raaiskoot gegrond op die bewyse waaroor ek reeds beskik – is dat daar ’n paar spesies in Kaapstadse tuine en op straatbome is wat van elders ingebring is, byvoorbeeld deur die invoer van ornamentele plante. As ons weet wat daar is, kan ons dit vergelyk met die spesies wat tans op Tafelberg gevind word.”

Hy hoop dié navorsing stel vas dat Tafelberg nog “skoon” is van indringer- of vreemde Phytophthora-spesies. “Ons weet van een spesie, Phytophthora cinnamomi, wat vanuit suidoos-Asië kom en nou in Suid-Afrika en Tafelberg gevind word, maar dit kon dalk al 300 jaar gelede gebeur het. Die belangrike deel is egter om die berg se natuurskoon so te hou, want dit is ’n Wêrelderfenisgebied en huisves baie kenmerkende plantspesies wat nêrens anders in die wêreld gevind word nie.”

Phytophthora cinnamomi het vermoedelik al bykans 80 soorte inheemse plante besmet. Vyf hiervan word beskou as uiters bedreig. Kommer bestaan dat soortgelyke spesies ook hul intrek in die Kaapse Blommeryk kan maak.

Só kan jy help

Kapenaars word gevra om Hulbert te help om grondmonsters en dooie plante van enige plek in die stedelike gebied rondom Tafelberg te versamel. Van besondere belang is Houtbaai, Claremont, Groenpunt, Grassy Park, Ottery, Wynberg en Rondebosch. Sommige van hierdie gebiede is naby aan die Kaapstadse hawe, terwyl ander gebiede nog nie nagevors is nie. Spesifieke permitte word benodig om versamelwerk in die nasionale park self te doen.

Hulbert sal dan die monsters in die laboratorium by Universiteit Stellenbosch ontleed om te sien of daar enige spoor van siektedraende Phytophthora-spesies is.

Hy sê hoewel dit nie eenvoudig is om te bepaal of ’n plant weens ’n watertekort of weens die een of ander siekte doodgaan nie, kan daar nie bloot aangeneem word dat plante altyd gevrek het weens ʼn watertekort nie.

Hulbert wil met sy projek inheemse plantegroei beskerm (Foto: Verskaf)

“Só ʼn aanname kan beteken dat ons die teenwoordigheid van ʼn nuwe plantdodende mikrobe kan miskyk. Te midde van die droogte is dit selfs belangriker om te weet watter mikrobes ons plante nadelig raak, want plante wat onder druk is, raak selfs meer vatbaar.”

Wees op die uitkyk

  • Wees op die uitkyk vir plante in jou tuin en buurt wat “siek” Simptome sluit in dooie blare, letsels op blare of stamme, en die afsterf van takke en uitloopsels se punte.
  • Versamel grond en fyn wortels van omtrent drie plekke rondom en onder die plant. Keer dat dit te koud of te warm word.
  • Maak ’n aantekening van die GPS-koördinate of die adres waar dit ingesamel is. Neem dan ’n foto van die plant.
  • Indien moontlik, maak ’n aantekening van watter plante daar naby groei, veral as daar nog plante is wat siek lyk.
  • Steriliseer jou tuingereedskap nadat jy dit gebruik het. Dit verhoed dat monsters besmet word of dat spesies per ongeluk van een gebied na ’n ander gebied versprei word. Borsel of spuit gereedskap met verdunde ontsmettingsalkohol, brandspiritus, seepwater of bleikmiddel.
  • Klik hier en vul die vorm in sodat Hulbert die plante by jou kan afhaal. Vir meer inligting, besoek Facebook of nader Hulbert by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elizabeth ·

Hoor-hoor!!!Dis nou nuus!! Ons het meer nuus soos hierdie nodig!! Positiewe, opbouende, intelligente artikel. Baie geluk aan die skrywer!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.